‘N OPENBARING VAN JESUS SE KRAG

David Wilkerson

Die apostel Paulus het vir die kerk by Éfese gebid, “Sodat julle kan weet...wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efésiërs 1:18-19).  Paulus het in wese gesê, “Mag God nie net Christus se vorige grootheid aan julle openbaar nie, maar ook sy huidige grootheid.”

Die kerk het groot eerbied vir die Jesus wat op die aarde gewandel het – die Galiliër, die seun van Maria, die Meester en wonderwerker. Ons word nooit moeg om van die grootheid van Jesus Christus van Nasaret te hoor en te vertel nie.

Ons hou daarvan om onsself te herinner hoe hierdie Jesus duiwels uitgedryf het en allerhande versoekings kragtig weerstaan het. Hy het blinde oë geopen, dowe ore oopgemaak, kreupeles laat opspring, verdorde hande herstel en melaatses gesond gemaak. Hy het water in wyn verander, menigtes gevoed met net ‘n paar broodjies en vissies, en op meer as een geleentheid het Hy die dooies opgewek.

Op ‘n stadium in die geskiedenis, het Christene egter die huidige krag van ons groot wonderwerkende Verlosser begin beperk. Die kerk het ‘n teologie ontwikkel wat Christus die God van die geestelike gemaak het, maar nie van die natuurlike nie.  Ons ken Hom dikwels nie as Here van ons daaglikse sake, as God van ons huis, ons kinders, huwelik, werk en rekeninge nie.

Paulus sê vir ons dat ons ‘n openbaring van Jesus se krag nodig het, vanwaar Hy aan die regterhand van God sit, met al die krag in die hemel en op die aarde aan wat aan Hom gegee is. “(God) het alle dinge onder sy voete gestel” (Efésiërs 1:22). Terwyl ek hierdie gedeelte gelees het, het die Heilige Gees my hart aangeraak met ‘n kragtige waarheid: “Jesus was nog nooit kragtiger as op hierdie oomblik nie.” Verder, volgens Paulus, is Christus, “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Efésiërs 1:21).