‘N WONDERLIKE VOORBEELD VAN GELOOF TYDENS TEENSPOED

David Wilkerson (1931-2011)

Toe Paulus hierdie brief aan die Filippense geskryf het, was hy aangehou in ‘n Romeinse tronk, met sy voete vasgebind aan ‘n soldaat aan elke kant. Die toestande was haglik en Paulus het groot vernederings beleef, met geen tyd alleen en geen vryhede nie.

Dink daaraan. Hier was ‘n man wat baie aktief was, op die oop pad gereis en op onstuimige seë gevaar het om gemeenskap met God se kinders te hê. Paulus het sy grootste blydskap verkry uit die besoek van kerke wat hy dwarsdeur die gebied gevestig het. Maar nou was hy vasgeketting, letterlik vasgebind aan die hardste, onheiligste mense in die lewe.

Sommige van die Christene wat Paulus geken het, het begin kla dat hy oneer aan die evangelie gebring het weens sy situasie. Maar Paulus was vasbeslote om God se doel daarin te vind dat hy toegelaat is om tot op hierdie punt te kom. In plaas van te vra, “Waarom het dit met my gebeur?” het hy besluit om te ontdek wat sy reaksie moes wees. Hierdie dienskneg van God was vasbeslote: “Ek kan nie verander waar ek is nie, maar ek weet my voetstappe word deur God gerig. Daarom, gaan ek Christus groot maak en ‘n getuienis wees terwyl ek in hierdie boeie is.”

“Dat Christus ... groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is” (Filippense 1:20). Paulus was op geen manier onverskillig of ongeërg oor sy omstandighede nie, maar hy was vasbeslote dat God se Woord bevestig sou word deur sy reaksie op sy verdrukking. “Omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie ... In alle geval ... word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly” (1:17-18).

Paulus se gesindheid is 'n wonderlike demonstrasie van hoe ons behoort te reageer op ongunstige omstandighede. Dit is moontlik om al ons môres te verkwis deur angstig te wag om verlos te word uit ons lyding, maar as dit ons fokus word, sal ons die wonderwerk en blydskap van vrygemaak te word van ons beproewing misloop. Paulus se boodskap aan die Filippense was: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (4: 4). En ek sê vir jou, “Verbly jou altyd in die Here!”