BLY IN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer sal God ophou om jou lief te hê? Hy sal slegs ophou wanneer Hy ophou om sy eie Seun lief te hê, wat onmoontlik is! Christus sê: “Die Vader . . . omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe” (Johannes 13:1). Dit help dat ons beter kan verstaan wat Judas bedoel het toe hy beveel het, “Bewaar julleself in die liefde van God” (Judas vers 21). Hy sê vir ons, “Bewaar hierdie waarheid. Gryp dit vas, en moenie dit ooit laat los nie. Die kennis van God se liefde is vir jou vertroosting en krag bedoel. Dit sal jou vrymaak en jou vry hou”.

Om jouself in God se liefde te bewaar, is om te weet, te glo en aan te hou glo en vertrou op sy liefde, selfs in jou beproewings.

Johannes sê vir ons hoe om onself in God se liefde te bewaar: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (1 Johannes 4:16). Kortliks, as ons “in die liefde bly,” dan bewaar ons onsself in sy liefde.

Die woord “bly” beteken hier “om in ‘n toestand van afwagting te bly.” Kortliks, God wil hê ons moet verwag dat sy liefde vir ons nuut sal wees elke dag. Ons moet daagliks leef in die wete dat God ons nog altyd liefgehad het en ons ook vir altyd sal liefhê.

Hy sê aan ons in hierdie gedeelte, “Dit maak nie saak watter beproewing jy beleef nie, jy moet nooit twyfel aan my liefde vir jou nie. As jy aktief vertrou op my liefde, leef jy die lewe wat Ek wil hê jy moet lewe.”

Ly jy een of ander groot versoeking? Word jy oorweldig deur ‘n ou begeerte wat jy haat? Is jou huwelik in die moeilikheid, jou familie in chaos? Dit is die tye waarin jy jouself ernstig in God se liefde moet bewaar. Jy moet weet dat deur dit alles heen, die ewige Vader jou nog steeds liefhet.