DEEL DIE LIEFDE VAN JESUS

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het vir sy dissipels gesê, “Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra” (John 15:16). Toe het hy vinnig hierdie plegtige woorde bygevoeg: “En dat julle vrug mag bly.” Hierdie woorde van Christus is van toepassing op sy dissipels tot op hierdie dag. Hy sê in wese, “Wees seker dat julle vrug blywend sal wees.”

Die woord “vrug” verwys na die werk en bediening van Christus wat sy volgelinge hier op aarde verrig. As ‘n gelowige, is jy uitverkies en aangestel om “die hele wêreld in te gaan en die evangelie van Christus te verkondig” (sien Markus 16:15). Dit beteken om diegene rondom jou te bereik, waar God jou ook al geroep het om jou lewe te leef. Jesus het ook gesê, “Gaan dan heen, maak dissipels” (Matthéüs 28:19). Jy kan dit doen deur ‘n nuwe bekeerling by te staan, te bemoedig en jou kennis van die Woord te deel.

Miljoene mense vul kerkbanke elke Sondag en glo hulle is in God se goeie boekies net omdat hulle by die kerk opdaag. Hulle het egter hulle eie konsep geskep van wie Christus is – iemand net soos hulleself, gevorm deur hulle eie blindheid in plaas van deur God se Woord. Wanneer jy kom en vir hulle sê dat hulle sondaars is tensy hulle hul bekeer en ware lewensverandering maak, kan hulle weerstand bied. Jy kom met die waarheid van die bloed van Christus, ‘n nuwe geboorte, afsondering van die wêreld, ‘n lewe van onderwerping en gehoorsaamheid. Jy kom bied hulle die lewe deur Jesus aan!

Wat ‘n wonderlike geleentheid het ons om die lewegewende waarheid van Jesus aan ander te bied. Maar dit maak nie saak hoeveel ons vertel van die barmhartigheid, genade en liefde van Christus nie, die enigste ding wat die mure deurdring wat opgerig is deur verharde mense, is die teenwoordigheid van Jesus. En dit geskied deur die werk van die Heilige Gees.

“God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timótheüs 2:3-4). Wanneer jy ook al die liefde van Jesus met iemand deel, het jy die versekering dat jy die begeertes van jou hemelse Vader uitleef.