‘n Voorbidder vir die Nasies

David Wilkerson (1931-2011)

Ek dink dikwels aan Abraham se voorbeeld toe hy vir die goddelose stad, Sodom, gebid het. Die Here het hom geantwoord en gesê: “As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil” (Génesis 18:26, AFR53).

Toe Abraham dit hoor, het hy met die Here begin onderhandel. “Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes?” (Génesis 18:28). Abraham het die getal al laer gemaak totdat hy uiteindelik vir God gevra het wat Hy sou doen as daar net tien regverdige mense, wat Hom gesoek het, was. Sou Hy die stad spaar? God het Abraham geantwoord, “Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie” (Génesis 18:32).

Hierdie gedeelte vertel vir ons iets van die Here. Hy is gewillig om hele samelewings te spaar as Hy ‘n groepie regverdige mense onder hulle kan vind wat sy aangesig soek ter wille van hulle land.

God gaan selfs verder met hierdie saak as wat Hy met Abraham gegaan het. In Eségiël, praat God daarvan dat Hy na een biddende gelowige soek wat in die bres sal staan. “Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie” (Eségiël 22:30).

Tydens Eségiël se profesie, was Israel geestelik besoedel. Die profete was oneerbiedig en het God se wet links en regs verbreek. Die volk was onderdruk, van oral af getreiter, vol wellus en het mekaar beroof. Nie een mens onder hulle het na die Here uitgeroep nie. Niemand het in die bres gestaan om voorbidding te doen nie. God sou die hele land red ter wille van net een voorbidder.

As Paulus van sy reise vertel, noem hy nie net Timótheüs en Titus as sy helpers nie, maar ook Lídia en die ander kosbare vroue wat hom bygestaan het. Hulle was almal toegewyde dienaars en dienaresse wie se bystand gehelp het om hele nasies met die evangelie te bereik het. Ons moet diegene bystaan wat hulleself toegewy het om na die nasies te gaan. As jy nie ‘n sendeling kan wees nie, kan jy deel wees van die ondersteuningsliggaam van voorbidders.

Jy kan “in die Gees” na enige land op aarde gaan. Jy kan ‘n onbereikte volk op jou knieë bereik. Trouens, jou afgesonderde binnekamer word dalk die hoofkwartier van ‘n beweging van God se Gees oor ‘n hele land.