“SOOS EEN WAT GESAG HET”

David Wilkerson (1931-2011)

Nadat Jesus die Bergpredikasie gelewer het, was sy hoorders in verwondering. Die Skrif sê, “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Matthéüs 7:28-29). Die Griekse woord vir gesag in hierdie vers beteken “met meesterskap, met mag, soos een in beheer.” Jesus se hoorders het in wese gesê, “Hierdie man praat asof Hy weet waarvan Hy praat.”

Let op, die vers sê nie dat Christus “met gesag” gepraat het nie, maar “soos een wat gesag het.” Dit is een ding om te praat met wat ons dink gesag is – met ‘n luide, lawaaierige stemtoon – maar dit is ‘n heel ander saak om met geestelike gesag te praat.

Die gesag wat Jesus uitgeoefen het, het hele godsdienstige stelsels laat sidder. Joodse leiers het aanhoudend gekom en geëis, “Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?” (Matthéüs 21:23). Maar Jesus het geweet Hy hoef nie die duiwel se vrae te beantwoord nie.

As die kerk van Jesus Christus ooit sy mag en gesag nodig gehad het, is dit nou die tyd. Die duiwel het sy eie valse Christusse in God se huis ingebring – swak, goddelose predikers wat praat soos engele van die lig en kerke verander in voel-goed gemaksones waar sonde nooit genoem word nie en mense se gewetens afgestomp word. Die gevolg is ‘n kerk vol seer, verdorde mense wat nie weet hoe om Satan se aanslag in hulle lewens teë te staan nie.

Toe die dissipels magteloos teen die vyand was, het Jesus vir hulle gesê dat mag oor Satan slegs kom deur gebed en vas. Waarom is dit so? Ek glo dit is omdat die Here meer tyd wil hê om aan ons innerlike mens te werk. Hy wil ons harte heeltemal ingestel hê op Hom.

Geliefde, geregtigheid is om te glo dat wat God sê waar is en dan jou lewe daaraan toe te wy. Dit is so eenvoudig. Soos jy leer om te groei in jou verborge mens en vertrou op sy woord vir jou in elke krisis, sal daar aan jou geestelike gesag gegee word.