BLY STANDVASTIG

David Wilkerson (1931-2011)

Ons is almal skepsels van gewoonte. Gewoonlik staan ons op dieselfde tyd op, eet dieselfde ontbyt, ry dieselfde pad na ons werkplek toe en luister na dieselfde radio stasie tydens ons rit. Ons beleef eindelose herhalings in ons daaglikse roetines. Dit is hoe die lewe is. Terwyl dit soms nie so lyk nie, is daar ware volwassenheid en groei daarin om getrou en verantwoordelik te wees, dag vir dag, week vir week, jaar vir jaar.

Dieselfde kan gesê word van ons geestelike lewens. Sondagoggende gaan ons kerk toe, sit op dieselfde sitplekke en sing dieselfde lof- en aanbiddingsmusiek. Selfs ons gebede kan dieselfde klink. Ons word versoek om te wonder, “Doen ek regtig enigsins iets nuttig vir die koninkryk van God? Ek doen dieselfde ding oor en oor, maar daar is min verskeidenheid daarin.”

Om in genade te groei, beteken nie om meer of groter dinge vir God te doen nie. Ware groei beteken om dieselfde dinge oor en oor te doen met meer sekerheid in ons harte dat ons alles vir Hom doen. Dit is soos om in graad een te leer skryf. Jy begin met kringe, sirkels en lyne, en maak groot letters. Maar na 'n tyd, raak die letters kleiner en nader aanmekaar en uiteindelik leer jy om woorde saam te voeg en sinne te vorm. Alhoewel jy dieselfde herhalende dinge gedoen het, het jy al die tyd iets waardevols bereik.

In jou Christelike wandel, neem dit baie genade om aan te hou as ons moeg, gebroke, terneergedruk of bedroef is. Dit neem in werklikheid meer genade om standvastig te bly in daardie tye, as wanneer alles nuut en vars en opwindend is. Dit is wonderlik om te weet dat ons sy Woord kan vertrou en weet dat Hy met ons is.

Ek bemoedig jou om Hom getrou te dien en te kyk hoe die Here jou by ‘n nuwe plek van vrede, vertroue en doelgerigtheid uitbring.