CHRISTUS ONS OPGESTANE HERE EN VOORBIDDER

David Wilkerson

“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir julle in te tree” (Hebreërs 7:25).

Wat bedoel die Skrif wanneer dit sê Jesus tree vir ons in? Ek glo hierdie onderwerp is so diep, majestueus en bokant menslike begrip, dat ek sidder bloot om dit aan te spreek. Bybelkenners het verskillende menings oor die betekenis daarvan. Maar geen boek of kommentaar het my tevrede gestel in my soektog nie. Hoe meer lering ek in werklikheid hieroor lees, hoe meer verwarrend klink dit.

Deur gebed en vertroue op die Heilige Gees se leiding, het ek egter ‘n bietjie begin verstaan oor hierdie ontsaglike onderwerp. Deur baie eenvoudig te bid, “Here, hoe affekteer U voorbidding in die hemel my lewe? U woord sê U verskyn voor die Vader om my onthalwe. Wat beteken dit in my daaglikse wandel met U? Ek hoef nie te weet wat die groot kenners geleer het nie. Wys my net ‘n eenvoudige waarheid wat ek kan verstaan en vir my lewe kan toeëien.”

Die gewilde evangeliese beskouing van Christus se voorbidding, is dat Jesus na die hemel teruggekeer het om as Hoëpriester op te tree om ons ontwil. Daar is geen twyfel hieroor nie. Die Bybel stel dit duidelik: “Want Christus het nie ingegaan in ‘n heligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self” (Hebreërs 9:24).

Ek glo Jesus doen voorbidding vandag om sy kinders te beskerm, om ons van sonde te weerhou en ons in God se liefde te bewaar. Hy sal nie toelaat dat iets – enige vrees, enige tydelike val, enige beskuldigings van Satan – ons van die Vader sal vervreem nie. Kortliks, Hy bid vir ons op dieselfde manier wat Hy vir sy dissipel Petrus gebid het: “dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:32).

Ons Verlosser is lewend in die hemel op hierdie oomblik. En Hy is beide ten volle God en ten volle mens, met hande, voete, oë, hare. Hy het ook die spykerletsels op sy hande en voete, die wond in Sy sy. Hy het nooit van Sy mensheid ontslae geraak nie; Hy is steeds ‘n mens in die hemel. En op hierdie oomblik is ons Man in die ewigheid besig om seker te maak ons word nooit beroof van die vrede wat Hy vir ons gegee het toe Hy ons verlaat het nie. Hy dien as ons Hoëpriester en is aktief betrokke om Sy liggaam op aarde vol van Sy vrede te hou. En wanneer Hy weer kom, wil Hy hê dat ons “voor Hom bevind mag word in vrede”  (2 Peter 3: 14).

Mag hierdie Paasfees ‘n dag wees waarop jy kan feesvier omdat Hy opgestaan het en vrede oor ons uitgestort het as gevolg daarvan.