BEGEER JY OM DEUR GOD GEBRUIK TE WORD?

Carter Conlon

Hierdie is tye waarin ‘n mens, of miskien baie mense, bewus word van God se gewilligheid om te herstel en te genees. Hulle verstaan sy gewilligheid om ons te neem, nie in ons krag nie, maar in ons swakheid. Die Skrifte sê immers nie vir ons om te kom na die troon van God wanneer ons sterk is nie; eerder, ons moet kom wanneer ons swak is. “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Die oomblik van geestelike ontwaking geskied wanneer mense begin om die Here te hoor praat: “Ek weet julle herders het hulle mense gelei na kragteloosheid en ‘n godsdienstige stelsel rondom hulle geskep om te help om hulle dwaalleer te ondersteun. En Ek weet mense het gesondig en my weë vergeet, maar Ek is steeds gewillig, nog een keer, om genadig te wees.”

God roep uit na manne en vroue wat Hy wil gebruik vir sy heerlikheid. Onthou, dit verg nie ‘n menigte mense om ‘n nasie te verander nie. Dit verg nie ‘n honderd mense om jou buurt te verander nie – dit verg slegs een wat glo dat God gewillig is om genade te bewys. As niemand egter na vore tree nie, sal mense wat gespaar kon gewees het, verlore gaan.

As jy begeer om deur God gebruik te word in hierdie uur, moet jy gewillig wees om in geloof na vore te tree. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Vertrou God vir die vermoë om alles te doen waarvoor Hy jou geroep het. Selfs as jy voel jy het min om te bied, bring wat jy het en glo dat Hy dit sal neem en jou generasie verander. “Ek het ‘n man gesoek!” (sien Eségiël 22:30) – God soek daardie een wat sal uitstap met vrymoedigheid en daardie stem sal wees wat God se genade verkondig.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.