BLY IN DIE RESIES!

David Wilkerson (1931-2011)

Jou aanhoudende beproewing mag fisieke lyding, werkloosheid, kinders wat rebelleer, ongelowige vriende, geestelike angs, onrus of pyn insluit. Terwyl jy dit dag vir dag verduur, sal Satan in jou oor fluister net soos hy met Job gedoen het, ”Die regverdige ly nie. As God jou gehoor het – as Hy jou salig gemaak het en sy beloftes waar is – dan sou jy dadelik gered geword het. Waar is jou God? Is dit wat jou geloof jou bied?”

Geliefde, moenie jou geloof wegwerp nie! Satan is ‘n leuenaar. Jy verduur swaarkry omdat God jou liefhet, omdat Hy omgee. Dink daaraan: Jy het die Here gevra om jou meer soos Hy te maak. Net Hy weet presies wat dit sal verg. Hy ken jou lyding, en Hy sal jou nie daardeur laat vernietig word nie. Trouens, Hy weet presies wanneer Hy vir jou ‘n uitkoms moet bewerkstellig. Hy sal nie reageer tot op daardie voorafbepaalde tyd nie, en “sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Wees verseker, God het alles onder beheer. Die pyn, die voortslepende siekte, die gebede wat onbeantwoord bly – Hy weet van alles. En Hy weet hoekom Hy nog nie voor nou jou beproewing opgehef het nie. Soos dit met Paulus gebeur het, gebruik Hy hierdie “doring in die vlees” om jou by jou seën uit te bring. Trouens, die einste ding wat jy so graag wil hê – die antwoord wat jy glo só nodig is – mag iets wees wat God weet nie die beste vir jou is nie. As Hy uiteindelik sê, “Nee”, moet jy toegee met die wete dat Hy jou siel bewaar en dat Hy besig is om jou te verhoor op ‘n baie beter manier.

Deur dit alles heen, moedig die wolk van getuies jou aan, “Hou aan om die stryd te stry met geloof. Bly in die resies!”

Beskou hierdie kragtige woord deur die outeur van Hebreërs: “Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie” (Hebrews 10:35-37).