AANVAAR DEUR DIE VADER

David Wilkerson (1931-2011)

“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kon word geregtigheid van God in Hom” (2 Korinthiërs 5:21).

Ek glo dat regverdigmaking (of vryspraak) deur geloof die fundamentele waarheid van Christendom is. Jy kan nie ware rus en vrede ken, totdat jy oortuig is dat jy nooit geregverdig kan word in God se oë deur jou eie werke nie.

As jy nie die volmaakte geregtigheid van Christus, wat joune word deur geloof, verstaan nie, sal jy ‘n lewe lei van arbeid en sweet en probeer om God te behaag deur een of ander wettiese, hopelose poging om jou eie geregtigheid op te rig. Maar jy sal in werklikheid nooit enige geregtigheid hê om na die Here te bring nie.

‘n Bekende gedeelte in Jesaja sê dat al ons geregtigheid soos ‘n besoedelde kleed is in God se oë (Jesaja 64:6). Dit beteken nie dat God ons goeie werke verag nie – geensins. God wil ons regverdige dade hê en ons behoort al die goeie dade te doen wat ons kan. Maar as jy dink jou goeie dade verdien jou saligheid, dan is dit niks anders as ‘n besoedelde kleed nie.

Natuurlik kan jy goed voel oor die goeie werke wat jy doen. Byvoorbeeld, jy sal waarskynlik ‘n oomblik van oorwinning en tevredenheid geniet wanneer jy versoeking weerstaan. Maar die volgende dag val jy weer terug in ‘n sonde en gou verloor jy jou blydskap. Jy glo die Here is kwaad vir jou en dink, “Ek sal dit nooit maak nie.”

So ‘n wipwaentjie rit van emosionele hoogtes en laagtes en kan lei tot ‘n lewe van ellende. Waarom? Omdat jy probeer om God met jou vlees te behaag!

Geliefde, geen geregtigheid van die vlees sal ooit staande bly voor God nie. Selfs die beste mense onder ons – die mees morele, goddelike heiliges – het almal klaaglik misluk en dit het hulle ontbreek aan God se heerlikheid. Niemand van ons kan ooit aanvaar word in die Vader se oë deur ons goeie werke nie. Ons word totaal deur Hom aanvaar deur Christus.