‘n Ander Soort Dissipel

Gary Wilkerson

Paulus het aan Timótheüs geskryf: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:6-7, AFR53).

Twee hoofstukke later, sê Paulus: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Timótheüs 3:1). Die King James Bible sê “perilous” of “gevaarlike”; dit is waarskynlik ‘n sterker woord. In die laaste dae, sal daar gevaarlike tye oor die aarde kom.

Hoe lyk dissipelskap in tye van onrus en verdrukking? Toe Paulus aan hierdie jongman in 2 Timótheüs geskryf het, was hy in die tronk en het gewaarsku dat gevaarlike tye op die punt was om nie net in die wêreld nie, maar in Éfese losgelaat te word.

Paulus se voorspelling het waar geword vir Timótheüs; dit was nie lank nadat Keiser Domitianus sy hoofstad in Éfese gevestig het nie, dat hy vereis het dat almal wat Éfese besoek, wierook vir hom moes brand. Hulle moes ‘n bietjie as op hulle arm en voorkop sit en daarna sê: “Ek het wierook gebrand vir Koning Domitianus. Dan kon hulle na die markplein gaan waar hulle kos, klere om warm te bly en steenkool om maaltye te kook vir hulle kinders en families kon koop. Tensy hierdie mense aan Domitianus geoffer en die merkteken op hulle voorkoppe of hande geplaas het, kon hulle nie die markplein betree waar al hierdie noodsaaklike voorrade vir alledaagse lewe verkoop was nie.

In die laaste dae, gaan daar moeilike, gevaarlike tye wees, en jy moet rein bly. Jy moet heilig bly, maar dit gaan jou kos. Jy kan nie jou lewe aan afgode offer of aan die heersers van hierdie wêreld nie. Paulus het Timótheüs gevra om ‘n vreeslose gees te hê te midde van ‘n gevaarlike tyd. Hy het in wese vir hom gesê: “Jy moet ‘n ander soort dissipel wees.”

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het ... Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timótheüs 3:14,16-17).

God het belowe om ons toe te rus deur sy Woord. Wanneer ons onsself met ‘n gees, nie van vrees nie, maar van krag beklee en wanneer ons opgelei is in geregtigheid, sal ons voorbereid wees om die dae van goddeloosheid en verdrukking in die oë te kyk.