BELASTINGGELD IN ‘N VIS SE MOND!

David Wilkerson (1931-2011)

God kan met ‘n enkele woord herstel wat ook al dood lyk in ons lewens. Het jy finansiële probleme, nie in staat om jou rekeninge te betaal nie? Só het dit gegaan dit met die Here se dissipels.

Toe belastingtyd aangebreek het, het Christus en sy dissipels geen geld gehad om die nodige som te betaal nie. So, hoe het die Here die saak reggestel? Hy het Petrus gestuur om te gaan visvang. “Gaan na die see toe, gooi ‘n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy ‘n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou” (Matthéüs 17:27).

Ek kan net dink wat Petrus moes gedink het: “Belastinggeld in ‘n vis se mond? Dít moet ek sien. Ek was ‘n visserman my hele lewe lank en ek het baie dinge binne-in visse gesien – wurms, hoeke, seewier. Maar ek het nog nooit ‘n muntstuk gesien nie.” Toe Petrus egter die eerste flappende vis ingekatrol het, het hy sy bek oopgemaak en ‘n glinsterende munstuk binne-in gekry – genoeg om hulle belastings te betaal, net soos Jesus gesê het.

Waarom het die Heilige Gees die evangelieskrywers gelei om hierdie verhaal op te teken? En waarom het Jesus nie bloot ‘n offerande opgeneem, of die dissipels gestuur om vir ‘n dag te werk om loon vir die belasting in te bring nie?

Ek glo Jesus het hier bonatuurlik opgetree omdat Hy aan sy kinders wou bewys dat Hy die onmoontlike vir ons sal doen. Hy kan enige probleem oplos! Hy wou hê ons moet weet Hy is dieselfde God wat Elia gevoed het met brood en vleis wat deur kraaie afgelewer is (1 Konings 17:6); wat gekeer het dat ‘n weduwee se pot meel minder word tydens ‘n droogte (1 Konings 17:14-16); en wat ‘n skare van 5,000 gevoed het met ‘n paar vissies en broodjies (Matthéüs 24:19-21).

God weet op sekere tye in ons lewens sal slegs ‘n wonderwerk die saak besleg en Hy wil ons verseker Hy kan die onmoontlike vir ons doen, in enige situasie. Geliefde, glo God om vir jou op elke gebied van jou lewe te voorsien omdat niks vir Hom onmoontlik is nie.