AANHOUDEND IN GESPREK MET GOD

David Wilkerson

“Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebrews 11:5-6).

“En Henog het met God gewandel.” Die Hebreeuse betekenis vir gewandel impliseer dat Henog voortdurend met God gepraat het. Hy het driehonderd-vyf-en-sestig jaar – of ‘n “jaar” van jare geleef! Hy het ‘n nuwe soort gelowige bekend gestel, omdat hy ‘n tipe van die toegewyde gelowige in Christus is.

Henog het geleer om met God te wandel te midde van ‘n bose samelewing. Hy was geen kluisenaar wat weggekruip het in ‘n grot in die wildernis nie. Hy was ‘n gewone familieman met dieselfde probleme en laste wat ons dra – betrokke in alledaagse lewe met ‘n vrou, die verpligtinge van kinders en huishoudelike verantwoordelikhede.

Diegene wat met God wandel, is buite Satan se bereik, buite sy koninkryk van duisternis en in Christus se koninkryk van lig. “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13). Ons word op die huidige oomblik oorgebring uit die duiwel se strik tot in die hart van Jesus.

Die Griekse woord vir oorgebring stel voor dat Christus persoonlik gekom het en ons uit die duiwel se mag geneem het en ons in die hemelse plekke laat sit het. Maar God bring slegs diegene oor wat naby aan Hom wandel, soos Henog. Diegene wat gevange gehou word volgens Satan se wil, kan nie weggeneem word en verlos word van die duisternis nie. Jy is nie waarlik gered nie, totdat jy jou hart stewig daarop ingestel het om met God te wandel.