‘n Boodskap vir die Moedeloses

David Wilkerson (1931-2011)

Soveel benoudheid, beproewing en hartseer word veroorsaak deur krankheid, siekte en rampspoed. Daar is soveel lydende gelowiges in die wêreld. Die Bybel sê wel vir ons: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige...” Die volgende frase in hierdie vers verander die betekenis heeltemal: “...maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20, AFR53).

Dawid het uitgeroep: “o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite” (Psalm 132:1). Hierdie godvresende man het baie probleme ondervind. Sy gebed was: “Here, U het ander uit hulle ellende verlos. Moenie van my vergeet nie. Help my. Bevry my!" Die apostel Paulus het ook baie verdrukkinge verduur. Hy het geskryf: “En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God” (Handelinge 20:22-24).

Paulus het bygevoeg: “Maar in alles beveel onsself aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede...” (2 Korinthiërs 6:4). Let op sy beklemtoning hier “met baie geduld”. Het jy geduld verloor in jou ellende? Het jy so moedeloos geraak dat jy by die punt gekom het dat jy jou geloof eenkant toe wil skuif?

’n Herder en sy vrou het vir my geskryf: “Ons is so moedeloos. Ons word so verkeerd behandel en nie waardeer nie. Ons is finansieel verpletter en ons sien baie min vrug op ons arbeid. Ons het gebid, geglo en vasgehou aan geloof; maar nou is ons aan die einde van volharding. Ons wil nie twyfel nie, maar ons het 'n wonderwerk nodig. Ons moet ten minste 'n teken van die goeie sien, sodat ons kan voortgaan.”

Enige woorde wat ek het om die neerslagtiges te bemoedig, lyk onvoldoende, maar hierdie een ding weet ek wel. Ons dien 'n goedhartige en liefdevolle hemelse Vader. Sy Woord sê dat Hy medelye het met ons in ons beproewings en dit is my vaste oortuiging dat Hy vir jou wag om al jou vrese, angs of vrae neer te lê en te vertrou dat Hy jou sal verlos vanweë sy liefdevolle goedhartigheid vir jou.

Hou vas aan die Skrifte en laat geloof in jou hart opkom. God het jou nie vergeet nie.