BRON VAN BLYDSKAP

David Wilkerson

Ek glo diep, blywende blydskap ontbreek grootliks in baie van die kerke vandag. Ek het al Christene gehoor sê: “Ons het ‘n herlewing in ons kerk afgebid.” Dit kan egter nie deur gebed alleen gebeur nie. Daar kan nie so ‘n ontwaking wees nie, tensy mense ywerig smag na God se Woord. En hulle moet hulle lewens heeltemal daaraan toewy om deur die Skrif beheers te word. Ons kan nie die hemelse blydskap verkry, totdat die suiwer Woord ons van ons afvalligheid oortuig het nie.

Toe Dawid ongehoorsaam was, het hy die blydskap van die Here verloor. Daardie blydskap kon slegs deur ware berou en bekering herstel word. Dawid het dit geweet en daarom het hy gebid: “Was my heeltemal van my ongeregtighede en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Ontsondig my...” (Psalm 51:4-5,9). Dawid het ook gebid om dit wat hy verloor het, terug te kry: “Gee my weer die vreugde van u heil” (Psalm 51:14).

Esra het in wese aan die mense wat Jerusalem herbou het, gesê: “Julle het gesmag na God se Woord en het toegelaat dat dit julle harte bearbei. Julle het berou gehad en julle bekeer en God is bly daaroor. Maar nou is dit tyd om te jubel! Haal julle sakdoeke uit en vee julle trane af. Dit is ‘n tyd vir blydskap!”

Die heerlikheid van die Here het op Israel neergedaal en die volk het die daaropvolgende sewe dae gejubel. “Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink . . . en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemía 8:13).

Die woord “vreugde” word in die Hebreeuse teks vertolk as “blydskap, geluk.” Dit is nie net ‘n goeie gevoel nie, maar dit is ‘n diep, innerlike uitbundigheid. Dit is duidelik aan almal om ons dat hierdie bron van blydskap uit die hemel kom.

Waar God se Woord gevrees word, is die gevolg ‘n uitstorting van ware “Jesus blydskap.”