‘N OPENBARING VAN JESUS SE WERK

David Wilkerson (1931-2011)

God het vir sy kinders ‘n heerlike rus belowe wat vrede vir die siel insluit. Ongelukkig het baie Christene geen begrip van wat dit beteken om te rus in hulle verlossing nie. Hulle besit nie die vrede wat tot alle Christene se beskikking is in Jesus Christus, die vrede wat hulle deur enige storm kan dra nie.

Jesus het gesê, “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jule sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Christus sê baie eenvoudig vir ons, “Moenie probeer om saam met My ‘n pad te stap as jy nie rus in jou siel het nie.” En hoe betree ons hierdie rus waarvan Jesus praat? Ek glo die sleutel lê in drie woorde wat Hy gespreek het: Leer van My.

Jesus praat nie hier van blote kopkennis nie; Hy praat van die dissipline van leer wie Hy is en wat Hy aan die Kruis bewerkstellig het. Hy sê in wese, “Jy moet verstaan wat Ek vir jou gedoen het om jou siel tot rus te laat kom.”

“Maar ek lees my Bybel en bid elke dag ‘n bietjie. Ek probeer hard om beter te doen!” Dit is nie genoeg om harder te probeer en beloftes aan God te maak nie. Dit gaan alles daaroor om ‘n openbaring van wat Jesus aan die kruis gedoen het, ná te strewe. En dit verg dissipline! Dink aan die dissipline verbonde aan die word van ‘n dokter, ‘n onderwyser, ‘n bedienaar, ‘n verpleegster. Enige loopbaan of roeping verg ernstige studie en moeite en dieselfde is waar wanneer dit daarby kom om Jesus werklik te dien soos wat ons moet.

Besluit in jou hart om jouself daarop toe te spits om Hom ywerig te soek! Neem die tyd en doen moeite om waarlik van Hom te leer sodat jy in dieper gemeenskap met jou Verlosser kan lewe.