DEURBRAAKGEBED

David Wilkerson

Jesus het 'n “deurbraakgebed” gebid by Getsémané.

Ek dink aan Jesus se deurbraakgebed as die “laaste gebed.” Met laaste bedoel ek die einde van 'n reeks. Op hierdie stadium was alles beproef en dit was die laaste, of finale, gebed, die een wat berge sou versit en die hel sou laat sidder. Dit was bloot die volgende: “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mattheus 26:39, my klem).

Jesus het opgestaan van smeking en in wese gesê, “Ek het gebid, geween, gevas, alles gedoen. Vader, nou laai Ek die las van my siel af by U, in algehele vertroue. Laat U wil geskied.”

Het jy al ooit hierdie “laaste gebed” voor die Here gebring oor 'n situasie?

  • Ek het gebid, gevas en voorbidding gedoen oor hierdie saak.
  • Ek het gevra, geklop, gesoek en geglo.
  • Wat egter nou gebeur is nie wat ek wil hê nie.
  • Ek dink nie ek kan dit hanteer nie.

 

DIE PLEK VAN RUS

Toe het jy bygevoeg, “Maar U is die Almagtige God, en ek werp alles in U hande. Vader, doen nou wat U wil doen, wanneer U kies om dit te doen. Ek rus in U beloftes aan my.”

Dit is die rus wat vir God se mense oorbly vandag, die rus waarna verwys word in Hebreërs 4. Dit is om in die geseënde belofte van die Nuwe Verbond in te kom, waar God aan ons verklaar, “Ek sal vir jou 'n Vader wees, en jy sal My kind wees.”

Geliefde, totdat jy hierdie laaste gebed gebid het, kan jy nie jou berg versit nie. Maar wanneer jy dit doen, sal God jou oë oopmaak vir iets wonderliks en jy sal nie langer die antwoord op jou gebed misloop wanneer dit kom nie.