BEGEER DIE VERNUWING VAN DIE HEILIGE GEES

Gary Wilkerson

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” (2 Korinthiërs 6:14).

Jy mag dalk wonder waarom jy so afgestomp in jou gees voel. Of waarom jy geen krag het om te getuig soos jy graag sou wou nie. Of waarom jou gebede so swak voorkom. Dit kan moontlik wees omdat daar te veel van die wêreld, die reste van die vlees en vleeslikheid binne-in jou funksioneer.

Jy mag dalk luister na die verkeerde soort musiek of kyk na ongesonde materiaal op TV of aanlyn. En wat van die mense met wie jy assosieer? Spoor hulle jou aan om meer soos Jesus te wees of is hulle vleeslike, plesiersoekende metgeselle wat jou van Hom af weglei?

“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here” (6:17). Wees afgesonder van wat? Van gemeenskap met dinge wat nie nie rein en heilig is nie, dinge wat onwaar en onliefdevol is en verdeeldheid veroorsaak. Dinge wat skeiding tussen jou en ander veroorsaak en jou geloof en jou liefde en jou gebedslewe laat taan.

Trouens, God het dalk reeds in jou hart gepraat oor wat sommige van daardie dinge is en hy sê, “Raak ontslae daarvan. Neem die tyd om hulle uit jou lewe te verwyder. Skei jou af daarvan!” En wanneer jy dit doen, sal sy Gees nou vernuwe. God se genade sal jou omring en jou in staat stel om te verklaar dat die besmettings binne-in jou iets van die verlede is. Die nederlaag deur die bose wat probeer om jou geloof, jou sterkte, jou krag te verminder, is ‘n ding van die verlede!

God vra ons nie om van sekere dinge te onttrek omdat Hy een of ander sedelike polisieman is wat probeer om seker te maak jy doen presies wat Hy sê nie. Nee, dit is omdat Hy ‘n Vader is wat jou liefhet en Hom verbly in jou goedheid. En Hy verbly Hom dat jy ‘n heerlike, kosbare, wondergevulde lewe leef.