‘N WAARSKUWING TEEN ‘N AFGEWATERDE EVANGELIE

David Wilkerson (1931-2011)

Die een groot besorgheid van ons hemelse Vader is dat geen “ander evangelie” ons sal wegneem van die kruis van Jesus Christus nie. Talle Christene het hulle geloof laat skipbreuk ly omdat hulle jare gelede ‘n vleiende woord gegee is, miskien iets soos die volgende: “Jy gaan ‘n groot bediening hê en duisende siele vir die Here wen,” en nie een woord daarvan het waar geword nie. Nou is daardie skape totaal moedeloos, met hulle geloof op die ashoop.

As jy ‘n woord van die Here gaan ontvang, laat dit wees uit die Skrif. Nog beter, laat dit wees vanuit jou kosbare tyd in gebed deurgebring in die binnekamer saam met Jesus. Laat jou naaste goddelike vriende daardie woord toets saam met jou om dit te bevestig; andersins, as jy enigiets toelaat om die pad te kom van die ware evangelie, sal jy in wanhoop opeindig.

Paulus was bekommerd oor ‘n gevaarlike aanval teen Christus se kerk toe hy vir die Efésiërs gesê het: “Ja, uit julleself sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:30). Die Griekse woord vir “verkeerd” hier beteken moedswillige volharding in die bevordering van misleiding.

Paulus het in wese gewaarsku: “Sommige van julle met gesag, sal opstaan en ‘n verdraaide evangelie bring en ‘n verdorwenheid van die suiwer evangelie inlyf.” Hoe kon dit ooit gebeur onder die leiers van hierdie kerk? Let op, Paulus het nie verwys na wolwe of rowers van weduwee’s nie. Nee, hy het verwys na bedienaars wat vrees en wegdeins daarvan om die hele raad van God te verkondig – diegene wat ‘n afgewaterde evangelie, ‘n halwe evangelie, slegs ‘n deel van God se Woord bring.

Dit is die verantwoordelikheid van elke gelowige om seker te maak jy sit onder die lering van ‘n goeie herder, een wat die hele, ongekompromitteerde Woord van God verkondig. Jesus sê, “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Johannes 10:11). Dit beteken dat die bedienaar van God al sy trots en vrees vir die mense sal neerlê om sy skape met God se suiwer Woord te voed. Maak seker jy is met niks minder tevrede nie.