“MOENIE BANG WEES NIE!”

David Wilkerson (1931-2011)

God beveel ons om nie vir ons vyande bang te wees nie. “Moenie vir hulle bang wees nie” (Deuteronómium 7:18). Vir Israel het die “hulle” die groot, goedbewapende, heidense nasies verteenwoordig wat hulle in die Beloofde Land moes trotseer. Vir ons, vandag, verwys “hulle” na al die probleme en oorweldigende moeilikhede wat ons in die lewe beleef.

God sê ons moenie bang wees nie, so geen ander verduideliking is nodig nie. God is almagtig en Hy is bewus van die sataniese verstings wat ons trotseer – elke strik, beproewing en versoeking. Maar Hy sê steeds, “Moenie bang wees vir hulle nie!”

God het vir Abraham, ‘n man wat in ‘n vreemde land gewoon het, omring deur magtige konings, gesê om nie te vrees nie. Abraham het geen idee gehad waar hy sou beland nie, maar God se belofte was sy skild en sy groot beloning (Génesis 15:1). God het in wese vir Abraham gesê, “Jy sal probleme ondervind, maar Ek sal jou deur dit alles beskerm.” En Abraham het gereageer deur God se woord aan hom te glo. “Abram het toe in die Here geglo en God het hom dit tot geregtigheid gereken” (Génesis 15:6).

Hierdie selfde woorde het ook gekom na Abraham se seun Isak. Hy het ook in ‘n vyandige omgewing gebly, omring deur Filistyne wat hom gehaat en geteister het. Hulle wou hom van hulle land af hê en die Skrif sê dat die Filistyne die putte wat Abraham gegrawe het en vir Isak agtergelaat het, toegegooi het (Génesis 26:15). Isak het konflik beleef sy hele lewe lank en hy moes soms gedink het, “God, waarom het U my hier gevestig?” Maar God het gesê: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou ‘n groot nageslag gee” (Génesis 26:24)

Ons is ook die kinders van Abraham en God gee vir ons dieselfde belofte wat Hy vir Abraham en sy nageslag gegee het: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Galásiërs 3:29). Ons hemelse Vader sien elke tree van ons lewens en ten spyte van al ons krisisse en probleme, beveel Hy ons weer en weer in die Skrif, “Moenie bang wees nie!”