‘N ROTSVESTING IN TYE VAN BENOUDHEID

David Wilkerson

Opregte Christene het my al gevra, “Wie glo ons? Oor die jare het ek die werke van baie bedienaars, wat oortuig was dat die einde naby was, gelees. Oor en oor was hulle egter verkeerd. Ek dink sommige het net probeer om ‘n boek te verkoop, terwyl ander werklik gedink het dat God vir hulle gesê het dat die einde op ons is.”

Met tye is ek heeltemal gebroke voor God en roep hardop uit tot Hom, “Here, vir baie jare lank preek ek dat oordeel voor die deur is. Ek het waarskuwings gerig oor ‘n komende ekonomiese krisis, maar ek sien slegs die teenoorgestelde gebeur. Ek sien Amerika floreer en gelukkig voortgaan op sy pad, terwyl ons land baba’s in die baarmoeder doodmaak en afgly tot in putte van ongelooflike onreinheid, terwyl ons U uit elke instelling verwyder. Hoe lank, Here?”

Jeremia het jarelank getrou geprofeteer van gebeure wat nog nie vervul was nie. Hy het uitgeroep, “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my. Want elke keer as ek spreek, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! – omdat die woord van die HERE vir my ‘n smaad en spot geword het die hele dag” (Jeremia 20:7-8).

Maar Jeremia kon nie ophou om God se volk te waarsku nie. Selfs al het dit gelyk of sy profesië ongegrond was, het hy aangehou profeteer. Ek voel dieselfde vuur, wat Jeremia gevoel het, in my siel brand en ek is meer oortuig as ooit God het “Sy aangesig gerig” teen hierdie land vir sy bloedvergieting en arrogansie teen Sy Naam, en Sy oordeel is op hande!

Aan die ander kant, dank ek God egter vir die talle beloftes wat Hy vir ons in Sy Woord gegee het om Sy mense te beskerm en te seën in en deur al die storms. God se biddende kinders hoef nie te vrees nie, en ook nie bekommerd en angstig te wees nie.

“So is die HERE dan ’n rotsvesting vir die verdrukte, ’n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!” (Psalm 9:10-11).