‘N TOENEMENDE HEERLIKHEID

David Wilkerson (1931-2011)

"En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor” (Markus 4:24).

Jesus het geweet hierdie woorde sou vreemd klink vir nie-geestelike ore en daarom het Hy sy boodskap voorafgegaan deur te sê, “As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor” (Markus 4:23). Hy het in wese vir ons gesê, “As jou hart oop is vir God se Gees, sal jy verstaan wat Ek vir julle te sê het.”

Wat presies sê Jesus in hierdie gedeelte? Hy praat van die heerlikheid van God in ons lewens – dit is, Christus se geopenbaarde teenwoordigheid. Die Here skenk sy heerlike teenwoordigheid in verskillende mates, of dit nou aan kerke of aan individue is. Sommige ontvang niks van sy heerlikheid nie, maar ander ontvang egter ‘n toenemende mate, wat uit hulle lewens en kerke straal in groterwordende hoeveelhede.

God het belowe om sy Gees op sy mense uit te stort in die laaste dae. Trouens, die hele Skrif dui op ‘n triomfantlike, glorieryke kerk aan die einde van die tyd. Jesus self het gesê die poorte van die hel sal nie sy kerk oorweldig nie, so dit maak nie saak hoe ernstig Satan sy tande wys nie, hy kan God se werk nie keer nie. Jesus het sy byt weggeneem!

Paulus het geskryf, “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus” (Efésiërs 4:7). Elkeen van ons is ‘n mate van God se Gees gegee volgens sy goddelike toebedeling. Paulus skryf, “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om meer besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3).

Wat is God se doel daarin om sy Gees – sy heerlikheid en teenwoordigheid – toe te bedeel aan ons in verskillende mate? Hy doen dit met een doel: “Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis an die Seun van God” (Efésiërs 4:13).