BID MET BLYDSKAP

Gary Wilkerson

Die apostel Paul was ‘n vreeslose mens. Hoe het hy sulke vrymoedigheid en blydskap te midde van swaarkry, onsekerheid en teëstand gekry? En hoe kan ons dieselfde kry in die tyd waarin ons lewe?

Eerstens, wanneer jy ly vir ander se pyn, sal God vir jou blydskap bring! Vandag ly talle mense weens iets – ‘n verlore werk; ‘n verwarde of verslae eggenoot; ‘n voortslepende siekte; ‘n geliefde wat ly deur armoede.

Ons lees in Filippense 1:1: “Paulus en Timótheüs, diensknegte van Jesus Christus” Paulus het in wese gesê, “Ek is ‘n slaaf, heeltemal uitverkoop. Christus is my alles.” En dan gaan hy voort om ‘n groter groep te adresseer: “Aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die opsieners en diakens.”

Ek hou hiervan, omdat hy net tien jaar voor dit, die kerk in Filippi begin het met net ‘n tronkbewaarder, ‘n vrou en ‘n diensmeisie. Die kerk het ouderlinge, diakens en opsieners gehad. Dit het struktuur, orde en lewe gehad!

En dan sê hy in vers 2, “Genade vir julle en vrede van God.” Hier gee hy die toon aan vir ons te midde van ons beproewings om ons te laat staatmaak op genade, en die vrede wat slegs van een bron af kom, God, die Vader, en die Here Jesus Christus.

“Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap” (1:3-4).

Ek hou van wat hy sê, “Ek dink aan julle.” Soms dink ons net aan sommiges, nê? Soms wil ons nie eens bid vir ons vyande of vir diegene wat ons seergemaak het of ons misbruik het nie – moeilike mense in die kerk en in ons familie. Maar Paulus sê, “Ek bid vir julle almal en wanneer ek bid, bid ek met blydskap.”