Afleidings in die Heiligdom!

David Wilkerson

“Geveindes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af” (Matthéüs 15:7-8).

Ek wil met jou praat oor dinge wat jou aandag aflei tydens gebed en aanbidding – veral in die huis van God. Jesus praat van mense wat in Sy teenwoordigheid inkom met lofprysing in hulle monde, maar wie se gedagtes en harte op ‘n ander plek is, skynheiliges. Hy praat direk met hulle en sê, “Jy gee vir My jou mond en jou lippe – maar jou gedagtes is êrens anders. Jou hart is baie ver van My af!”

Wat van jou? Heel waarskynlik is jy aanwesig in God se huis vir ‘n uur elke week. Daarom is jou liggaam in sy kerk – maar waar is jou gedagtes? Jou mond sê, “Ek aanbid U, Here” – maar is jou hart ‘n duisend myl weg? Waarheen neem jou gedagtes jou tydens aanbidding en lofsang?

Word jou gedagtes betrek by persoonlike of familie probleme? Raak jou gedagtes verstrengel met ‘n besigheidsaak wat jou agtervolg? Hoeveel word jou aandag afgetrek tydens daardie uur in die kerk terwyl die gemeente nader tot God se majesteit?

Jy sal moontlik antwoord, “Alles waarop my gedagtes fokus, is God se saak. Ek sorg vir my familie en doen my werk asof vir Hom. So, my gedagtes is nie goddeloos nie. Dit is gefokus op my roeping en my verpligtinge. Ek kom kerk toe met net so baie dinge waaraan ek dink. Dit kan nie so sleg wees nie.”

Hou egter in gedagte dat die mense met wie Jesus gepraat het, aanbidders was wat tot “Hom genader het” – gelowiges wat in God se Naam bymekaargekom het om saam te aanbid. Jesus sê hulle het Hom met hul woorde geëer. Miskien het hulle selfs hulle hande opgelig en Hom hardop geloof. Wat Hy beskryf, klink inderdaad na groot, kragtige aanbidding.

Maar waar was hulle gedagtes, hulle hart, terwyl hulle Hom aanbid het? As hulle gedagtes elders was, dan was hulle aanbidding skynheilig – waardeloos! Hulle liggame was in die heiligdom – maar hulle harte kon op enige ander plek in die skepping wees.

Ons het nog nie eens begin om te verstaan hoe ernstig God hierdie saak van aanbidding opneem nie – en hoe ons tot Hom moet nader nie!

  Dit is nie ‘n ligte ding om in God se huis in te kom nie! As jy ‘n kerk bywoon waar mense bloot speletjies speel – waar die herder ‘n kort prekie lewer, haastig om dit om te kry – dan sal die duiwel waarskynlik nie ag gee op jou nie. Maar as jy na ‘n kerk gaan waar mense ingestel is op aanbidding – ‘n plek wat God geseën het met die salwing van Sy Gees – is dit ontsaglik gevaarlik om ligtelik in Sy teenwoordigheid in te kom! “Toe sê die Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik...” (Levitikus 10:3).

Die Here het in wese vir Moses gesê, “Jy mag My nie behandel soos ‘n gewone persoon nie! As jy My teenwoordigheid wil binnegaan, moet jy geheilig voor My kom. Almal wat My heiligheid nader, moet dit doen met groot omsigtigheid en bedagsaamheid – weens My heerlikheid en majesteit!”

Die Bybel waarsku teen enige oorhaastige, onbesonne aanbidding: “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ‘n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde...” (Prediker 5:1).

Ons moenie enigiets in die Here se teenwoordigheid doen sonder dat ons hart en siel daarin is nie.

Wat ‘n gebabbel van lofprysing uiter Christene egter – so min daarvan kom uit ons harte! Wat ‘n rivier van gedagtelose halleluja’s en liedere word geuiter deur mense wie se gedagtes soos wilde perde ronddwaal. Geliefde, dit is om die Here se Naam ydelik te gebruik! En – “...die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Exodus 20:7).

In die Ou Testament, was die kleinste onbesonnenheid ernstig geoordeel. God het vinnig diegene wat roekeloos Sy teenwoordigheid genader het, getugtig:

  • In Levitikus 10, het Aäron se twee seuns, Nadab, Abihu ongeërg in God se teenwoordigheid ingegaan. Hulle het hulle tempelpligte uit gewoonte gedoen, met geen respek vir die dinge van God nie. Hulle het in werklikheid nie eens gedink dat die Here sou oplet as hulle in Sy teenwoordigheid ingehaas het en vreemde vuur geoffer het nie. So, hulle het ingejaag, angstig om terug te keer na hulle hoerery buite die tabernakel: “En die seuns van Aäron, Nadab en Abihu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE” (Levitikus 10:1-2). God het hulle op die plek doodgeslaan! Hy het in wese gesê, “Ek gaan elke geslag in die kerk, elke toekomstig kind van My wys dat My volk geheilig moet wees wanneer hulle tot My nader!”
  • Ussa was met die dood getref toe hy die ark van God, wat die Here se teenwoordigheid verteenwoordig het, ligtelik opgeneem het. Hy het gedink dit was niks besonders om sy hand uit te steek en die ark regop te hou en te keer dat nie val nie. Maar God het sy oneerbiedigheid dadelik geoordeel – en Ussa het dadelik gesterf!
  • Die Bet-Semiete het ook die ark met oneerbiedigheid genader. Bet-Semes was ‘n Levitiese dorp, waar die mense ‘n priesterlike agtergrond gehad het. Hulle het God se gebod insake die ark geken. Eerder as om egter ontsag en eerbied daaraan te betoon, was hulle bloot nuuskierig daaroor.

Die Kanaäniete het pas die ark teruggestuur, omdat so baie mense in Kanaän gesterf het. En nou het die Bet-Semiete gesê, “Ons het alles van die ark gehoor. Maar hoe lyk dit binne-in?” Iemand het die versoendeksel opgelig en binne-in geloer. Mense moes waarskynlik in rye gestaan het om binne-in die ark te loer – omdat die Skrif sê dat 50,070 van hulle gesterf het! God het hulle almal gedood omdat hulle die ark ligtelik opgeneem het en nie die majesteit van Sy teenwoordigheid eerbiedig het nie.

Agterna het iemand gesê, “Wie kan hierdie heilige God nader?” En dit is presies wat God wou hê – ‘n heilige vrees in die mense se harte, sodat hulle nie Sy teenwoordigheid ligtelik sou opneem nie!

As jy in St. Peter se Katedraal sou inloop hier in New York Stad, sal jy ‘n heilige stilte hoor. In talle evangeliese kerke op Sondagoggend, hoor jy egter net ‘n gebabbel wanneer jy inloop. Geliefde, ons moet God se heiligdom binnegaan met ‘n eerbiedige hart!

Die Puriteine het die hele Saterdag deurgebring om vir Sondag se aanbiddingsdienste voor te berei. Dit was vir hulle iets heiligs om God se huis binne te gaan en hulle het gesorg gedra om hulself te heilig en te reinig voor die Here. Hulle het gebid, “O God, moenie dat ek U huis ligsinnig binnegaan nie!”

Jy mag antwoord, “Maar dit is die dag van genade. Vandag tref God nie oneerbiedige aanbidders in Sy teenwoordigheid met die dood nie.” Vandag is God se oordeel in der waarheid baie groter. Roekelose aanbidders word nou geestelik getref en neergeslaan – en dit is ‘n neerslaan tot die dood!

Jy sien, hoe meer oneerbiedigheid vir God se teenwoordigheid in jou hart inkruip, hoe minder eerbied betoon jy. En daardie oneerbiedigheid neem net toe, totdat jy God se teenwoordigheid nader met totale onbesonnenheid en roekeloosheid. Dit alles lei tot geestelike dood!

Jy mag dink dat jou gedagtes nie geoordeel kan word nie. Maar God kyk na en luister na die hart: “Want die woord van God is...’n beoordeelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart...alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:12-13).

Ons word beveel om God in gees en in waarheid te aanbid!

Sou jy dit waag om die kerk binne te loop op Sondagoggend terwyl jy ‘n strooipop van jouself dra, dit in jou gunsteling sitplek neersit en dan huistoe gaan en TV kyk? Belaglik, sê jy? ‘n Bespotting?

As jou hart nie op aanbidding ingestel is nie – as jou verstand nie teenwoordig is nie, jou gedagtes nie onderwerp is aan gehoorsaamheid aan Christus nie – kan jy maar net sowel ‘n strooipop in jou sitplek laat sit. Ten minste is dit eerliker as om God se huis binne te kom sonder jou volle aandag of jou hart!

Watter soort laster sou dit gewees het vir die Leviete om hulle panne met swael te vul in plaas van met welriekende wierook? Dit is egter presies wat ons Christene doen! Ons bring swaelgevulde panne in God se teenwoordigheid in – en dit is, gedagtes wat vol is met allerhande soorte sondige, trotse, onbeheersde gedagtes en ons laat hulle toe om vrylik rond te dwaal. Wat ‘n verskriklike sonde – om te probeer aanbid met ons gedagtes vasgevang deur die gees van hierdie wêreld!

Christene is nou so haastig dat hulle nie eens uit hulle karre wil klim nie. Sommige kerke bied inry-dienste aan, waar mense hulle vensters kan afdraai en na ‘n diens luister deur die luidsprekers. Ander Christene klim nie eens uit die bed uit om kerk toe te gaan nie. Pastoor Glimlaggende Gerrie bring sy vertroostende boodskap tot in hulle slaapkamer, op TV!

Hoe sal hierdie mense voor die oordeelstroon van Christus staan en rekenskap gee van Sy bevel: “En laat ons on onderline byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).

Hoe kan sulke gelowiges sê dat hulle Jesus liefhet en tog nie saam met God se mense wil wees nie?

Aan die ander kant, kom letterlik miljoene sogenaamde Christene bymekaar elke Sondagoggend vir wat genoem word die “aanbiddingsdiens.” Duisende kore sing lofsange tot God, met instrumente wat galm, soliste wat sing, gesangeboeke wat oopgemaak word en gemeentelede wat God loof en prys.

Baie van hierdie sogenaamde aanbidding kom egter nooit verder as die dak nie! In plaas daarvan, val dit op die grond – ongehoor, onaanvaar, ‘n algehele verlies. Waarom? Dit is omdat mense se gedagtes ingestel is op voetbalwedstryde, sport en televisie. Vroue is bekommerd oor hulle Sondagmiddagete. Hulle lippe en monde bring lof – maar hulle harte is ver van Jesus af!

Talle aanbidders is inderdaad siek met wat ek noem “geestelike malheid.” Malheid is ‘n wanorde van gedagtes – wilde fluktuerende gedagtes, kort aandagspanne en geen konsekwente opeenvolging van gedagtes nie. En soortgelyk, word “geestelike malheid” gekenmenrk deur dwalende, angstige gedagtes, die verstand wat reise om die wêreld maak – terwyl die mond aanbid en die lippe lofsange sing. Dit is geestelike malheid in God se oë!

Probeer om vir een uur in die Ovaalkantoor van die President te sit op dieselfde manier as wat jy in die Here se teenwoordigheid sit. Staar na die plafon, tuur by die venster uit, lê op jou sitplek, maak jou oë toe en laat jou kop agtertoe rus. Binne minute sal die President sy sekretaresse skakel en sê, “Kry hierdie karakter uit my teenwoordigheid uit! Wat maak hy hier?”

“En julle sê: Kyk, wat ‘n moeite! En julle verag dit [dit is, sug en haal swaar asem], sê die HERE van die leërskare...so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? Sê die HERE...Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? Sê die HERE van die leërskare” (Maleági 1:13,8).

God sê, “Probeer om jou goewerneur op dieselfde manier te behandel as wat jy My behandel. Gedra jou teenoor een of ander bekende persoon op dieselfde manier as wat jy jou voor My gedra. Sien of een van hulle jou gedrag aanvaar!”

God aanvaar nie swak, vervelige, halfhartige aanbidding nie! En die rede waarom talle Christene nie in die kerk met krag, opwinding en ywer aanbid nie, is omdat hulle geen intimiteit het met Jesus by die huis nie. Diegene wat geleer het om in sy privaatheid te aanbid en op Jesus te fokus, het nie ‘n herder nodig om hulle op te pomp as hulle God se huis binnekom nie. Hulle bing hulle eie vuur af – ‘n vuur aangesteek in die afgesonderde binnekamer van gebed!

Ware aanbidders kan nie wag om by die kerk te kom om die Here te prys saam met God se mense nie. Niemand hoef hulle te lok met konserte, vermaak of ‘n bohaai nie. Vandag word die meeste kerke egter bestuur soos lugredery maatskappye wat gratis myle aanbied vir passasiers wat gereeld vlieg: Kom na die kerk elke Sondag en kry gratis punte by. Verdien dubbele punte vir die middel van die week se diens. Verdien driedubbele bonuspunte vir gebedsbyeenkomste. Geliefde, hierdie bohaai strem slegs ware aanbidding!

Dit alles is ook van toepassing op gebed. So dikwels as ons God se troon nader, word ons aandag vinnig afgelei in die heiligdom. Ons bid wonderlike woorde, ons lippe beweeg – maar gou besef ons dat ons gedagtes êrens anders is. Sulke gebed, waartydens ons aandag afgelei word, is onaavaarbaar – ‘n mors van tyd!

Dink daaraan: Wanneer die siel die liggaam verlaat, is al wat oorbly ‘n dooie karkas. En so is dit met gebed en aabidding: Wanneer jou gedagtes wegdwaal van jou gebed af, dan is al wat oorbly, ‘n dooie karkas. Jou gebede het geen lewe nie!

Seën en eer God diegene wat bloot opdaag by Sy huis? Nie as ons ons gedagtes elders laat nie! Ons kry nie “geestelike krediete” net omdat ons ons liggame in ‘n kerkbank neergesit het nie. Ons liggame is van geen waarde as ons lomerig, half aan die slaap en met ons aandag op ‘n ander plek opdaag nie. Dit is asof ons van God verwag om gebede te verhoor wat óns nie eens hoor as ons bid nie! Ons wil hê Hy moet aanbidding aanvaar wat ons nie eens kan onthou nie.

Waarom word ons aandag so afgelei tydens aanbidding en gebed? Laat my vir jou ‘n paar redes gee:

1. Ons misluk om elke gedagte gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus!

Ons gedagtes het ‘n natuurlike geneigdheid om af te dwaal en weg te dryf. Dikwels kan ons nie slaap nie, omdat ons nie instaat is om die stortvloed van gedagtes wat ons verstand binnekom af te skakel nie. Dit gebeur met studente in die skool; hulle kan nie hulle gedagtes bepaal by die les nie. Ek noem dit “onwillige afleidings.”

Terwyl ek onlangs in die kerk gesit het, was ek oorstroom met invallende gedagtes – gedagtes van bediening, my volgende preek, kerkfinansies en die behoefte vir meer ruimte. Dit is alles belangrike dinge. Maar my aandag was heeltemal afgelei van om die Here te aanbid. Ek moes teen hierdie dinge stry en my gedagtes tot gehoorsaamheid bring!

Toe God met Abraham en gekommunikeer het en met hom ‘n verbond gesluit het, het  Abraham vyf diere doodgemaak en hulle oop neergelê as ‘n offer. Die Skrif sê – “Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag” (Génesis 15:11).

Dit is presies wat met ons gebeur tydens aanbidding! Gedagtes vlieg af tot by ons soos lastige voëls en meng in met ons intimiteit en probeer ons offer verslind. En, soos Abraham, moet ons hulle almal verdryf.

Daar is egter ook “vrywillige afleidings.” Dit is wanneer ‘n persoon toelaat dat sy gedagtes kom en gaan. Soms is hy gefokus op aanbidding – maar die meeste van die tyd, laat hy toe dat ander gedagtes inmeng. Hy prys God slegs in vlae, want sy gedagtes kom en gaan in die diens. Uiteindelik sal hierdie persoon alle fokus verloor en op die ou end sal sy gedagtes heeltemal weg wees van die diens af!

Elke keer wanneer ek myself afsonder om te bid, begin my gedagtes binne tien minute wegdwaal in allerhande rigtings. Ek hoor my mond die Here aanbid, maar my gedagtes is heeltemal op iets anders. Ek probeer stry teen die stroom van gedagtes, maar daar stroom selfs meer in. En so gaan dit met my in God se huis. Ek kan die Here loof en prys, vol liefde vir Jesus – en skielik begin my gedagtes agter iets anders aanjaag.

Dit is die vlees wat ons aandag wil hê! Dit stry voortdurend teen ons gees. Ons afdwalende gedagtes is nie altyd van die duiwel af nie. Soms drom hulle net om ons saam – gedagtes oor besigheid, familie, probleme en moeilikhede. Maar hulle moet altyd gevange neem word – omdat ons in ‘n oorlog betrokke is!

Die vlees sal altyd probeer om in te meng met ons aanbidding. Dit val ons lastig en roep, “Kyk na jou – jy is te moeg! Jou oë val toe. Moenie die Here so ‘n klein offertjie gee nie. Gaan nou bed toe. Jy kan later bid wanneer jy wakkerder is.”

Maar as ons die vlees toelaat om sy sin te kry, sal ons nooit bid nie! Ons word beveel om die vlees teë te staan, om daarteen in opstand te kom. En so moet ons ons fokus op Jesus terugbring. Ons moet ons gedagtes op Hom sentreer. En gou sal God se vuur val op ons heilige offer!

2. Daar is Sataniese afleidings!

“Daarna het Hy my Josua, die hoëpreister, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te kla” (Sagaria 3:1).

Satan sal elke ware aanbidder wat tot God nader, weerstaan! Jakobus beveel: “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God...” (Jakobus 4:7-8).

Jakobus neem aan dat wanneer jy tot God nader, jy deur die vyand aangeval sal word. Daarom waarsku hy, “Eerstens, stry teen Satan – stel al jou weerstand op – omdat wanneer jy met jou hele verstand en siel aanbid, sal hy jou altyd teëstaan en jou aandag probeer aflei!”

Satan se belangrikste werk is om gebed te verhinder en ware aanbidding te besoedel – veral in diegene wat ernstig is om Jesus te volg. Wanneer die Heilige Gees in Times Square Kerk werk – wanneer alle gedagtes op die Here gefokus is, ontvang Hy suiwer, onvervalsde aanbidding – Satan gebruik alles in sy vermoë om dit te ontwrig!

‘n Paar weke gelede, het ‘n duiwelbesete man in die voorste ry gesit. En heel op die piek van aanbidding – net toe die heerlikheid van die Here geopenbaar was in groot krag en gesag – het hierdie man in ‘n demoniese waansin ingegaan. Ses van ons werkers moes hom verwyder – en hy het in der waarheid verskeie van hulle gebyt terwyl hulle hom uitgedra het.

(Op daardie stadium het ons nie geweet of hierdie man VIGS gehad het of nie. Ons het gevrees vir ons werkers, want mediese kenners het onlangs bewys dat ‘n persoon VIGS opgetel het deur ‘n menslike byt. Ons het gebid terwyl die duiwelbesetene getoets was – en dank God, die toetse was negatief.)

‘n Halfuur later, het die besetene nie eens onthou wat hy gedoen het nie. Satan het probeer om ons aandag af te lei van wat God besig was om te doen, om ons gedagtes van die Here af weg te vat. Maar dit het nie gewerk nie!

‘n Paar maande later, het ‘n man in die middel van ons diens opgestaan, uitgegaan, ‘n vullisblik opgetel en dit deur ‘n kar se windskerm gegooi. Toe het hy kalm teruggeloop in die kerk in en gaan sit. Die polisie moes ons byeenkoms binnekom en die man uitneem!

Hierdie afleiding van ons aandag gebeur heeltyd. Duiwelbesete mense wat op die strate woon loop in, neem ‘n sitplek in en raak aan die slaap. Maar net wanneer ons aanbidding begin en die Here begin om ons lof te ontvang, maak die duiwel hierdie mense wakker. Hulle begin vloek en maak ‘n bohaai – en poog om te versteur!

Satan sal enigiets doen om suiwer, toegewyde aanbidding te ontwrig – omdat hy dit vrees! Hy sal subtiele pyle in jou gedagtes inskiet, en allerhande soorte onafgehandelde besigheid inspuit. Hy sal al jou al jou probleme, al jou bekommernisse en al die mislukking van die afgelope week laat herleef. En hy sal speel met jou emosies en beelde in jou gedagtes oor en oor laat speel soos ‘n filmmasjien. Hy sal fluister:

“Hoe kan jy aanbid, jou skynheilige? Jy het gister gesondig! Jy is ‘n tweegesig. Jy kan nie jou hande ophef en die Here prys nie, omdat jy onwaardig is. Ander rondom jou leef in oorwinning. Maar jy is die enigste een wat God teleurstel!”

Satan wil hê jy moet ‘n wanhopige, verslane gelowige wees – so verstrengel in jou probleme, jou aandag so by die sorge van die lewe, dat jy God nie met jou hele hart en verstand kan aanbid nie. Maar geliefde, jy moet hierdie Woord weer hoor: God kyk na jou hart!

Is jy berouvol, vol goddelike droefheid? Het jy na Jesus gekom vir reiniging? Het jy die Heilige Gees aangeroep om hulp? As dit so is, weerstaan dan die duiwel se leuens! Hef jou hande op en aanbid jou Verlosser. Moenie dat jou aandag afgelei word nie!

3. Laastens, wil ek praat oor diegene wat verder gegaan het as net aandag wat afgelei word in die Heiligdom – na ‘n toestand van totale verwaarlosing van die Here!

“Kan ‘n jonkvrou haar versiersels vergeet, ‘n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32).

O, hoe bang maak hierdie vers my! Ek het hierdie vers aangehaal wanneer ek my daaglikse gebedstyd misgeloop het weens besigwees. Dit dryf my altyd terug na die binnekamer om uit te roep, “O, Here, ek wil U nie vergeet nie!”

Hierdie vers is selfs meer angswekkend wanneer ons die konteks van die gedeelte beskou. God sê vir sy volk, “Ek het jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad. Jy het reg begin en jy het My aanraking gehad. Jy was eens heilig vir My en Ek het jou geseën. Maar nou het jy My verlaat! Jy aanbid My nie meer nie. Jy het die fontein van Lewende Water verlaat!”

“...jou afkerighede sal jou straf...verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie...maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok...Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie...tevergeefs het Ek julle kinders geslaan; hulle het geen tugtiging aangeneem nie...my volk het My vergeet; dae sonder tal” (Jeremia 2:19-32).

God se volk het nie langer na Sy huis gegaan om Hom te aanbid nie. Hulle het lui geword teenoor die dinge van God en al Sy seëninge en oordele teenoor hulle vergeet. Hulle het Hom vir dae sonder tal verwaarloos en hulle eie plesier nagejaag. En die ergste van alles, hulle het gesê, “...Ek is tog onskuldig...ek het nie gesondig nie” (Jeremia 2:35).

Baie mense wat dink dat hulle gered is, gaan nie in die hemel kom nie, omdat dit wat hulle aandag afgelei het, verander het in verwaarlosing: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam...” (Hebreërs 2:3).

Verwaarlosing in Grieks beteken hier “roekeloosheid.” Hierdie vers praat van diegene wat toelaat dat die Woord van God van hulle af wegdryf!

As jy God nie aanbid met jou hele verstand en hart nie, sal verwaarlosing bietjie vir bietjie insluip – en jy sal begin aanbid bloot uit gewoonte. Hoe sal jy egter God se oordeel ontvlug? Hoe sal jy Sy onguns ontsnap, Sy toorn?”

Toets jouself met God se Woord:

1. Kom jy vrymoedig en gereeld in die Allerheiligste deur die bloed van Jesus? (Hebreërs 10:19).

2. Nader jy konsekwent tot God in volle geloofsversekerdheid? (Hebreërs 10:22).

3. Hou jy vas aan Hom, sonder om te wankel? (Hebreërs 10:23).

4. Vergader jy saam meet ander gelowiges? Of versuim jy die onderlinge byeenkomste met ander gelowiges? (Hebreërs 10:25).

Jy sê jy is gered, dat jy Jesus liefhet. Daarom moet ek vir jou vra: Aanbid jy Hom daagliks met jou hele hart – in Gees en in waarheid met niks wat jou aandag aftrek nie? Delf jy in die Woord van God asof jou lewe daarvan afhang? Of gaan jy vir dae lank sonder om jou Bybel oop te maak, sonder gebed tot Hom in jou binnekamer?

God wil hê dat ons moet weet dat Sy huis ‘n huis van gebed is. En ons gaan geoordeel word deur hoe waardevol ons aanbidding geag het en hoe ons Sy teenwoordigheid binnegegaan het. Ons moenie bloot sit en dit indrink nie; ons moet ‘n offer bring! Ons moet alle vlees opsy sit en uitroep, “Here, ek is hier om te brand as ‘n lewende offer vir U. Ek gee U my hande, my stem, my gedagtes – alles, Jesus. Verteer my soos ‘n lofoffer aan U!”

Dit is die soort lofprysing waarin God woon. So, wanneer jy God se huis binnekom hierdie week, hef jou hande op en sê, “O, Jesus, ek is nie waar ek moet wees nie – maar ek het U lief! Reinig my, heilig my. Gee vir my rein hande en ‘n suiwer hart. En moenie dat die duiwel my verstand aanraak nie! Plaas ‘n muur van vuur rondom my gedagtes. En laat my die offer bring van ‘n gefokusde, sinvolle lofprysing tot U!”

God sal jou nie toelaat om meer in jou sitplek te sit en jou gedagtes te laat ronddwaal nie. Hy het jou lief – en Hy ken die krag wat rein aanbidding in jou gees vrystel. Dit maak jou sterker as enige leeu, groter as enige reus. Dit breek elke muur en elke vesting af – omdat dit jou ‘n reinhartige, doelgerigte aanbidder van Hom maak! Halleluja!