CHRISTUS IS IN ONS

David Wilkerson

Die pad na hoop is een van lyding, hartseer en pyn. Dit maak nie saak hoe vroom, liefdevol of goed jy is nie, as Christus in jou is, sal jy ‘n deelgenoot van Sy lyding word.

“Maar namate julle gemeenskap het met die lyde van Christus, moet julle bly wees” (1 Petrus 4:13, my beklemtoning). Petrus sê baie duidelik vir ons, “Wees bly in jou lyding.” En Paulus sê iets soortgelyk: “Roem in die hoop op die heerlikheid van God” (Romeine 5:2).

Bly wees in lyding? Dit is een van daardie moeilike sêgoed in die Skrif, inderdaad, een van die moeilikste. Paulus gaan selfs verder: “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge” (Romeine 5:3, my beklemtoning). Paulus praat nie hier van ‘n uitroep of kreet wat ons moet uiter ten spyte van ons beproewing nie. Wat hy eintlik beskryf, is om bloot in staat te wees om Jesus in ons beproewing raak te sien. Ten spyte van ons baie werklike, menslike vrese, ten spyte van ‘n situasie wat heeltemal hopeloos voorkom, moet ons steeds kan sê, “God sal ‘n uitweg voorsien.”

Sommige Christene mag daarop aanspraak maak, “Die pad van hoop is bloot die volgende: My hoop rus in ‘Christus die hoop van die heerlikheid’” (Kolossense 1:27). Baie waar. Maar as Christus in ons is, sal Hy ons lei op die pad wat Paulus beskryf. Jy sien, die Heilige Gees wil hê ons hoop moet meer wees as ‘n teologiese frase. Dit moet ‘n hoop, ‘n vertroue wat standvastig is, met ‘n seker fondament daaronder wees. Kortliks, ons hoop moet wees “Christus in ons, wat in ons werk.”