DAAROM, WEES INGETOË

David Wilkerson (1931-2011)

Jy mag dalk nie daaraan wil dink of dit aanvaar nie, maar as jy vasbeslote is om Jesus te volg met jou hele hart, het Satan jou gemerk om jou te verwoes. En hy gaan jou lewe oorval met allerhande probleme.

Die apostel Petrus waarsku, “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid” (1 Petrus 4:7). Met ander woorde, “Daar is nie nou tyd vir ligsinnigheid nie. Jy moet nugter oor geestelike sake word, want dit is nou ‘n saak van lewe en dood.”

Waarom so ernstig wees? Want die einde van die tyd is naby en ons vyand kom teen ons met groter intensiteit. Hy bekruip ons soos ‘n leeu, kruip in die gras weg en wag vir ‘n geleentheid om toe te slaan. Hy wil ons verslind – om ons geloof in Christus heeltemal te vernietig.

Sommige Christene sê ons moenie eers oor die duiwel praat nie en dat vir ons beter sal wees as ons hom net ignoreer. Ander probeer om hom weg te redeneer. Liberale teoloë, byvoorbeeld, argumenteer dat daar geen duiwel, geen hel en geen hemel is nie.

Maar die vyand van ons siele is ‘n werklikheid. Min Bybelse figure word so duidelik en breedvoerig geïdentifiseer en hy gaan nie verdwyn nie. Hy word beskryf as Lucifer, Satan, duiwel, verleier, die bose, indringer, bedrieër, aanklaer, een wat verslind, god van hierdie wêreld, heerser van duisternis en ou slang.

Hierdie uitdruklike beskrywings vertel vir my die duiwel bestaan en ons weet uit die Skrif dat hy ‘n baie werklike mag uitoefen. Hy is juis nou aan die werk op die aarde – in ons nasies, stede, kerke, huise en individuele lewens. En ons kan nie waag om onkundig te wees oor sy metodes en strategië van oorlogvoering teen ons nie.

"Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:8-9).