ALLES WEENS GOD SE GROOT GENADE

David Wilkerson (1931-2011)

Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word” (Lukas 6:35-37).

Die boek Génesis vertel die storie van Sodom en Gomorra (sien Génesis 18 en 19). Ons sien ‘n treffende voorbeeld van God se groot genade toe hy Abraham se neef, Lot, gewaarsku het oor die naderende oordeel oor die stad en vir hom en sy familie ‘n ontsnappingroete voorsien het. Lot het sy skoonseuns gewaarsku, maar hulle het gedink hy maak grappies, en sy vrou was vervul met besluiteloosheid en het teruggekyk tydens hulle ontsnapping. Maar Lot en sy dogters was uiteindelik gered.

“Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad” (Génesis 19:16).

Die Bybel noem Lot ‘n regverdige man (sien 2 Petrus 2:6-8) en hy is ‘n tipe van die oorblyfsel gelowige in hierdie laaste dae. Soos die sondes van ons samelewing tot aan die hemel reik – sensualiteit, onsedelikheid en ‘n toenemende goddeloosheid – is Amerika ryp vir vernietiging. As God se Kerk vandag regverdig is, is dit slegs weens die bloed van Jesus Christus, en nie weens enige goedheid of sedelikheid wat Hy in ons gesien het nie. Sy blote genade het tot ons gekom en ons uit die oordeel uitgeruk.

Dink daaraan. Toe jy jou saligheid ontvang het, het die Gees van God jou aan die hand gevat en jou letterlik uit jou sondes uitgetrek soos Hy Lot en sy familie uit Sodom en Gomorra gelei het. Hy het jou buite bereik van goddeloosheid en rebellie geplaas en jou uit die oordeel uitgehaal. Alles net oor sy groot genade!