Bewaar vir ‘n Doel

Dawid het gebid, "Bewaar my, o God, want by U skuil ek” (Psalm 16:1). Die Hebreeuse woord wat Dawid in hierdie vers gebruik vir “bewaar” is propvol betekenis. Dit sê in wese, “Plaas ‘n heining rondom my, ‘n muur van beskermende dorings. Pas my op en bewaar my. Hou elke beweging wat ek gee dop, al my komme en gane.”

Dawid het ten volle geglo dat God die regverdiges bewaar. En die Skrif sê Dawid was gehelp en bewaar in al sy weë. Hierdie geseënde man het verklaar, “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder...jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar” (Psalm 121:4-7).

Dieselfde Hebreeuse woord vir bewaar verskyn ook in hierdie gedeelte. Weereens praat Dawid van God se goddelike heining, die bonatuurlike muur van beskerming. Hy verseker ons, “God hou sy oog op jou oral waar jy gaan.”

Die Here is inderdaad oral met ons in alle plekke: by die werk, by die kerk, wanneer ons inkopies doen. Hy is met ons in ons karre, op busse, op deurpaaie. En die hele tyd, sê Dawid, God bewaar ons van onheil. Hy hou ons veilig van diewe, bendes, moordenaars, verkragtes en terroriste. Hy bewaar ons van antraks, pokke en elke denkbare soort kiemoorlog. Kortliks, ons God waak oor ons almal. Hy het belowe elke moontlike wapen gevorm teen sy kinders niks sal kan uitrig nie.

Miskien was jy die afgelope weke bekommerd oor ‘n verrassingsaanval deur terroriste of die versrpeiding van ‘n dodelike siekte. God se Woord gee ons vaste beloftes selfs teen hierdie dinge:

“Red my, HERE, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld...wat elke dag stryd verwek. Hulle maak hul tong skerp soos ’n slang; gif van ’n adder is onder hulle lippe...Bewaar my, HERE, vir die hande van die goddelose...wat planne beraam om my voete weg te stoot. Trotsaards het vir my ’n vangnet gespan en toue; hulle het ’n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel...”

“HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie...Wat betref die hoof van die wat my omring — laat die onheil van hulle lippe hulle oordek. Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie! Laat die kwaadspreker nie op aarde bevestig word nie; die man van geweld — laat die ongeluk hom jaag met slag op slag.”

“Ek weet dat die HERE die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig. Sekerlik, die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal voor u aangesig woon” (Psalm 140:1-13).

Aan die begin van die Psalm, doen Dawid ‘n beroep op God om hom teen geweldadige mense te beskerm. Die woord wat Dawid hier vir bewaar gebruik, verskil. Dit beteken om te beskerm teen dit wat weggesteek is, verborge en in die geheim is. God sê eintlik vir ons, “Ek bewaar jou op elke gebied van jou lewe, selfs teen dinge wat jy nie kan sien nie. Jy kan sekerlik in My rus.”

Glo jy jy word deur die Here bewaar? Aanvaar jy dat Hy jou beskerm teen die planne van die trotse, gewelddadige, bose mense? Sulke mense mag daarop uit wees om jou te vernietig. Hulle mag giftige planne teen jou smee. Maar jy hoef nie onheil te vrees nie. Soos Dawid gebid het, “Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie!” (Psalm 140:10).

As jy dit moeilik vind om God se begeerte om jou te bewaar te aanvaar, lees Psalm 37:

“Deur die HERE word die gange van ’n man bevestig, en Hy het ’n welbehae in sy weg. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom....en sy nageslag is ’n seën...want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar...Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon...Die HERE gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.”

“Jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense. Ek het die goddelose gesien, ’n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos ’n groen inlandse boom. Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid. En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom” (Psalm 37:23-28, 33-40).

Selfs Job het in sy pyn getuig van God se bewarende krag. Ek het nog nooit iemand geken wat alles beleef het wat Job verduur het nie. Hierdie man het sy gesin, sy besittings, sy gesondheid en sy goeie naam verloor. Wie kon stry met so ‘n geteisterde man se belewenis? Job het God egter aangespreek as “Mensebewaker” (Job 7:20).

Keer op keer het God Homself bewys as ‘n bewaarder vir sy mense. Maar vir watter doeleindes? Ons vind ‘n leidraad in Moses se woorde: En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die HERE onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is” (Deuteronómium 6:24). Moses sê God het hulle ‘n gebod gegee om een rede: om hulle te bewaar en te beskerm. Maar waarvoor? Vir dieselfde rede waarom God ons wil bewaar en beskerm.

Dink aan al die maniere waarop God sy uitverkore volk, Israel, bewaar het. Hy het hulle bewaar van die tien plae in Egipte. Hy het hulle verlos van Farao se leër by die Rooisee. Hy het hulle genees van dodelike slangbyte in die woestyn. En die mense het van God se bewarende krag getuig teenoor hulle kinders en kleinkinders: “Die Here het ons verlos van al ons vyande. Hy het ons kos en water gegee en het verhoed dat ons klere verslyt. Hy het Israel deur dit alles bewaar.”

Maar is dit al waaroor Israel se getuienis handel? Was hierdie mense bewaar en beskerm net om op die ou end in die wildernis te sterf? Was God se verlossing slegs bedoel om hulle veilig en goed versorg te hou regdeur hulle lewens? Daar moes sekerlik ‘n rede gewees het waarom God hulle bewaar het.

Moses het verklaar, “En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het” (Deuteronómium 6:23). Moses het vir Israel gesê, “Kyk na die wonderbaarlike maniere waarop God julle uit slawerny gebring het. Waaroor dink julle het dit gegaan? Waarom dink julle het Hy julle gekies en julle as spesiaal gemerk van die grondlegging van die wêreld af? Waarom het Hy julle uit slawerny bevry? Waarom het Hy julle geseën toe julle verdien het om verlaat te word?”

“Hy het dit nie gedoen sodat jy bloot kon sê, ‘God voorsien in al my behoeftes’ nie. Hy het dit nie gedoen sodat jy om die kampvuur kan sit en stories van eertydse wonderwerke vir jou kinders kan vertel nie. Daardie dinge is alles wonderlike dinge. Maar dit is nie die limiet van God se plan vir jou nie. Die Here het jou bewaar, sodat Hy jou êrens heen kon neem. Hy wil iets in jou lewe bewerkstellig wat verder strek as al die wonderwerke."

Ek glo elke Christen wat slegs ‘n paar jaar met die Here wandel, kan ‘n boek skryf oor die wildernis waardeur hy is. Trouens, ons bediening het pas so ‘n boek gepubliseer, Triumph Through Tragedy. Dit is vol ontsaglike getuienisse van gelowiges wat ondraaglike beproewings verduur het. Wat van jou egter? Watter beproewings het jy deurgemaak? Hoeveel keer het jy ‘n ramp beleef, miskien selfs die dood?

As jy terugkyk daarna, vra jouself af: “Wat beteken dit alles? Waarom het God my bewaar? Waarom is ek nie ‘n dwelmverslaafde of alkoholis nie? Waarom is ek nie waansinnig en skaars lewendig waar ek op die strate woon nie? En waarom het ek God se vrede in plaas daarvan? Waarom was die Here so goed vir my?”

Die Here het die Israeliete bewaar en ‘n muur rondom hulle geplaas vir ‘n spesifieke rede: om hulle na ‘n plek van bruikbaarheid te lei. Hy het hulle na die Beloofde Land gelei, ‘n eindbestemming waar hulle in die aand hulle koppe kon neerlê met die wete dat hulle stryd die moeite werd was.

God het reeds gesweer om die bose nasies wat in Kanaän gewoon het, te oordeel. En toe Hy Israel bewaar het, was dit om hulle voor te berei vir oorlog teen daardie nasies. Selfs voor Israel Kanaän binnegegaan het, het God belowe om plae van perdebye voor hulle uit te stuur: “Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe” (Exodus 23:28). God wil hê elke Israeliet moet weet, “Julle was al hierdie jare bewaar om krygsmanne in ‘n krisistyd te wees. Ek het julle gered om tot die einde toe bruikbaar te wees en groot oorloë te wen.”

Jesus was ook deur die Vader bewaar vir ‘n doel. Jesaja het geprofeteer dat Christus deur mense verag en gedreig sou word. Maar daar was ‘n doel agter dit alles: “So sê die HERE: In die tyd van welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe” (Jesaja 49:8).

Ons weet uit die evangelies dat God se almagtige, bewarende Gees oor Christus gewaak het elke dag van sy lewe. En Hy het Jesus getrou verlos van skade, keer op keer. Dink aan hoe dikwels die godsdienstige leiers probeer het om God se Seun dood te maak. Hulle het Hom eenkeer na ‘n berg geneem om Hom oor ‘n krans te gooi, maar die Gees het ingegryp. Net so het Satan probeer om Jesus te versoek om Homself van die tempel se dak af te gooi. Maar die Gees het Christus weer bewaar en Hom krag gegee om versoeking te weerstaan en toe engele gestuur om Hom te dien.

En dit was alles vir ‘n doel. Jesaja voeg by, “Om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! Aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees. Hulle sal geen honder en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie” (Jesaja 49:9-10).

Jesus het die Vader geantwoord, “Ek sal gaan. Ek sal diegene in duisternis bereik en die verlorenes weer die weg terug na U aantoon.” Al Christus se verlossings was bedoel vir hierdie presiese doel: om die mag van Satan te breek, mense te verlos, diegene in slawerny te bevry en lig in die duisternis te bring. Deur die Gees se bewarende krag, het Jesus al hierdie dinge bewerkstellig.

Josef het ‘n visioen gehad dat sy lewe magtig deur God gebruik sou word. Maar daardie visioen het gelyk of dit ‘n lugkasteel was, nadat sy jaloerse broers hom as slaaf verkoop het. Die daaropvolgende jare van Josef se lewe was vol swaarkry en onreg. Net toe dit gelyk het of Josef weer terug op sy voete was, was hy valslik beskulding van poging tot verkragting en tronk toe gestuur.

Die hele tyd egter, het God oor Josef se lewe gewaak. En ten slotte, na jare van onrus, het Josef op die ou end in Farao se huis gedien. Farao het uiteindelik Josef as heerser oor die hele Egipte aangestel.

Dit was gedurende hierdie tyd van groot seën en vervulling dat Josef weer van aangesig tot aangesig met sy broers gekom het. ‘n Hongersnood het die land getref en hulle het na Egipte gekom om graan te soek. Toe Josef hulle sien, “bars hy in trane uit...En Josef sê vir sy broers...Ek is Josef julle broer vir wie julle na Egipte verkoop het” (Génesis 45:2-4).

Josef mag wraak wou hê op sy broers. Maar luister na sy woorde: “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur” (Génesis 45:5). Josef het in wese gesê “Hoewel julle onreg aan my gedoen het, moes ek hierdeur gaan. Die Here het my daardeur voorberei om julle te red.”

Geliefde, dit is hoe God werk: Hy het ‘n man voorberei om ‘n oorblyfsel te red. Trouens, in elke geslag, rig die Here ‘n Josef Geselskap op. Hy neem hierdie toegewyde dienaars deur jare van swaarkry en beproewings om hulle geloof te toets en te versterk. En Hy red hulle van talle sataniese strikke. Maar die Josef Geselskap word op maniere getoets wat min ander beleef. Hulle beleef martelende vertwyfeling, drukkende vrese en ernstige versoekings. En, miskien die pynlikste van alles, hulle word deur God se Woord beproef.

Wat beteken dit? Die Skrif sê dit is wat Josef verduur het: “Hy het ‘n man voor hulle uitgestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het” (Psalm 105:17-19).

Hoe was Josef deur God se woord beproef verklaar? Hy het geweet, deur al sy swaarkry heen, dat hy ‘n regverdige man was. Hy het geweet dat hy ‘n hart vir God gehad het. En dit het sy beproewing net meer verbysterend gemaak. Hy moes gedink het, “Here, al hierdie swaarkry is onsinnig. Dit pas nie vir my by u woord nie. U het gesê ek sal magtig deur U gebruik word. Maar nou sit ek hier in boeie. Dit is die teenoorgestelde van alles wat ek U hoor spreek het.”

Josef se grootste toets was nie om deur sy broers verraai te word nie. Dit was nie om onregverdig in die tronk gegooi te word nie. Dit was nie om vergeet te word deur sy mede gevangenes wat hy gehelp het nie. Nee, by verre, was Josef se ergste beproewing sy verwarring oor God se woord aan hom.

Slegs jare later, toe sy broers teruggekeer het op die toneel, het Josef ‘n kykie gekry van God se doel met hom. Terwyl hy teruggekyk het oor sy reis, het hy besef, “Ek sien nou die Here was in alles. En dit maak alles wat ek gely het, elke pynlike, eensame oomblik die moeite werd.” Josef het vrede gemaak met sy verlede, omdat hy God se hand daarin gesien het.

Die Here het ook ‘n Josef Geselskap vandag. Dit is goddelike manne en vroue wat Hy aangeraak en geroep het. Hulle streef nie na roem of rykdom nie. Al wat hulle wil hê, is om te leef en te sterf waar hulle God se roeping, wat Hy op hulle geplaas het, vervul. En die Here het belowe dat hulle lewens vir sy koninkryk sal tel.

Baie van hierdie Christene is egter in dieselfde donker kerker as Josef. Hulle lewens is vol swaarkry aan alle kante. En hulle verstaan nie hulle beproewings nie. Net soos Josef, pleit hulle, “Here, wat gaan aan? Dit is onsinnig. Al wat ek ooit wou hê is om U te dien. U het belowe dat my lewe vir U heerlikheid gebruik sou word. Ek het nou al vir so lank gevas en gebid, terwyl ek meer van U wil hê. Dit kan nie U wil vir my wees nie.”

Ek ken hierdie soort angs. Jarelank is ons huis geteister deur kanker ná kanker. En ek weet wat dit is om aanval ná aanval van beskuldigings uit die hel te verduur. Dikwels, as ek tydens sulke tye gebid het, het die hemel soos koper gevoel. Na jare van wandel met die Here, sien ek sy hand duidelik in hierdie beproewings. En ek kan getuig dat dít wat Satan as onheil bedoel het, het die Here ten goede verander.

Net soos Josef, is baie lede van God se heilige geselskap in ysters vandag. Hulle is vasgevang in ‘n skynbaar hopelose situasie. Hulle word erg versoek en beproef en dit lyk of hulle geloof nie werk nie. Hulle kry die gevoel God se beloftes werk nie vir hulle nie. Die ergste van alles is dat die Woord, waarvoor hulle so lief is, lyk of dit hulle siele beproef.

Hierdie dienaars mag pynlik in ysters bly tot die vasgestelde tyd wanneer God hulle daaruit roep. Vir nou, uiter hulle Josef se eie roepstem: “Hou my tog net in gedagte...en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my...en bring my uit hierdie huis [tronk] uit...ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie” (Génesis 40:14-15). Hulle roep uit, “Here, ek is hier vasgeketting in ‘n verskriklike kerker van wanhoop. Moenie van my vergeet nie. Betoon aan my barmhartigheid en verlos my van hierdie swaarkry. Ek wil U net dien om ‘n lewende offer te wees.”

As jy niks van hierdie uitroep weet nie, dan is jy nie in die Josef Geselskap nie.

Josef het vir sy broers vertel, “Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland” (Génesis 45:7-8).

Josef kon terugkyk na sy jare van lyding en getuig, “God het my op hierdie reis gestuur. Hy het ‘n doel gehad om my deur al hierdie swaarkry te neem. Ek sien nou dat alles wat ek verduur het, gelei het tot hierdie oomblik. Broeders, die Here het my voorberei om julle te bedien. Hy het al hierdie dinge georkestreer om julle onder sy bewarende genade te bring, net soos Hy vir my gedoen het.”

Wat ‘n ontsaglike openbaring vir Josef. Wat is die les hier vir God se mense vandag? Dit is dit: ons Here het ons in die verlede bewaar. Hy sal ons bewaar in die dae wat voorlê. En die belangrikste van alles, hy het ‘n ewige doel agter dit alles.

Dink aan die onlangse ramspoed wat oor ons nasie gekom het. Sedert September 11, 2001, is ons samelewing oorval met vrees. Mense het begin om God aan te roep soos nog nooit tevore nie. En eens louwarm Christene het begin om vas te hou aan God se beloftes van beskerming. Hulle bid, “Here, plaas u heining om my. Wees met my vandag, bewaar my en hou u oë op al my treë.” En God doen presies dit.

Dink nou aan jou eie reis. Kyk terug na jou lewe, van die dae wat Christus in jou lewe gekom het en jou verander het. Ek is seker jy kan ‘n boek skryf oor al die kere wat God jou verlos het: van oorweldigende krisisse, sataniese strikke en kragtige versoekinge. Hoe dikwels was jy reg om die stryd te laat vaar? Hoeveel keer het gewankel op die rand van oorgawe aan wellus of wanhoop?

Praat van terroriste aanvalle. Jy was jarelank aangeval deur die wêreld se wreedste, boosste, magtigste terroris: Satan self. Soms het jy in ‘n vuisgeveg met hom baklei. Hy het egter nooit daarin geslaag om jou weg te trek van Christus af nie. Elke keer, het die Here jou gered en jou bewaar. En vandag het jy ‘n kragtige getuienis van sy bewarende krag:

“My Vader het my op hierdie reis gestuur. En Hy het die hele tyd sy hand oor my gehou. Hy het my gered toe ek verdien het om verwoes te word. So, as Satan nie in staat was om my te vernietig nie, wat kan ‘n Moslem-terroris doen? My God is uiters getrou om my te bewaar.”

Laat my jou vra: waarom het God gekies om jou te bewaar, terwyl so baie rondom jou geval het? Oral waar jy kyk, sien jy verwoeste lewens, gebroke huise en verpletterde drome. Hier staan jy egter, verlos en vry. Waarom het die Here jou bewaar? Waarom was jou sonde nie aan die wêreld geopenbaar nie? Waarom het God jou van verwoesting en skande bewaar?

Hy het jou bewaar, omdat Hy ‘n doel vir jou het. Hy het ‘n goddelike werk vir jou vooruit beplan. En slegs ‘n beproefde, getoetste, bewese gelowige kan dit tot stand bring.

Kyk na die huidige toestand van ons nasie en die wêreld. Wat sien jy? Ek sien Christus se profesie vervul word voor ons oë: “En op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid...en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Paulus praat ook van hierdie tyd: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thessalonicense 5:3). Paulus beskryf ‘n volk wat selfvoldaan en veilig woon, terwyl hulle roem, “Ons het vrede bereik.” Op dieselfde oomblik wat hierdie volk egter die veiligste voel, kom verwoesting. Skielik verdwyn die vrede wat hulle gekoester het. En oornag word die samelewing oorweldig deur vrees.

Amerikaners ken die soort skielike verwoesting waarvan Paulus praat. Vir geslagte lank het ons nasie ontsaglike veiligheid teen buitelandse aanvalle geniet. Paulus voeg egter by, “Hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3). Nou sien ons die dae wat Jesus en Paulus beskryf het. Dit is ‘n dag wat ek nooit gedink het ek sou sien nie.

Tog moet ons nie vrees nie. Ons Here het vir ons ‘n Josef Geselskap bewaar vir so ‘n tyd. Paulus het vir die Thessalonicense gesê hulle was in gees, siel en liggaam bewaar (sien 1 Thessalonicense 5:23). En hier was God se doel agter dit alles: “alle werk van die geloof met krag volkome te maak” (2 Thessalonicense 1:11). Paulus het in wese gesê, “Julle is geroep om ‘n werk van geloof te vervul. En ek bedoel nie ‘n stil geloof nie, maar een wat die krag van Christus demonstreer.”

Dit is nie tyd vir swak geloof nie. Dit is ‘n tyd waarin elke Christen, wat groot beproewings beleef het, moet vorentoe kom. Ons Kaptein roep ons om te midde van ‘n vreesagtige samelewing op te staan en betrokke te raak met “kragtige geloof.” Ons moet die Josef Verklaring maak: “God het my voor julle uit gestuur...om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing” (Génesis 45:7).

Ons Here was nie verras deur die September 11 aanvalle nie. Die hele tyd was Hy besig om sy Josef Geselskap vir hierdie presiese oomblik voor te berei. Hy het hulle deur vure, vloede, siekte, hartseer, versoekings en vrese gedra. En hulle geloof het na vore gekom met krag. Selfs terwyl die hel sy terroriste hordes vrystel, versamel God se Gees hierdie weermag van bewaarde heiliges. En Hy stuur hulle uit met vetroue en met die wete hulle is geroep om ander te verlos. Hulle was gebore en bewaar vir hierdie dag, ‘n tyd van groot krisis. En elkeen van hulle is ‘n persoonlike bediening gegee, met God se krag om lewens te verander.

Wanneer die wêreld wankel weens rampe, met hartseer wat toeneem aan alle kante, sal God getroue krygsmanne, wat opgelei is vir oorlog, vorentoe roep. Hierdie toegewyde manne en vroue het groot beproewings verduur en met ‘n vaste geloof daar uitgekom. En die krag van God rus op hulle. Sulke krag mag dalk nie op groot skaal gesien word nie. Dit mag moontlik net gesien word op eenvoudige maniere: ‘n stille gees, ‘n glimlag te midde van ‘n see van fronse, ‘n rus van siel, gedagtes en liggaam terwyl ander sidder.

My vrou, Gwen, het ‘n leeftyd deurgebring waarin sy teen kanker geveg het. Sy het talle operasies gehad en ons is dankbaar die Here het haar elke keer verlos. Lesers van my boodskappe het geweet van Gwen se beproewings oor die jare, en baie het geskryf oor soortgelyke stryd wat hulle gehad het.

Eendag het Gwen besluit om ‘n kort boodskap van liefde en bemoediging te skryf aan elke vrou wat geskryf het dat sy kanker gehad het. Haar bediening is ‘n stil werk, maar dit is gevul met krag, omdat dit gebore is in beproewing en leiding. Gou het Gwen briewe teruggekry waarin gestaan het, “Dankie vir jou boodskap. Jy het groot geloof in my hart geplaas.”

Gwen en ek het heeltyd geweet sy word bewaar vir ‘n doel. En nou het honderde vroue getuig van die vervulling van God se doel met haar stryd.

Die wêreld se behoeftes op hierdie oomblik is groot. So, liewe heilige, wat is God se doel vir jou? As jy terugkyk na jou reis, deur watter oorloë het God jou gedra? Oor watter beproewings het Hy jou oorwinning gegee? Dit mag ‘n leidraad wees vir jou persoonlike bediening. Die Here mag jou gebruik in die presiese area waarin jy so lank al stry.

Onthou, alle bediening kom uit gemeenskap. Soek die Here in gebed. Vra vir Hom, “Here, wat beteken dit alles?” Hy sal vir jou wys. Hy het jou bewaar vir ‘n rede. En Hy het jou geroep as ‘n lid van sy Josef Geselskap vir ‘n tyd soos hierdie.