‘n Vars Uitstorting van die Heilige Gees

David Wilkerson

Wanneer God die asem van sy Gees uitblaas, dan weet almal dat Hy gekom het. Lukas, die outeur van Handelinge skryf, “En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het” (Handelinge 2:2). Ek hou van hierdie vertaling van die laaste gedeelte, wat dit ‘n “geweldige rukwind” noem.

Volgens hierdie vers, het God se Gees by Pinkster gekom met ‘n “geluid uit die hemel.” Lukas sê dat hierdie geluid geweldig, druisend was en die hele atmosfeer gevul het: “en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het” (Handelinge 2:2).

Iets anders het ook gebeur toe die Heilige Gees gekom het: Hy skud alles in sig. By Pinkster, was die godsdienstige heersers in Jerusalem ontsteld oor wat hulle tussen Jesus se volgelinge gesien gebeur het. Hulle het probeer om die effek van daardie magtige rukwind uit die hemel te keer.

Maar die Heilige Gees het Petrus aangeraak om te sê, “Julle kan ons dreig en in die tronk gooi. Maar julle kan nie die magtige wind wat deur die land waai, keer nie. Julle kan ons beveel om stil te bly, maar ons kan nie ophou praat nie. God het ons geseën deur met sy asem op ons te blaas en ons moet die woord, wat Hy aan ons gegee het, spreek.”

Die gelowiges by Pinkster het toe in ‘n groot lofprysingsbyeenkoms bymekaargekom en gebid: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Handelinge 4:29–31).

Ek wil naspeur wat die profete sê oor die laaste uitstorting van die Heilige Gees op sy kerk in hierdie laaste dae.

Die Bybel sê dat in die laaste dae alles wat geskud kan word, geskud sal word. Hierdie skudding sal die kerk, die uitverkorenes van God, insluit: “Toe het sy stem die aarde geskud...Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26).

Petrus en die dissipels het gesien dat dit wat by Pinkster gebeur het, hierdie uitstorting uit die hemel was. Petrus het dadelik opgestaan en verklaar: “Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is...sal Ek in dié dae van my Gees uitstort” (Handelinge 2:16, 18). Net so vandag, sien ons in die Skrif wat die Heilige Gees in hierdie laaste dae doen — inderdaad, in hierdie laat uur.

Die Ou Testament profete praat van ‘n “vroë reën” en ‘n “laat reën” uitstortings van die Gees wat deur Jesaja, Jeremia, Esegiël en die kleiner profete beskryf is. Maleági — die laaste boek van die Ou Testament — beskryf die “laat reën” as ‘n aardskuddende gebeurtenis wat sal kom. En Maleági gee bewyse dat die grootste werk van die Heilige Gees — sy “laat reen” uitstorting — huidiglik in ons geslag gebeur.

Maleági se boodskap is ‘n tweeledige profesie. Eerstens praat hy van die goddelose, materialistiese, sekulêre, plesiermal wêreld. En tweedens praat hy van diegene wat die Here liefhet en vrees.

1. Hier is Maleági se waarskuwings aan die goddelose nasies.

“Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees” (Maleági 4:1). Ek sien bewyse oral dat ons nou leef in die presiese tyd wat Maleági beskryf. As daar ooit ‘n dag soos ‘n brandende oond is, waar alles “brandend” oor die wêreld is — ekonomies, sosiaal, geestelik — dan is dit vandag.

Volgens Maleági, is daar ‘n vurige slagting wat kom en die goddelose met niks sal laat om hulle te beskerm nie: “Sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Maleági 4:1). Elke veilige hawe sal verteer word. Wie gaan hierdie vurige slagting beleef? “Al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe” (Maleági 4:1). Dit beteken nie net hulle wat verslawings en perverse dinge geniet nie. Die groot goddeloosheid waarvan Maleági hier praat, veronderstel ‘n arrogante ballende vuis teenoor God.

Ons sien ‘n moderne voorbeeld van hierdie ballende vuis in die Europese Unie. Hulle roem trots daarin dat hulle ‘n sekulêre samelewing is. Volgens hulle konstitusie, het God geen plek in hierdie samelewing nie, geen erkenning en sy naam is totaal uitgewis. So ver dit die leiers van die Europese Unie aangaan, is God dood.

Huidiglik is Amerika op pad in dieselfde rigting. Ons stoot God stadig heeltemal uit ons howe, ons skole en ons samelewing. Ons weier om sy seën op ons nasie te erken en in plaas daarvan sê ons, “Ons het alles bereik in ons eie krag. Ons is die grootste, magtigste, rykste nasie op die aarde en ons het dit alles self bereik.”

Ek is lief vir Amerika, maar sidder dat hierdie nasie sy neus vir God opgetrek het en ons vuis teenoor Hom opgelig het en Hom uitdaag om op te tree. Die Hebreeuse woord vir “vermeteles” in Maleági 4:1 beteken “arrogansie.” Dit is die ergste soort arrogansie om met sonde te pronk voor die hemel en te sê, “God sien niks. Hy kan niks doen nie. Hy het niks met ons te doen nie.”

Dit is arrogansie om op sy Woord te trap en alles wat sy hart weerspieël te bespot. Beskou die bespotting wat van die huwelik gemaak word deur die verheerliking van seksuele perversies. Dit is totale arrogansie om huwelike tussen twee mans of twee vrouens te wettig en hulle toe te laat om kinders aan te neem, ‘n saak wat nou voor die howe plaasvind in Californië. In die tussentyd, is daar man-seun bewegings wat regte eis vir mans om seksuele verhoudings met kinders te hê.

Soos hierdie goddeloosheid voor ons oë ontvou, blyk ons hulpeloos te wees om dit te stop. Tog wonder ek: hoe lank dink die goddelose sal God sulke arrogansie aanskou en dit nie oordeel nie?

Maleági se profesie is in die verlede vervul toe goddelose samelewings te ver gegaan het.

Dit is duidelik uit die Skrif dat Amerika nou meer sonde gepleeg het as afvallige Israel, meer as Sodom en Gomorra en Noag se gewelddadige en goddelose geslag. Jesaja het geprofeteer, “Want kyk, duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke” (Jesaja 60:2). Die Hebreeuse woord vir “donkerheid” hier beteken “mismoedigheid.” Jesaja het gesê, “’n Donker mismoedigheid is aan die kom en dit sal die hele aarde vul.”

Jeremia het van sulke donkerheid gepraat toe hy na afvallige Juda uitgeroep het: “Gee eer aan die Here julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander” (Jeremia 13:16).

Maleági praat ook van daardie dag wat kom, ‘n tyd van donkerheid en mismoedigheid wanneer God die hoogmoediges en arrogantes sal verneder. Wanneer daardie dag kom, sê die profeet, sal alle wortels en takke heeltemal verbrand, menende dat daar niks oor sal wees waarop herbou kan word nie. Voor daardie tyd in die geskiedenis, het die Here nooit die wortels van herstel heeltemal vernietig nie. Maar nou sê die profeet dat God alles sal omspit en “geen wortels laat nie,” menende geen pad van herstel nie.

Huidiglik het die dag van afrekening oor Amerika en die wêreld gekom. Alle takke van die V.S. regering — insluitende federale banke en finansiële instellings — sal die ineenstorting van ons ekonomie beleef. Die ou gevestigde korporasies — eeu-oue instellings wat in ons samelewing gewortel is — sal geraak word met geen sigbare pad van herstel nie. Mismoedigheid sal oor die slimstes kom en hulle sal nie weet hoe om uit die donkerheid te kom nie.

Selfs die sekulêre wêreld sien dat Amerika op pad is na swaar tye. ‘n Onlangse uitgawe van The Economist wys die Statue of Liberty wat mismoedig met haar hande in haar hare sit en haar fakkel wat op die grond lê. Die opskrif lees: “Ongelukkige Amerika.” Die redaksie het die volgende geskryf, woord vir woord: “Daar is ‘n verwoede somberheid wat oor die wêreld gaan”...”Ons was vir so lank gierig en dit het ons ingehaal”...”Dit is te laat. Ons het begin gly”...”Amerika is in ‘n verskriklike stemming. Ons sink weg soos Sodom en Gomorra”...”Die ekonomie wankel”...”Die wêreld is in ‘n kookpot” (kursief myne).

Tien jaar gelede, het ek ‘n boek genaamd America’s Last Call, vrygestel, waarin ek ‘n ekonomies slagting voorspel het. Teen daardie tyd was ek gespot en ‘n oordeelsdagprediker genoem (hoewel en nooit oordeel sonder trane verkondig nie). Onlangs het ons bediening se fone aanmekaar gelui met bestellings vir die boek.

Amerika is nie die enigste nasie wat ‘n tyd van somberheid beleef nie. Onlangs het ons bediening ‘n span na ‘n groot stad in Rusland gestuur. Hulle het teruggekom en berig dat ekonomiese wanhoop ‘n deel van die nasie oorval het. Die koste van brandstof, elektrisiteit en ander basiese behoeftes styg skerp, met salarisse wat net helfte is van wat mense nodig het om te oorleef. Ons span sê hulle kon nêrens ‘n glimlag vind nie — behalwe in die kerke, waar hoop gedy het weens mense se vertroue in die Here.

Jy mag sê, “Dinge is anders in Amerika. Ons ekonomie sal altyd homself regruk. Daar was tevore probleme soos hierdie en herstel het altyd gevolg. Dit mag vyf jaar neem, maar dit sal herstel word.” Tog, wat as Maleági se woorde waar is? Wat as alle wortels van herstel geskroei is tot op die laagste punt, verby enige hoop van herstel?

Laat my nou iets voorstel: Veronderstel Maleági was vandag in die lewe. En veronderstel hy het dieselfde boodskap volgende Sondag by jou kerk verkondig. Stel jou voor Pastoor Maleági staan op die preekstoel. Wanneer hy sy boodskap afsluit met herhaling van die woorde van die profete en die komende dinge uitspel, maak hy sy Bybel toe. Dan stap hy van die podium af en uit die kerk uit.

Die mense bewe oor wat hulle gehoor het van die dag van donkerheid en somberheid. Maar terwyl Maleági voor hulle staan, begin hy te  glimlag. Skielik, sprei hy sy arms uit en roep, “Juig! Hierdie profesie wat julle nou net gehoor het, is nie vir julle nie. Dit is nie bedoel vir diegene wat die Here liefhet en vrees nie. Dit is eerder vir die hoogmoediges, die arrogantes, die wetteloses. Dit is ‘n heilige waarskuwing aan die goddelose wêreld.

“Ja, daar sal kollaterale skade wees van die komende dag van uitdelging. Christene sal ook ly as gevolg daarvan. Dit kan nie verhoed word nie. Maar God het ‘n woord aan julle gestuur en daardie woord sal jou deur die swaar tye dra. Laat die berge in die see val. Laat die ekonomie bewe en val. Laat alles geskud word wat geskud kan word. Maar vir hulle wat die Here vrees, het God ‘n heeltemal ander woord gegee.”

2. Vir die oorwinnende kerk, is daar ‘n totaal ander profesie, ‘n heerlike een.

Vir God se mense is die boodskap nie een van somberheid nie, maar van blydskap. Wanneer donkerheid die aarde bedek — wanneer manne se harte beswyk van vrees oor al die aaklige dinge wat gebeur — word ons vertel dat in daardie oomblik  “sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees” (Maleági 4:2).

In die donkerste uur, wanneer dinge hopeloos lyk — wanneer daar vrees aan alle kante is met alles wat oorskadu word deur somberheid — sal Jesus verrys in groter openbaring as enige ander tyd in die geskiedenis. En die wêreld gaan sy reddende en bewarende krag in al sy heerlikheid sien. In ‘n wêreld wat mal geword het — waar radikale Islamiete roem dat hulle oorwin het, wanneer agnostici roep, “God is dood!” — sal Jesus Christus opstaan. En Hy sal skyn soos ‘n genesende Son, helderder as in alle vorige geslagte.

Iets sal met God se mense gebeur as gevolg van die Seun se verskyning. Die res van die verse lees: “En julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal” (Maleági 4:2). Die oorspronklike Hebreeus vertaal dit as volg, “Julle sal voortgaan en spring soos kalwers wat vrygelaat word uit die stal.”

Dit spreek van die laat reën uitstorting, die beloofde uitstorting van die Heilige Gees, wat insluit ‘n groter, magtiger geluid uit die hemel. Wanneer dit kom, sal die Heilige Gees die wonderwerke herstel: “Gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesings, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind” (Handelinge 4:29–30).

Daar is drie woorde wat baie Christene nie meer van praat nie: tekens, wonders en wonderwerke.

Vir ‘n hele geslag van gelowiges, bring hierdie drie woorde herinnerings van baie misbruike in die kerk. Op ‘n stadium toe so baie mense vir ware werke van God gesoek het, “met tekens wat volg,” het bedrieërs vals “heilige werke” opgevoer. Sogenaamde genesingsevangeliste het ‘n sirkus van alles gemaak — gierige mans en vroue wat “genesings” teen ‘n prys aangebied het.

Wanneer baie van ons nou daardie drie woorde hoor, kom daar ongemaklike gevoelens by ons op: ‘n vrees vir fanatisme, verleentheid oor die bespotting en pynlike herinneringe van geliefde broers en susters wie se geloof op die ashoop beland het as gevolg van al die valsheid. Dit is tragies dat baie in Christus se kerk nie meer verwag dat God wonderwerke sal doen nie.

Hoor egter asseblief wat ek wil sê. Die duiwel ken die Skrif en hy weet dat daar van ‘n ware, Heilige Gees-geïnspireerde herlewing van genesing geprofeteer word. Dit is waarom hy selfs nou sy eie, perverse “genesingsbyeenkomste” bevorder. In sy byeenkomste, is Christus nie die middelpunt nie, maar eerder die verheffing van engele of ‘n persoon.

Maar wat Maleági geprofeteer het, kan nie deur die mens bevorder word nie. Dit sal nie gelokaliseerd wees nie en dit sal nie rondom enige persoonlikheid of persoon wentel nie. En dit sal oral in die huise van oorwinnende gelowiges gebeur en so ook in kerke. Pastore en gemeentelede sal salwing ontvang om vir die siekes te bid. Ouderlinge sal opstaan met nuwe geloof in die krag van Jesus se naam om wonders te verrig. Almal sal hande op die siekes lê en vir hulle bid om gesond te word.

Laat my nou ‘n vierde woord voeg by die terme waarvan ons nie meer praat nie: manifestasies. Ons vrees manifestasies van die vlees, waar mense in bisarre maniere optree. Ja, daar is baie sulke vleeslike misbruike wat “manifestasies van die Gees” genoem word. Maar as die Heilige Gees waarlik onder ons werk, soos Hy gedoen het met mense regdeur die Skrif, moet ons nie bang wees vir ‘n ware manifestasie nie.

En die manifestasie wat gaan plaasvind in die laaste-dag uitstorting van die Gees, sal ‘n Heilige Gees blydskap wees. Terwyl die wêreld onder ‘n wolk van somberheid sit, sal die getuienisse van God se mense van pure blydskap wees. Terwyl die fondamente van die sameleweing uitgeruk word, sal volgelinge van Jesus gesien word waar hulle God prys te midde van die ashoop, terwyl hulle hulp en hoop aanbied aan diegene in hulle grootste nood.

Hierdie manifestasie van blydskap is nou meer as ooit nodig. Dag na dag hoor ek God se mense sê, “Is dit al wat daar is tot die Christen wandel? Moet ons altyd fokus op lyding en beproewing? Praat die Here nie meer nie? Maak Hy nie steeds gesond nie? Moet ons nie antwoorde verwag wanneer ons bid nie? Waar is die wonderwerke wat sy Woord belowe?”

Laat my ‘n baie eenvoudige reaksie op hierdie vrae gee: Wonderwerke en genesings word moontlik gemaak deur die krag van die Heilige Gees. Die boek Handelinge vertel ons dat Stéfanus ‘n man “vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen” (Handelinge 6:8). As ons eerlik teenoor die Here is, sal baie van ons moet erken dat ons moed verloor het vir sulke geloof.

In menigtes van Christene, is die vuur van die Heilige Gees aan die kwyn.

God kan nie antwoord waar daar geen geloof is nie. En Satan sal nie vlug waar daar vrees en ongeloof is nie. In werklikheid het ons misluk om ons Godgegewe gesag oor die duiwel en sy demoniese mag te neem. God se Woord vertel vir ons dat die vyand nie in beheer is nie. Dit is geskrywe dat ons mag oor hom het: “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Baie laat egter toe dat Satan oor hulle geloof stoomroller sonder dat hulle enige weerstand bied.

As dit jou beskryf, bied Maleági vir jou ‘n wonderlike woord: “En julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal” (sien Maleági 4:2). Wat ‘n wonderlike woord aan die mense van God in die laaste dae. Maleági sien gelowiges as kalwers wat in ‘n stal gehou word. Die Hebreeuse wortel woord vir “stal” beteken hier “vasgebind,” “terwyl hulle heeltyd in die rondte loop.”

Het jy al ooit dartelende kalwers wat in ‘n stal toegemaak is, gesien? Hulle gaan in die rondte, skop en maak geraas. Kry jy die prentjie wat Maleági vir ons wil gee? Satan het daarin geslaag om ‘n menigte van gelowiges in klein stalle op te sluit. Hy het hulle uitgesluit gehou van Christus se groen weivelde, weg van die koel verfrissende water. Beskou:

  • Sommige Christene is beperk tot ‘n stal van hopeloosheid. Hierdie gelowiges is tot die dood toe verveeld en staan elke dag op om net sirkels te loop in hulle klein wêreldjie. Hulle is vasgevang in ‘n gees van slawerny — van self, materialisme, hulle eie behoeftes — sonder ‘n druppel blydskap. Baie sulke Christene het moed verloor om ooit vry te wees. Hulle sug terwyl hulle die vorige tye onthou waarin hulle in die Here gejuig het. Nou wonder hulle heeltyd, “God, waar is U?”
  • Sommige Christene is opgesluit in ‘n stal van bitterheid. Die Bybel sê bitterheid is ‘n dodelik gif, en noem dit die “gal van bitterheid.” Ek moet hier ‘n waarskuwing uitstuur, in Christus se liefde: as jy ‘n enkele wortel van bitterheid het – as jy enige rasse vyandigheid, enige onvergewensgesindheid, enige “regverdige” wrok het — is jy in slawerny van ongeregtigheid. En as jy in hierdie slawerny bly, sal jy beperk wees tot ‘n stal. Jy sal in vrees lewe, ‘n hardnekkige kalf, en jy sal in ‘n geestelike dood beland.

Ander beperkende stalle kan hier genoem word: ongeloof, wanhoop, onbeteuelde vrees, verslawende sondes. Dit maak nie saak wat jou beperkings mag wees nie, die werklikheid is dat ons nie ons eie stalle kan oopmaak nie. Ons kan onsself nie van vrees of wanhoop of ongeloof deur ons eie menslike krag verlos nie. Eenvoudig gestel, ons het ‘n vars invulling van die Heilige Gees nodig. Geliefde, ek dring by jou aan: moenie nog ‘n dag voortgaan waarin jy tevrede is met dinge soos dit is nie. Die Here gee sy Heilige Gees aan hulle wat vra. En jou vrylating moet deur geloof kom. Wanneer God belowe, “Julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal,” beteken dit meer as vrylating uit aanhouding. Wanneer Hy die hek van ons stal oopmaak, sal ons daar uitspring met blydskap. Daar sal nie langer ‘n wolk van somberheid oor ons hang nie, maar ons sal vrygelaat word in ‘n wandel van hoop, vryheid en oorvloedige lewe.

In hierdie dae van onsekerheid en somberheid, sal diegene wat uit hulle stalle verlos is, die getuienis van God se krag wees. Hulle sal gesien word waar hulle juig om die Seun te sien verskyn. God se ewigdurende belofte aan sy mense sal vir almal duidelik wees.

Ons het ‘n deel om te doen om van ons stal verlos te word.

Die Heilige Gees word slegs gegee aan hulle wat vra. Bid vir die Heilige Gees om die vuur terug te bring, om jou geloof te vernuwe en om jou nader aan sy hart te bring.

Blydskap is die vrug van die Heilige Gees. As God se mense, moet ons hardop sing en juig in die Here. Ons moet Hom prys, of ons daarna voel of nie. Die Skrif sê God woon in ons lofgesange.

Jy mag beswaar maak, “Maar dit is skynheiligheid om te spring van blydskap wanneer jy nie daarna voel nie. Daardie soort blydskap beteken niks wanneer jy depressief is en ly.”

Luister na Maleági: “En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die HERE van die leërskare” (Maleági 4:3). Die oomblik wanneer jy jou vrylating aanvaar — wanneer jy deur geloof uit jou aanhouding stap — sal jy die duiwel op die vlug laat slaan. Demone sal vlug. Maak nie saak watter nuus die wêreld bring nie, maak nie saak watter verdrukking of moeilikheid kom nie, God se Woord bly waar. Jy kan ‘n vars nuwe invulling van die Heilige Gees kry, terwyl jy soos ‘n kalf uit die stal spring.

Ek laat jou met heerlike woorde van hierdie belofte:

  • “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere” (Jesaja 51:3).
  • “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het...om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE...om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat  hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking” (Jesaja 61:1–3).