“JULLE KEN MY”

David Wilkerson (1931-2011)

Die Here vra vir ons, “Glo jy werklik Ek sien presies waardeur jy tans gaan?”

Terwyl jy hierdie boodskap lees, gaan jy miskien deur iets waarin jy nodig het dat Hy namens jou optree. Die aard van jou probleem vereis ‘n antwoord.

Glo jy dat God graag al jou bewegings dophou, net soos ‘n pa sy kindjie dophou? Glo jy dat Hy aan die werk is as jou liefdevolle, sorgsame Vader – wat elke traan opvang, elke sug hoor en oor jou waak?

Dit is presies hoe die Bybel Hom beskryf. “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. . . Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hulle benoudhede” (Psalm 34:16,18).

“Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Psalm 103:13).

Die Hebreeuse woord vir ontferm beteken “om te liefkoos, lief te hê en om deernis te hê.” Die Skrif sê dat God hulle wat Hom vrees (glo) in sy arms omhels. En Hy sê vir jou, “Ek ken al jou gedagtes en al jou bekommernisse. Ek ken elke stryd wat jy moet voer. En Ek gee om oor dit alles.”

Dawid het ‘n beroemde gedeelte oor hierdie onderwerp geskryf: “Here, U . . . ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver af my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, Here, U ken dit geheel en al” (Psalm 139:1-4).

“Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand” (Psalm 139:17-18).

Dawid sê eintlik, “God weet alles van my af. Hy sien my elke beweging en ken selfs my gedagtes. Oral waar ek gaan, daar is Hy.”