“JY IS ONWAARDIG” – DIE DUIWEL SE LEUEN

David Wilkerson

Wie sê vir jou dat jy onwaardig is, goed vir niks, nutteloos en onbruikbaar is vir God? Wie herinner jou gedurig dat jy swak, hulpeloos en ‘n totale mislukking is? En wie sê vir jou dat jy nooit teen God se standaarde sal opweeg nie?

Wie sê vir lede van die aanbiddingsspan dat hulle nie waardig is om God se lof in Sy huis te besing nie of vir musikante dat hulle nie waardig is om instrumente van aanbidding te bespeel nie? Wie sê vir diegene wat plek aanwys, ouderlinge, Sondagskoolonderwysers, vrywilligers en mense in die kerkbanke dat hulle onwaardig is?

Dit is geen geheim nie. Ons almal weet waarvandaan hierdie stem kom – die duiwel self. Hy wil jou oortuig hou dat God kwaad is vir jou.

Die duiwel, die aanklaer van die broeders, herinner jou aan al jou sondes en mislukkings. Hy sê vir jou, “God kan jou nie gebruik, totdat jy hierdie dinge uitpluis en jouself waardig maak nie.” Moenie val vir hierdie leuen uit die put van die hel nie.

Talle mense wat hierdie boodskap lees, is deur die duiwel oortuig dat hulle onwaardig is om ooit deur God gebruik te word. Beskryf dit jou? Miskien voel jy te onwaardig om selfs ‘n kind van God genoem te word. Jy kyk na jou lewe en sien teenstrydighede en mislukking.

Laat my toe om iets voor jou te bely: Ek het nog nooit waardig gevoel vir my hoë roeping as ‘n prediker nie. Deur al my jare van diens aan die Here, was ek aangeval deur beskuldigings dat ek onwaardig is om namens God te spreek, te preek, ander te onderrig en ‘n leier te wees.

So, ek is in der waarheid nie waardig om hierdie boodskap te skryf nie en jy is nie waardig om jou hande met lof na God op te hef nie. Jy sien, niemand is waardig nie – nie in menslike sterkte en krag nie! Maar Jesus het vir ons gesê,  “Ek het jou waardig gemaak.”

“Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Eén baie tot regverdig gestel word” (Romeine 5:19).