BESKULDIGENDE STEMME

Gary Wilkerson

Soms word ek wakker in die middel van die nag met ‘n angs sonder spesifieke oorsaak. Die “aanklaer van ons broeders” fluister, “Jy is ‘n niksnut; jy is nutteloos, ‘n las vir ander. Kyk na jou geskiedenis, hoeveel keer jy verkeerd gedoen het.” Satan is lief daarvoor om Christene te teister, maar toe Jesus gekom het, het Hy verklaar, “Dit stop nou onmiddellik!” Toe het Hy ‘n wonderlike versekering bygevoeg: “Moenie dink dat Ek hulle by die Vader sal beskuldig nie” (Johannes 5:45).

As God se kinders, kan ons soms werklik onsself beskuldig. Paulus sê, “Hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan . . . en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:15). Van wie praat Paulus hier? Dit is die Christen wat steeds probeer om die oorblyfsels van die Ou Verbond uit te leef deur daarna te streef om God op sy eie te behaag. Hierdie Christen sê vir homself, “Ek het die hele week goed gedoen in die Here, so daar is geen rede waarom ek nie nog ‘n week soos hierdie kan hê nie.”

Ander mag ons aankla, net soos gebeur het in die geval van die owerspelige vrou toe die godsdienstige leiers haar na Jesus gebring en daarop aangedring dat Hy haar ook moet beskuldig. Maar hoe het Jesus die egbreekster se – en sy eie – beskuldigers geantwoord: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi” (Johannes 8:7). Jesus het die soeklig geplaas waar dit hoort: op hulle eie sonde. En een vir een het hulle weggegaan” (sien 8:9).

Daardie stemme mag steeds skreeu in ons ore, maar as dit gebeur, dan sal ons nóg ‘n stem bo hulle almal s’n hoor: “My skape luister na My stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Johannes 10:27).

Wees stil en hoor die stem van die Heilige Gees wat sê, “Jesus het jou vrygemaak.” Mag God jou help om op die stewige fondament te bou wat gebaseer is op die glorieryke liefde van Jesus – en jubel in sy wonderlike genade!