“LAAT DIE SWAKKES SÊ, ‘EK IS ‘N HELD’”

David Wilkerson (1931-2011)

Ons is almal skuldig aan ongeloof met tye. Dikwels beleef ons net nog ‘n stryd en laat toe dat die vyand ons moedeloos maak. Ons mag dalk gevoelens ontwikkel van onverklaarbare eensaamheid of, ‘n gevoel van volkome ontoereikendheid beleef, sodat ons oortuig is dat die Here ons nie hoor nie. ‘n Roepstem bars in ons harte uit, “God, waar is U? Ek bid, ek vas, ek bestudeer u Woord. Waarom verlos U my nie hiervan nie?”

Ons gaan na die binnekamer van gebed sonder om lus te voel om te bid. Ons siele is droog, leeg en uitgeput van ons stryd, maar ons durf egter nie die Here beskuldig dat Hy ons verwaarloos in ons toestand nie. Daarom nader ons Hom net weekliks met wat ons beskou as nederigheid. Koppe onderstebo, sê ons moedeloos, “Here, ek blameer U nie. U is goed vir my en vriendelik met my. Ek is die probleem; Ek het U soveel keer teleurgestel.”

Wag! Dit is nie nederigheid nie. In teendeel, dit is ‘n direkte belediging vir ‘n Vader wat ons aangeneem het met ‘n verbondsbelofte om ons lief te hê en te ondersteun dwarsdeur ons leeftyd. Wanneer ons vir Hom sê hoe sleg ons is – hoe swak, leeg en nutteloos ons vir Hom is – minag ons alles wat Hy met ons bereik het. Dit bedroef die hemelse Vader.

Wanneer ons moedeloos word in ons geloof, sal die Heilige Gees in geen onduidelike terme met ons praat. “Genoeg van hierdie selfbejammering. Staan op! Jy is geliefd, geroep en uitverkore en Ek het jou geseën met my Woord.” Ons moet onsself dissiplineer om alles te onthou waardeur God ons gedra het. Ons moet juig met die wete dat Hy bly is oor wat Hy vir ons gedoen het.

Jy is dalk keer op keer getoets. Nou het die tyd vir jou aangebreek om ‘n besluit te neem. God wil geloof hê wat die laaste toets deurstaan en Hy gee vir jou sy Woord om jou in staat te stel om te triomfeer. As Hy jou beveel om iets te doen, sal Hy jou voorsien met die krag en sterkte om te gehoorsaam: “Laat die swakke sê: Ek is ‘n held” (Joël 3:10). “Word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (Efésiërs 6:10).