‘N OPENBARING VAN SY HEERLIKHEID

David Wilkerson

Dit is ‘n wonderlike ding om kwaliteit tyd met die Here te hê. Hy belowe dat as jy meer intimiteit met Hom soek, sal Sy teenwoordigheid uitbars in jou lewe, en Sy goddelike orde oral rondom jou bewerkstellig. Iets groter as dit sal egter gebeur: Die aanhoudende najaag van God se teenwoordigheid, sal jou lei na ‘n openbaring van Christus se heerlikheid.

Moses het God gesoek vir ‘n manifestasie van die Here se teenwoordigheid  “dat ek U kan ken” (Exodus 33:13). “Ek [sal] self meegaan om jou die rusplek te verskaf” (Exodus 33:14).

Moses se versoek hier, sou genoeg wees vir die meeste Christene. Wie onder ons wil nie God se beloofde rus en vrede hê nie? Wat meer kan iemand begeer? Om die versekering van God se teenwoordigheid te hê, was egter nie genoeg vir Moses nie. Hy het geweet daar was meer en het geroep, “Laat my tog u heerlikheid sien” (Exodus 33:18).

En God het vir Moses sy heerlikheid gewys!

Die Here se heerlikheid het nie verskyn in een of ander blink wolk of in ‘n aardskuddende vertoning van krag nie. In plaas daarvan, het God Sy heerlikheid uitgedruk in ‘n eenvoudige openbaring van Sy natuur: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtighede en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6–7). Sien jy? God se heerlikheid was ‘n openbaring van Sy goedheid, barmhartigheid, liefde en deernis.