“METGESELLE VAN JESUS!”

David Wilkerson (1931-2011)

Kort na die opstanding van Jesus het Petrus en Johannes ‘n kreupel bedelaar net buitekant die tempelpoort teëgekom toe hulle op pad was om te aanbid. Hierdie man het vir ‘n lewe gebedel en het vir Petrus en Johannes vir aalmoese gevra. Petrus het geantwoord, “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” (Handelinge 3:6). Die man was onmiddellik genees en met baie groot blydskap het hy begin om deur die tempel te hardloop, terwyl hy op en af gespring en uitgeroep het, “Jesus het my genees!”

Mense het die kreupele herken en ‘n skare het saamgedrom en was in verwondering oor die toneel. Petrus en Johannes het voordeel getrek uit die situasie en het begin om met vrymoedigheid bekering te verkondig met die gevolg dat duisende hulle saligheid ontvang het (sien Handelinge 4:4). Toe die owerstes van die sinagoge sien wat besig was om te gebeur, was hulle woedend en het die mans in die tronk gegooi. Hulle het geëis om te weet, “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” (4:7). Hulle het natuurlik presies geweet wie se naam verkondig was, maar hulle het hulleself doelbewus blind gehou daarvoor.

Petrus was deur die Heilige Gees vrymoedigheid gegee en het die owerstes geantwoord, “Deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het...want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (4:10 en 12). Die owerstes van die sinagoge was stomgeslaan en “verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken” (4:13).

Wat was hierdie kenmerk wat Petrus en Johannes onderskei het? Dit was die teenwoordigheid van Jesus! Die owerstes van die sinagoge het besef, “Ons het Jesus gekruisig. Tog spreek Hy steeds vandag deur hierdie twee mans.” In daardie uur, het Petrus en Johannes Jesus se opdrag volbring om van Hom te getuig in “Jerusalem.” Net so, glo ek dat God se kragtige getuienis in hierdie laaste dae nie sal kom deur prediking alleen nie. Dit sal kom deur manne en vroue wat “metgeselle van Jesus” is en hulleself met Hom afsonder en Hom soek met hulle hele hart en siel.

Watter groter bewys van God kan daar wees as dat lewens verander word deur die bonatuurlike krag van Christus? Mag dit van jou gesê word, “Daardie man, daardie vrou is ‘n metgesel van Jesus!”