‘n Gevaarlike Liefde vir die Wêreld

Gary Wilkerson

Eenkeer het ek 'n man ontmoet wat 'n pastoor is in Laos onder 'n streng Kommunistiese regime. Sy kerk is ondergronds en hy was in die tronk omdat hy 'n gelowige was. In daardie land, is die kans byna 90 persent van die tyd dat wanneer jy tronk toe gaan, jy nooit weer huistoe kom nie. Dit is hoe gevaarlik dit is.

As ‘n predikant in Amerika, is daar moontlik meer mense wat my preke aflaai, en ek het moontlik meer geleenthede om in verskillende kerke te preek, maar daardie man oortref alles wat ek al ooit gehad het ten opsigte van sy kennis, openbaring en verhouding met God, omdat hy sterk gestaan het in die louteringsvuur van lyding en swaarkry.

Hier in Amerika waar ons nie onder dieselfde las van vervolging verkeer nie, word die kerk dikwels so maklik en lig en snoesig, en ons praktiese teologie word gemaklik en maklik. As ons nie oppas nie, neem materialisme en vertroosting oor en dan lei dit ons weg van radikale, ware toewyding. Dit laat ons wegbeweeg van die vuur van die geloof, van aan die brand wees vir God.

In sy brief aan Timótheüs, praat Paulus van een spesifieke man wat vanweë die swaarkry van die Here afvallig geword het. “Beywer jou gou om na my te kom. Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessalonika vertrek, Crescens na Galásië, Titus na Dalmasië. Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees” (2 Timótheüs 4:9-11). Aan die einde van Kolossense, word Demas genoem, en Paulus se brief aan Filémon bevat 'n groet van Demas, wat Paulus se medewerker genoem word. Hier het hy egter gesê dat Demas hom verlaat het.

Met ander woorde, hierdie man was lief vir die dinge van hierdie wêreld en wou nie opoffer, ly en swaarkry as deel van 'n radikale volgeling van Christus nie. Daarom het hy vertrek.

Of jy nou in goeie tye is soos ons in Amerika, of op die plek is waar Paulus se waarskuwing dat daar swaar tye oor die aarde kom ‘n werklikheid word, word ons nie uitgesluit van hierdie waarskuwing teen die aantrekkingskrag van die wêreld nie. Maak nie saak wat nie, ons sal waaksaam, ywerig, getrou, op ons knieë wees en ons oë rig op die Woord van God. Die Here vra ons om aan die brand te wees vir Hom, ongeag die tye waarin ons verkeer, selfs al is ons in goeie seisoene en alles is vreedsaam.

Ons moenie toelaat dat ons kompromieë maak wanneer dinge maklik gaan nie, sodat ons nie sal opgee as dinge moeilik gaan nie.