“WEK ONS OP, HERE”

Jim Cymbala

Aan die gelowiges in Thessalonika, het Paulus geskryf, “Blus die Gees nie uit nie” (1 Thessalonicense 5:19). Dit is verstommend dat hoewel die Heilige Gees ten volle God is, dit heeltemal moontlik is vir gelowiges soos jy en ek om sy werk te verhinder en Sy heilige vuur te blus.

Sommige mense glo valslik dat wat God ook al wíl doen, Hy sál doen. Beskou Jesus se uitnodiging aan Sy eie kerk in Laodicea: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20). As Hy Christus is, en Hy wil inkom, waarom kom Hy nie net in nie? Waarom doen Hy moeite om te klop en te vra? Dit is die geheimenis van God se soewereiniteit en ons vrye keuse.

Ons moet op Hom reageer of ons sal Sy beplande seën misloop.

Eenkeer het Paulus vir Timótheüs gesê om die kole aan te blaas, om die vuur aan die gang te hou (sien 2 Timótheüs 1:6). Ons moet dieselfde doen! Vir sommige van ons gloei die kole dofweg en ons moet daaraan aandag gee, dit aanroer, daarop blaas sodat dit aan die brand sal slaan.

Ons het nodig dat die vuur van die Heilige Gees ons lewens en ons plaaslike byeenkomste verander. Ons het nodig dat dit dwarsdeur ons dorpe en stede versprei, sodat Christus verheerlik kan word. Mag dit ons gebed wees vandag: “Stuur die vuur, God. Brand, deurdring, verander, vernuwe, verlig. Doen wat U belowe het, terwyl ons wag in Christus se Naam.”

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in 'n klein bouvallige gebou in 'n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is 'n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.