“ONS SAL DIT SELF DOEN”

David Wilkerson (1931-2011)

Die profeer Jesaja het van Israel gesê: “Weë die opstandige kinders, spreek die HERE, wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ‘n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel” (Jesaja 30:1). Die Hebreeuse woord hier vir weë, dui op ‘n innige droefheid en smart oor wat God beskryf as rebellie, wat beteken afvalligheid, hardkoppigheid, ‘n wegdraai.

Eenvoudig gestel, God het gesê, “My volk vra nie meer my raad nie. Hulle kyk nie na My vir leiding en advies nie. In plaas daarvan, steun hulle op die arm van die vlees en elke keer wat hulle optree sonder om My te soek en hulle na die wêreld wend vir hulp, stapel hulle sonde op sonde. Hulle het hulle vertroue in die sterk arm van die Here verlaat.”

Vandag dink ons aan rebellie as om te weier om God se Woord te gehoorsaam en ons te wend na dwelms, alkohol, seksuele onsedelikheid en ander groot sondes. Maar die rebellie waarna God hier verwys, is baie ernstiger as hierdie dinge. Die Here se eie kinders het in wese gesê, “Laat ons God nie hiermee opsaal nie; ons het die wysheid en ons sal dit self doen.”

God se volk het goed geweet dat hulle op die Here in elke situasie moes vertrou, maak nie saak hoe klein nie. Die Psalms het hulle heeltyd hieraan herinner: “By U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het” (Psalm 57:2). “Want U was ‘n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel” (Psalm 63:7).

Die Here word bedroef wanneer jy stappe neem om jou eie planne te maak werk sonder om vir Hom te wag om op te tree. Jy moet regtig oor alles bid en God toelaat om beheer te hê maar heel dikwels wanneer ‘n krisis ontstaan en dinge lyk of dit te stadig vorder, neem jy op die ou end sake in jou eie hande. Jy raak dalk ongeduldig met die Here se tydrooster maar, dit is noodsaaklik om te onthou dat jou eie redenasie nie God se beste plan sal laat plaasvind nie. En die Woord belowe ‘n skuilplek en gejubel wanneer jy op Hom vertrou.