‘n Hart wat God Waardeer

David Wilkerson (1931-2011)

Ons sien in 1 Samuel 13 waar Saul ‘n kritieke oomblik beleef het wat elke gelowige uiteindelik moet konfronteer: ‘n krisistyd waartydens ons gedwing word om te besluit of ons op God gaan wag deur geloof of ongeduldig word en sake in ons eie hande neem.

Saul se deurslaggewende oomblik het gekom toe onheilspellende oorlogswolke oor Israel saamgetrek het. Die Filistyne het 'n groot leër van ruiters, ysterwaens en legioene soldate versamel wat die nuutste wapens gehad het. Daarteenoor het die Israeliete slegs twee swaarde in hul hele leër gehad, een vir Saul en een vir sy seun Jonatan. Al die ander moes tydelike wapens soos houtspiese of plaasgereedskap gebruik.

'n Week vroeër het Samuel Saul gewaarsku om op hom te wag voordat hy die stryd aangaan. Die profeet het gesê dat hy na sewe dae sou opdaag om die regte offers aan die Here te bring. Toe die sewende dag aanbreek en Samuel nie opdaag nie, het Saul se soldate begin wegloop. Nog erger, die koning het nie God se leiding vir die stryd gehad nie.

Watter benadering het Saul gevolg?

Ongelukkig het hy toegelaat dat hy oorweldig word deur sy omstandighede, en hy het uiteindelik sy weg rondom God se Woord gemanipuleer. Hy het die priester wat teenwoordig was, beveel om sonder Samuel die offerande te bring en 'n ernstige sonde teen die Here begaan deur dit te doen (sien 1 Samuel 13: 11–12).

God is nooit te laat nie. Hy is steeds begaan daaroor of sy volk hierdie opdrag gehoorsaam: “Gehoorsaam die stem van die Here, en moenie wederstrewig wees teen die Here se gebod nie” (sien 1 Samuel 12:13-15). Selfs as dinge hopeloos lyk, moet ons nie met vrees optree nie. Ons moet eerder geduldig op Hom wag om ons te verlos soos sy Woord belowe.

Ons God sien elke detail van jou krisis raak. Hy sien al die lewensprobleme wat jou verdruk. En Hy is deeglik daarvan bewus dat jou situasie daagliks erger word. Diegene wat met kalm geloof tot Hom bid en op Hom wag, is nooit in werklike gevaar nie. Beskou hierdie woorde wat God aan sy kerk gegee het: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6) en “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons” (Psalm 62:9).

Ongeloof is dodelik, die gevolge daarvan tragies. Ons staar ernstige gevolge in die gesig as ons probeer om onsself van ons beproewinge te bevry in plaas daarvan om God te vertrou om ons daardeur te dra.