Beheers deur die Woord van God (Deel 1)

David Wilkerson

"Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouers, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:6).

Jesaja praat hier van ‘n Verlosser – ‘n wonderlike Vredevors wat kom heers oor ‘n koninkryk. Hierdie koninkryk sou saamgestel word uit mense wat heeltemal onderwerp is aan die Vredevors se oppergesag. En die Vredevors self, sou liefdevolle raad gee aan diegene oor wie Hy heers, deur hulle te lei en hulle lewens te rig.

Natuurlik is Christus die Vredevors waarvan Jesaja hier praat. Jesus se koninkryk het inderdaad gekom en bestaan in die harte van sy mense. En die heerskappy van die hele skepping rus op hierdie wonderbare Verlosser se skouers.

Jesaja voeg by, “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde... en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:6). Van nou af tot aan die einde van die tyd, gaan Jesus oor sy koninkryk heers met goddelike orde.

As Christus met oppergesag oor sy koninkryk heers en ons is sy onderdane, dan moet ons lewens deur Hom beheers word. Wat beteken dit presies vir ons om deur Hom beheers te word?

Volgens die woordeboek beteken om te beheers, “om te lei, te rig en om alle aksies en optrede van hulle wat onder die gesag staan, te beheer.” Kortliks beteken dit dat Jesus al ons dade en optrede moet beheer. Hy moet ons lei en rig daagliks in al ons woorde, dade en in ons gedagtes.

Jesus heers ook oor al die nasies van die wêreld. Die Bybel sê vir ons, “Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie” (Psalm 66:7). “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles” (Psalm 103:19).

Moenie geflous word nie - ons land word nie beheer deur Republikeine, Demokrate of enige ander menslike gesag nie. Dit word nie beheer deur Wall Street of groot besigheids-entiteite nie. Geen mag, aards of bonatuurlik heers oor Amerika of enige ander nasie nie. God alleen is in beheer. Hy sit as Koning van die konings en Here van die here en heers oor sy hele skepping vanuit sy hemelse troon.

Ek vind dit amusant as ek hoor hoe politici roem oor ons land se mag – hoe ons die Ystergordyn laat val het, hoe ons kommunisme verslaan het, hoe ons onsself as die magtigste nasie op die aarde gevestig het. Ons het niks van die aard gedoen nie. Al die nasies, konings, diktators en presidente is maar bloot net stippeltjies stof in God se oë. Ons Here heers oor hulle almal en werp een gesag neer en rig ‘n ander een op.

“Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie... Al die nasies is voor Hom soos niks, as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken” (Jesaja 40:15-17).

Let op dat God die beeld van ‘n balans of skaal gebruik. Hy sit aan die een kant van die skaal, terwyl Hy al die nasies van die aarde regdeur die geskiedenis heen aan die ander kant plaas. Hy sê, “Gaan voort - probeer om God se mag teen die wêreld se magte te meet. Neem al die wapens, krygtoerusting en verdedigingsmagte van die mensdom, al die leërs en vlote van die nasies en plaas hulle op die skaal. Teen die Here, weeg al daardie dinge nie meer as ‘n hopie stof nie.”

“Die Here het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God” (Jesaja 52:10).

Onlangs het kommunistiese Chinese leiers duisende lede van ‘n godsdienstige kultus, genaamd Falun Gong in die tronk gestop. In die proses het die Chinese beamptes ook talle Christene in die tronk gegooi, nadat hulle hul misgis het as kultuslede, weens hulle passiewe optrede en aanbiddingspraktyke. Toe die publiek begin beswaar maak oor hierdie onreg, het China se leiers ‘n dowe oor gedraai.

God het nuus vir die Chinese regering. Hulle mag dink hulle kan Jesus verbied en sy koninkryk beheer – maar Hy sien hul nasie as blote stof. Hy het die Ystergordyn weggeblaas soos ‘n hoop stof en Hy kan die Bamboesgordyn net so maklik wegblaas.

Ek glo dit sal nie lank wees voor China se kommunistiese regering geskiedenis is nie. God sal tronkdeure oopbreek, leiers verwyder van posisies van gesag en sy koninkryk vestig van een kant van die nasie tot die ander. Miljoene goddelike Chinese gelowiges sal in staat wees om vrylik uit te roep, “Ons God heers!”

Natuurlik moet ons aanhou om vurig te bid vir ons vervolgde broers en susters in China. Ons moet egter ook vertrou dat God steeds in beheer is van al die nasies.

Vandag sien ons oral oor Amerika verskriklike morele verval, die toename in die okkult, seksuele afwykings en woedende “in jou gesig” ateïsme wat hoogty vier. Sommige Christene vrees dat die hordes van hel stadig besig is om ons nasie oor te neem en Satan se koninkryk van duisternis tot stand te bring.

Ons moenie bekommerd wees nie. Jesaja verseker ons, “Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers...Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!...Jy, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?” (Jesaja 14:5,12,15-16).

Satan mag nou sy dag hê – die nasies skud met ‘n uitstorting van boosheid waarmee hy menigtes verswak met onsedelikheid en wellus. Maar dit gaan alles verander in ‘n enkele oomblik op God se tyd. Selfs nou is die duiwel en al sy demone onder die Here se duim. Hulle mag is beperk en word net tot sover toegelaat. En uiteindelik is hulle koninkryk ‘n koninkryk van blote stof.

Hiskia het verklaar, “O Here van die leërskare, God van Israel...U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak” (Jesaja 37:16).

Satan werk egter oortyd om ons te oortuig dat hy heers oor die koninkryk van die aarde. Hy het dit selfs met Jesus probeer. Toe hy Christus versoek het, het hy Hom hoog op ‘n berg geneem “en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Matthéüs 4:8-9).

Hierdie visioen moes een of ander soort verskyning, wat Satan opgetower het, gewees het. Niemand kan immers ‘n hele koninkryk sien van ‘n bergtop af nie en nog minder al die koninkryke van die wêreld. Die belewenis het Jesus nie in die minste beïndruk nie. Hy was God in die vlees en was teenwoordig by die skepping – so, Hy het geweet Satan was nie in beheer nie. Daarom was die wêreld nie die duiwel s’n om te gee nie. Dit was ‘n leuen, ‘n misleidende fantasie.

Jesus het inderdaad geweet dat Satan slegs heers deur Almagtige God se toestemming. En Christus het geweet wat die uiteindelike uitkoms van die Vader se plan gaan wees. Wanneer God ook al klaar sou wees met die duiwel, sou Hy sy aartsengel Mígael stuur om hom gevange te neem. Dan sal die Here self Satan in die hel te gooi saam met al sy demone en volgelinge en die poorte seël vir ewig.

Geliefde, ons God is nie ‘n bietjie bekommerd oor Satan nie. Hy verknies Hom nie oor wat óns sien as ‘n bose oorname van ons nasie nie. Met net een woord van ons Here se mond, sal Satan vir altyd weg wees en gemartel word vir ewig. Daarom moet ons geen onheil vrees nie.

Jesus het gesê, “Want die koninkryk van God is in julle” (Lukas 17:21). Dit is in hierdie koninkryk – die koninkryk van ons harte – waar Christus oppermagtig heers oor sy mense en ons lei, genees en heers oor ons aksies en optrede.

“Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:6). Ek het vroeër opgemerk dat hierdie vers praat van Jesus se eindelose heerskappy in die ewigheid.  Daar is egter ook ‘n ander betekenisvolle betekenis: Ons moet altyd toeneem in ons onderwerping aan ons Koning se heerskappy.

Kan jy eerlik sê dat Jesus se heerskappy oor jou dag vir dag toeneem? Bring jy jou optrede meer en meer onder sy gesag? Of probeer jy sy gesag verontagsaam wanneer dit bots met jou vlees?

Laat ons nou kyk hoe God oor sy koninkryk  heers. Jy mag wonder – as Jesus in die hemel is en met volle gesag aan die regterhand van die Vader heers, hoe heers Hy dan oor sy koninkryk hier op aarde?

Ons vind die antwoord in die boek van Hebreërs. Die outeur sê vir ons in die Ou Testament het God met sy volk gespreek deur die profete, maar dat Hy gekies het om vandag deur sy Seun te spreek: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun, wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het” (Hebreërs 1:1-2).

Jesus is God se duidelike boodskap aan ons, die goddelike Woord wat vlees geword het. Op sy beurt, het die Vader vandag die Heilige Gees vir ons gestuur om ons te herinner aan die woorde van Christus toe Hy op die aarde was. So heers Jesus oor ons deur die geskrewe, geopenbaarde Woord van God. Die Bybel is ons Heerser se septer waardeur Hy sy woord aan ons bekend maak.

Die Skrif sê van Jesus, “Hy wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Hebreërs 1:3). “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordeelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12).

As jy die getuienis wil hoor van ‘n man, wat beheer was deur God se geskrewe Woord, kan jy dit vind in Psalm 119. Dawid skryf:

“Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11). U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Psalm 119:105). “Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek” (vers 128). “Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (vers 133). “Ek is vrolik oor u belofte” (vers 162).

Ons weet van al Dawid se probleme wat hy in sy lewe ervaar het. Hoewel hy verskriklike tye van mislukking en verwarring beleef het, het hy heeltyd toegelaat om beheers te word deur God se woord – en die Here het sy lewe altyd weer onder goddelike orde gebring. Dawid het gestruikel, maar hy het sy lewe onder die oppergesag van die Skrif bewaar.

Ons samelewing wil niks hiervan weet nie. Die Bybel het ‘n voorwerp van bespotting en beskimping geword. Dit is uitgeban uit baie skole, howe en publieke plekke. Die gevolge daarvan is dat Amerika geen oppergesag meer het nie. Ons nasie vaar doelloos rond sonder enige morele roer.

Ek het die volgende besef toe ek onlangs gedagvaar is vir jurie plig. Tydens die jurielid-keuringsproses, het ‘n prokureur vir ons die volgende vertel: “Jy mag glo, dat wanneer ‘n getuie sy hand op die Bybel plaas en sweer om die waarheid te praat ‘so help my God,’ is hy verplig om dit te doen. Maar daardie eed bind niemand om die waarheid te praat nie. Dit het inderdaad geen betekenis hoegenaamd nie.”

Om jou vandag op die gesag van die Bybel te beroep in ‘n geregtelike hof, is bloot ‘n leë oefening. Trouens, dit het onwettig geword. Beskou die voorbeeld van ‘n Christen regter in Alabama, wat beveel was om ‘n plaatjie waarop die Ten Gebooie gegraveer was van sy hofsaalmuur te verwyder.

‘n Onderwyser in die Bronx het onlangs haar werk verloor, net omdat sy ‘n Bybel op haar lessenaar neergesit het. Hierdie vrou kon wettiglik pornografie, die Koran of okkultiese literatuur aan haar studente vertoon het. Maar ons samelewing word vreeslik kwaad wanneer God se heilige woord selfs net genoem word. (In teenstelling, as jy deesdae in Rusland ‘n Bybel dra – of dit nou op die strate of in die sale van die regering is – vra mense vir jou of jy vir hulle ‘n kopie kan gee).

Jesaja skryf, “En Hy sal oordeel tussen die nasies” (Jesaja 2:4). Jy mag dalk glo dat God ons nasie nie sal oordeel vir die 25 miljoen baba’s wat deur aborsie doodgemaak word nie. Maar die Bybel is baie duidelik oor hierdie saak van die veragting van sy woord: “Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie...Hy sal dit verbreek soos die kruik van ‘n pottebakker verbreek word” (Jesaja 30:9,14).

Amerika se aandelebeurs mag styg. Ons ekonomiese opbloei mag vir ‘n tyd lank voortgaan. Maar God sê, “As jy My Woord verafsku, sal Ek jou fondamente oornag afbreek. Ek sal jou nasie se krag verbreek soos ‘n pottebakker sy kruik in stukke slaan.” Die tyd sal kom wanneer die ballon van voorspoed sal bars.

“Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jesaja 40:6-8). Alles in hierdie lewe gaan uiteindelik brand en verdwyn. Die enigste ding wat sal staan, is God se woord

Al hoe minder Christene laat toe dat hulle lewens deur die Woord van God beheers word. Hierdie probleem het ‘n skouspel in die kerk geword vandag, want menigtes van Christene is nie meer gewillig om in God se huis te sit en luister waar gesonde leer verkondig word nie. Hulle word maklik verveeld, en wil vermaak en tien minute preke hê.

Sulke Christene bou hulle huise op sand, met geen ware fondament nie. Hulle het jare in die kerk deurgebring, maar hulle weet egter baie min van God se woord af. Dit is waarom so baie mense op die ou end regoor die land reis net om “’n woord van God te hoor” by een of ander gevierde profeet.

Ek wil hier ‘n baie duidelike waarskuwing rig: Baie sulke Christene het in groot misleiding verval. Hulle word mislei deur die vleiende woorde van valse profete, wat nie God se gedagtes spreek nie, maar hulle eie. Hierdie sogenaamde profete is niks meer as maar net charismatiese fortuinvertellers nie. En baie is waarsêers en praat uit ‘n gees van waarsêery.

Hoe kom ‘n gelowige op so ‘n punt van misleiding? Beskou die Christen wat God se woord, wat duidelik aan hom verkondig word, hoor. Die woord begin hom oortuig van sonde – maar hy skud dit vinnig af. Hoekom? Hy het ‘n droom, een of ander ambisie, wat hy nie gewillig is om aan God se woord te onderwerp nie. Hy wil iets groots doen of iets belangriks wees en hy wil nie sy droom in gevaar stel nie.

So, in plaas daarvan, gaan hierdie persoon na ‘n byeenkoms om ‘n “woord” by ‘n profeet te kry. Hy is verheug wanneer die profeet vir hom dinge vertel oor sy lewe wat niemand anders kon geweet het nie. Dan begin die profeet vir hom verstommende dinge vertel oor sy toekoms.

Hierdie Christen sal egter nie die profetiese woord teen God se woord toets nie, omdat hy die Skrifte nie ken nie. Nou skoei hy sy hele lewe op ‘n man se woord. En in werklikheid sal die sogenaamde profeet se woord nooit uitkom nie. Daardie Christen het onder ‘n misleiding geval, terwyl hy glo dat ‘n leuen die waarheid is, omdat hy nie die verskil kan onderskei  nie.

Dit is gevaarlik vir jou om leiding te soek by enigiemand as jy daardie persoon se lewe nie ken nie. Esegiël waarsku teen wat met baie gebeur: “Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom – Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee...omdat hulle almal deur hul drekgode hul van My afgewend het” (Esegiël 14:4-5).

God se woord veroordeel elke vleeslike ambisie. En die Heilige Gees is getrou om enige verborge wellus in ons harte aan ons te openbaar. Maar as ons weier om ons onder die hoogste heerskappy van ons liefdevolle Here se Woord te onderwerp, maak Hy dit baie duidelik: “As jy na iemand gaan wat daarvoor bekend is om ‘n woord te gee en jy leef nie onder die heerskappy van my Woord nie, sal Ek hom toelaat om met jou te spreek as ‘n afgodedienaar. Ek sal in werklikheid toelaat dat daardie valse profeet se stem direk met jou spreek ooreenkomstig jou afgod.”

“Want elke man uit die huis van Israel...wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem...hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee. Ek sal my aangesig rig teen dié man...En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek – Ek, die HERE, het dié profeet verlei...soos die ongeregtigheid  van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees” (Esegiël 14:7-8, 9-10).

Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in die lewe van bose Koning Agab. Toe Agab sy profete vir ‘n woord van die Here gevra het, het daardie valse sieners vir hom net vleiende woorde gegee. Hulle het direk met die ambisie in Agab se hart gespreek en sy trots, wellus en gierigheid versterk.

Die Skrif vertel vir ons iets verstommends oor hierdie toneel: “En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee” (1 Konings 22:23). ‘n Gees het werklik voor die Here in die hemel gestaan en gesê, “Ek sal hom oorhaal...Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete” (verse 21-22).

Een onderskeidende broer het aan ons bediening geskryf: “As daar nog een ‘profeet’ na my toe kom met ‘n ‘woord van God,’ gaan ek opgooi. Ek is reeds ’n honderd soortgelyke woorde gegee en nie een van hulle het waar geword nie. Dit raak nou verregaande.”

Paulus waarsku ons dat in die laaste dae, “sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:11-12). Wat is die leuen waarna Paulus hier verwys? Dit is die misleiding dat die Antichris die mensdom se verlosser sal wees.

Jy mag wonder, “Hoe kan enige Christen so mislei word deur te glo dat die Antichris die Messias is?” Paulus gee ons ‘n rede in die voorafgaande vers: Die gelowiges het “die liefde tot die waarheid nie aangeneem... om gered te word nie” (2 Thessalonicense 2:10).

Sulke Christene ignoreer God se woord en laat na om hulle aan sy heerskappy te onderwerp. Dus, maak hulle hulself oop vir allerhande misleiding en word hulle maklik meegesleep deur elke wind en golf van lering. ‘n Bedienaar wat ek diep respekteer, glo misleide Christene kan werklik die mag wees wat die Antichris in ‘n magsposisie sal aanstel.

Ek glo jy kan dadelik agterkom as ‘n Christen geen onderskeiding het nie. Laat ons sê jy moet ‘n groep willekeurig gekose gelowiges byeenroep om ‘n video te kyk van ‘n byeenkoms waar bisarre manifestasies plaasgevind het. Die dinge op die video is ligsinnig, simpel, gek en sommige dinge grens aan onsedelikheid.

Dadelik sal die mense wat in die Skrif gegrond is hulle koppe in ongeloof skud. Hulle mag selfs begin ween of opstaan en die kamer verlaat. Maar diegene wat God se woord verwaarloos, sal juig oor dit wat hulle sien. Hulle sal dink al die onskriftuurlike manifestasies is die werk van die Heilige Gees en sê, “Is dit nie wonderlik nie?” Diegene wat egter gegrond is in God se woord is, kan ware manifestasies onmiddellik onderskei.

Ek was geskok deur ‘n koerant advertensie wat iemand vir ons bediening gestuur het. Dit het gelees: “Dit is nie jou Ma se kerk nie. Dienste beperk tot vyf-en-veertig minute. Ons doel is om jou gelukkig te maak. Kom gemaklik. Lewendige sokkeruitslae.”

Ek vra jou – hoe Bybelgeletterd sal daardie gemeente wees oor vyf jaar van nou af, as die enigste woord wat hulle Sondae hoor, ‘n tien-minute lesing oor menslike goedheid is? Hoe sal hulle ooit in staat wees om enigiets teen God se woord te toets as hulle nooit leer wat dit sê nie?

Ons moet begeer om beheers te word deur geen ander stem as die Een wat ons in die Bybel vind nie. Ons kan selfs nie die soetste innerlike stem, wat ons mag hoor, vertrou nie. Paulus sê dat selfs as ‘n engel vir ons ‘n woord sou bring wat in stryd is met die Skrif, dan moet ons dit verwerp.

Ek hou vas aan hierdie gesindheid veral in my rol as beradingspastoor. Die Bybel is my enigste handboek. So, wanneer ‘n paartjie na my toe kom en berading soek, vra ek vir hulle: “Eerstens, glo julle dat die Bybel die finale woord is in alles waaroor ons praat? En tweedens, sal julle jul onderwerp aan wat ook al die Bybel sê? Sal jy jou eie gevoelens neerlê om te doen wat God beveel?”

Die Here belowe, “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). Die Hebreeuse woord vir bewe beteken hier om te sidder.

Binne ‘n paar minute kan ek onderskei watter gade onderworpe is aan God se woord en watter een nie. Ek beleef die blydskap om te sien hoe ‘n man of vrou begin huil as die Skrif hulle toestand openbaar. Ek sien hulle bewe, hulle hande wring, ‘n rivier van trane stort – alles omdat die woord hulle van sonde oortuig. As dit gebeur, weet ek die proses van genesing het begin.

Maar hierdie gebrokenheid moet in albei partye plaasvind. As ek sien dat een gade sy of haar wenkbroue lig of sy of haar liggaam verstyf in weerstand teen wat God se woord sê, weet ek dinge gaan net erger word. En die maat wat nie hom- of haarself aan die Skrif onderwerp nie, sal die egskeiding inisieer en versoening onmoontlik maak.

Die Skrif maak dit baie duidelik: Wanneer jy jou aan sy heilige Woord onderwerp, vul Hy ons lewens met blydskap. “Hoor die woord van die Here, julle wat vir sy woord bewe... dat ons julle vreugde kan aanskou” (Jesaja 66:5).

Ten slotte, skryf Jakobus, “Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red... Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jakobus 1:21,25).

Laat toe dat jou Koning Jesus jou lewe beheers deur sy Woord. Dan sal jy inderdaad geseënd wees en jou lewe gevul word met sy blydskap.