“AS U MY RYKLIK SEËN”

Jim Cymbala

Wat kan ons doen om die seën van God te geniet vandag? Is daar ‘n geheim en indien wel, wat is dit? Gelukkig is daar duidelike Bybelse riglyne om ons te lei. Die eerste duidelike instruksie van die Here, is dat ons in gebed moet vra vir ‘n uitstorting van sy seën. Onthou wat Jabes laat uitstaan het in sy geslag: “En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesë: As U my ryklik seën” (1 Kronieke 4:10).

Dit lyk asof Jabes nie die idee kon aanvaar om sonder die seën van God te lewe nie. Let asseblief op die beklemtoonde woord, “aangeroep.” Sy gebed was nie blote verstandelike gebed nie, maar die innige uitroep van ‘n siel wat nie kon lewe sonder ‘n oop hemel bokant hom nie.

Jabes se gebed herinner ons aan Jakob, een van die voorvaders van Israel, wat ook ‘n deurbraak tyd van gebed met God gehad het. Een nag het Jakob gestoei met God-in-die-vorm-van-‘n-mens en het daarna ‘n sin uitgespreek wat baie mense dwarsdeur die eeue geïnspireer het om God vurig vir meer te soek. Toe die man wou weggaan, het Jakob gereageer, “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën” (Génesis 32:26). 

Hierdie soort passievolle, desperate gebed is defnitief uit die mode vandag. Miskien is dit die rede waarom ons so min mense goddelike seën beleef in beide die kerk as ‘n geheel en haar individuele lede. So dikwels lyk dit of ons tevrede is met die status quo eerder as om na meer van God te strewe. Hieroor lyk dit asof ons so min impak op die wêreld rondom ons het.

Ek verstaan nie die geheime van hoe ‘n soewereine God die smeking van nietige mense verhoor nie, maar dit lyk duidelik dat effektiewe gebed dikwels meer insluit as net om die regte woorde te sê. Om God met jou hele hart te soek, is die soort Bybelse gebed wat nie net antwoorde verseker nie, maar die seën van God wat ons almal so nodig het. As Jesus self soms hardop gebid het met trane, dan kan ek sekerlik vry voel om my eie siel voor God uit te stort. En jy kan ook.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.