DAAR IS GENESING IN JOU TRANE

David Wilkerson (1931-2011)

Is jy tans op ‘n vreesaanjaende plek? Voel jy hopeloos, leeg en gestroop van alles? Ek sê vir jou, jou beproewing sal ook verbygaan maar, wat verwag God nou van jou te midde van dit alles?

Miskien is jy bedroef, angstig oor ‘n stryd wat lyk of dit nie wil eindig nie. Jy is neergebuig, meer moedeloos as wat jy nog ooit was. Jou vriende sê dalk vir jou, “Moenie huil en treur nie. Dit toon nie geloof nie.” Maar eintlik, as jy geloof het, is jy in staat om te huil. Jy kan nie lyding vermy nie; trouens daar is genesende krag in jou trane. Jou rouklag het niks te doen met of jy op God se Woord vertrou nie.

Soms sal jy dalk wonder, “Here, wat het ek verkeerd gedoen? Is dit u oordeel oor my?” Jy mag selfs voel om Hom te konfronteer en te huil, “Waarom het U dit laat gebeur?” Ek verseker jou, God gee jou tyd vir daardie vrae. Hy laat toe dat jou vlees sy uitbarstings kry.

Uiteindelik kom die Here na jou toe en sê, “Jy het ‘n reg tot al daardie gevoelens, maar jy het geen rede om My te beskuldig of in twyfel te trek nie. Ek het jou ‘n belofte gegee. Trouens, Ek gee jou alles wat jy nodig het. En jy moet nou daardie belofte in besit neem. As jy dit doen, sal my Woord vir jou lewe en genesing bring wat groter is as enige medisyne, kragtiger is as enige rivier van trane.”

Dwarsdeur die Bybel, vind ons goddelike manne en vroue wat deur erge bewerasies van siel en gees gegaan het. Oor en oor, vra die Psalmis, “Wat buig jy jou neer, o my siel?” (Psalm 42:5). Ook in 42:6 en 12 en Psalm 43:5, sien ons ‘n soortgelyke sentiment.

Die Here verstaan al jou tye van verwarring en twyfel en Hy wag vir jou om na Hom te kyk en Hom te vertrou. “Jy het dit alles uitgehuil en nou wil Ek hê jy moet My vertrou. Gaan terug na my Woord en Ek sal jou deurdra.” Vertrou sy beloftes en laat Hom toe om die vreugde van jou lewe te wees.