‘N VERNIETIGENDE SONDE

Claude Houde

“Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.” Ek glo diep dat die sonde van ongeloof onder die mees vernietigende sondes is in hedendaagse Christenskap. Ongeloof sny geestelik ons kele en verblind ons. Dit maak ons aan die slaap en knel ons bietjie vir bietjie, meedoënloos, jaar na jaar, todat ons die onaanvaarbare aanvaar.

Huidiglik beleef die koninkryk van God die grootste geestelike herlewing in die geskiedenis van die mensdom. In dieselfde tydperk, wys meer as 90 persent van evangeliese kerke dwarsdeur Noord Amerika en Europa geen betekenisvolle groei nie. Hulle is daartoe gereduseer om hulle vorige ontwakings te onthou, of desperaat vas te klou aan die jongste gier wat een of ander asemrowende en onmiddellike deurbraak êrens in die toekoms beloof.

Verstaan my asseblief. Ek is diep dankbaar vir wat God gister gedoen het, sowel as wat Hy dwarsdeur die wêreld doen. Ek prys Hom daarvoor. Maar ek is hier – vandag! Ek moet my bekeer (om jou te bekeer beteken om van rigting te verander) van die ongeloof en slapheid in my geloof wat veroorsaak het dat ek die onverdraaglike kan verdra.

Ongeloof is ontsaglik meer ernstig en verwoestend as wat ons kan begryp of peil. Omring deur ‘n wêreld gevul met immoraliteit, verval, afgodery en demoniese godsdienstige rituele – walglik in hulle wreedheid en heeltemal sonder enige geestelike lewe of ware geestelike betekenis – het Jesus stewig en sterk gestaan. Maar Hy het geween oor ongeloof. Ongeloof het Hom letterlik verskeur.

Jesus Christus is dieselfde gister, vandag en vir ewig en daar is geen aannemer van persoon by ons God nie. Hy is onveranderlik – Hy verander nooit; almagtig – alvermoënd; absoluut regverdig; en heeltemal verbind om in jou stad, jou kerk, jou land te doen wat Hy op grootse en bonatuurlike wyse doen dwarsdeur die wêreld terwyl jy hierdie woorde lees.

Tussen ons en die onbeperkte grootheid van Sy krag staan die kloof van ongeloof. Dit is waarom ons nie nog ‘n dag kan leef sonder om uit te roep, “Here, gee ons groter geloof!” nie.

 

Claude Houde is die hoofpastoor van Eglise Nouvelle Vie (Nuwe Lewe Kerk) te Montreal, Kanada. Onder sy leierskap het Nuwe Lewe Kerk gegroei van ‘n handjievol mense na meer as 3500 in ‘n deel van Kanada met min suksesvolle Protestante kerke.