AL WAT SAAK MAAK IS GOD SE TEENWOORDIGHEID

David Wilkerson (1931-2011)

Die Ou Testament is vol verhale van die wonderlike seëninge wat gekom het na diegene wat God se teenwoordigheid met hulle gehad het. Hierdie verhale is bedoel om ons te bemoedig en te vermaan om God se teenwoordigheid in ons daaglikse lewe te soek.

God se teenwoordigheid was so duidelik sigbaar in Abraham se lewe dat selfs die heidene rondom hom die verskil tussen sy en hulle lewens gesien het: “In dié tyd het Abiméleg...met Abraham gespreek en gesê: God is met jou in alles wat jy doen” (Génesis 21:22). Die heidense koning het gesê, “Daar is iets anders aan jou, Abraham, God is met jou oral waar jy gaan!”

God het aan Josua belowe dat geen vyand teen hom sou kon stand hou as God se teenwoordigheid met hom was: “Niemand sal teen jou standhou al die dae van jou lewe nie...Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed!” (Josua 1:5-6). Wanneer God se Gees met ons is, kan ons sterk en vol moed wees – omdat geen vyand ons kan skade doen nie.

God het aan Gideon gesê, “Die HERE is met jou, dapper held...Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel” (Rigters 6:12,14). God het in wese gesê, “Gideon, daar is ‘n mag in jou so kragtig dat dit Israel kan verlos. En daardie mag is my teenwoordigheid.” Hoewel Gideon nie moed gehad het nie, wou God aan hom bewys dat enige mens groot dinge kan doen wanneer die Here se teenwoordigheid met hom is.

God het Jeremia gewaarsku dat die hele land teen hom sou draai en sy profesieë sou verwerp. God het egter belowe, “En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red” (Jeremia 15:20). God sê in wese, “Dit maak nie saak as die hele land teen jou draai nie, Jeremia. Al wat saak maak, is dat my teenwoordigheid met jou is. Wees verseker daarvan!”

Soek Hom met jou hele hart en begeer sy teenwoordigheid in jou daaglikse lewe. Dan sal jy die ontsaglike heerlikheid van God beleef.