BESWADDERDE HEERLIKHEID

David Wilkerson

Toe Moses van die berg afgekom het terwyl hy die Tien Gebooie in sy hande gehou het, het hy die volk gehoor skree en gesien hoe hulle dans en fuif.

“Toe Moses sien dat die volk bandeloos (naak) was – want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders . . .” (Exodus 32:25). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir bandeloos is “para,” wat beteken, “Om los te word, te ontbloot, alle teëhouding te laat vaar.” Dit bedoel ook “’n nuwe begin.”

Die Israeliete het in wese gesê, “Dinge gebeur nie soos dit moet nie. Ons is moeg vir hierdie stryd, moeg om vir God te wag. En nou gaan ons onsself geniet. Weg met die oue! Ons wil nuwe vryheid hê, ‘n nuwe begin – en ons wil dit nóú hê.

Naaktheid in die Bybel het ook te doen met om nie jou skild vir die oorlog te dra nie. Elke man wat nie sy skild gehad het nie, was beskou as naak. Dit was waar, hierdie Israeliete was letterlik naak – kaal uitgetrek en dansend voor die goue kalf – maar hulle het ook verslap in hulle waaksaamheid.

Kan jy jou voorstel hoe hulle vyande, die Amalekiete, afgekyk het na hierdie wilde toneel vanaf die omliggende berge? Hierdie Amalekiete het eens gesidder met die blote aanskoue van Israel. God het ‘n vrees in hulle harte geplaas vir Sy volk, maar nou het hulle gesien hoe Israel hulle wapenrustings afgehaal en hulle klere uitgetrek het.

En die Amalekiete het vir hulle gelag en hulle bespot! “Kyk na hulle – hulle is net soos ons! Hulle God het geen krag nie en dit is duidelik dat hulle Hom nie vertrou nie. Sien? Hulle verwerp al hul nougesette weë! Hulle wil wellustig wees en partytjie hou en speel net soos die res van ons. Wat se heiligheid is dit? Watter skynheiligheid.”

Met daardie een daad van bandeloosheid en naaktheid, het Israel hulle God verkleineer in die oë van die goddeloses! Hulle het die Here laat lyk asof Hy harteloos, wreed, onbesorg en hulpeloos was. Hulle het Sy eer, Sy majesteit, Sy almag beswadder. Hulle was nie langer ‘n voorbeeld vir die wêreld nie.

En dit is presies wat ons doen wanneer ons ons kleed van geloof uittrek en ons vertroue in God laat vaar! Sonder kinderlike vertroue in God, staan ‘n Christen naak voor die wêreld – blootgestel aan alle twyfel, vrede en ongeloof!