AAN WIE SE KANT IS JY?

David Wilkerson

In hierdie dae, vlug talle Christene weg van groterwordende teëspoed. Sogenaamde profete sê vir mense om na húlle veilige hawens te kom. Christen Jode word gewaarsku om terug te keer na Israel om die finansiële ineenstorting wat in Amerika verwag word, te ontvlug.

Ek weet waar ek wil wees wanneer dinge uitmekaarval. Wanneer die finansiële markte in duie stort, wil ek teruggaan na Wall Street waar ek was tydens die ineenstorting op die 19de Oktober 1987. Ek wil daar wees soos ‘n hedendaagse Henog, terwyl ek met God wandel en gesels, sonder vrees – ‘n vredevolle, vreeslose getuie wat Jesus verkondig aan ‘n mensdom wie se wêreld in duie gestort het.

Jesus het nie vir ons gesê om weg te kruip nie, Hy het gesê, “Gaan!” Ek wil wees waar die Heilige Gees is – en jy kan seker wees Hy sal op die voorste linies van die stryd wees, waar Hy die bekommerde en angsbevange mense na Hom toe sal roep.

Henog het gesien dat sy eie samelewing goddeloos was en terwyl hy afgekyk het na die heel laaste dae, was al wat hy kon sê, “Goddeloos!” Henog, die sewende van Adam af, het ook hieroor geprofeteer en gesê, “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het” (Judas 14-15).

Wandel jy met die Here? Dan moet jy die wêreld sien soos Henog dit gesien het: goddeloos en vol van die gees van die Antichris. Hoe kan jy deel wees van dit wat goddeloos is? Hoe kan jy jouself assosieer met diegene wat Hy kom om te oordeel? Hy kom met tienduisende van Sy heiliges om ‘n sondige, verlore wêreld te oordeel. Aan wie se kant is jy?