‘N OPROEP OM ONS HARTE OP GOD TE RIG

David Wilkerson (1931-2011)

Jeremia die profeet was ‘n man wat sy hart daarop gerig het om die Here te soek en die Woord van God het tot hom gekom. Weer en weer lees ons van die profeet, “Die woord van die Here het na Jeremia gekom.”

Baie verklaarders noem Jeremia die wenende profeet en dit is sekerlik waar van hom. Maar hierdie man het ook vir ons die gelukkigste, mees prysenswaardige evangelie in die hele Ou Testament gebring. Hy het immers die koms van die Nuwe Testament voorspel: “En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie” (Jeremia 32:40). “En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die HERE” (31:14).

Nou, dit is goeie nuus! Die Nuwe Testament is vol barmhartigheid, genade, blydskap, vrede en goedheid. Maar, die geskiedenis agter al Jeremia se woorde hier, sluit ‘n diep gebrokenheid in. Jeremia het geskryf, “o My ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu” (4:19).

Jeremia het geween met heilige trane, wat nie sy eie was nie. Trouens, hierdie profeet het werklik God hoor praat van sy eie gebroke hart. Eerstens, die Here het Jeremia gewaarsku dat hy oordeel oor Israel sou bring. Toe het Hy aan die profeet gesê, “Ek sal geweeg en geklaag aanhef oor die berge en ‘n klaaglied oor die weivelde van die woestyn” (9:10). Die Griekse woord vir klaaglied hier, beteken ween. God self het geween oor die oordeel wat oor sy mense sou kom.

Die Here deel met ons sy hart en gedagtes. Ons leef tans in lewe-en-dood tye en ek spoor jou aan om jou hart daarop te rig om God te soek met alle ywer en vasbeslotenheid. Gaan dan na sy Woord met toenemende liefde en begeerte. Hy sal getrou wees aan sy Woord en jou lei in alles wat Hy aan jou wil openbaar.