‘N OORWINNINGSLEWE VAN VREUGDE

Gary Wilkerson

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles was rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:4-8).

Waarop fokus jy regtig? Raak jy verstrengel in die mees gebroke ding in jou lewe, of konsentreer jy op daardie een deel van jou lewe wat nie goed funksioneer nie? As ons nie versigtig is nie, kan ons ons kwel oor een probleem en vergeet van al die mooi dinge wat God doen.

‘n Paar jaar gelede, het ek en my vrou ‘n nuwe kar gekoop. Dit was so stil en ek het dit geniet om daarmee te ry. Eendag het ‘n klippie van die sypaadjie af opgevlieg, my windskerm getref en dit effens beskadig. Ek het uitgestel om dit reg te maak en bietjie vir bietjie het die klein gaatjie groter geword, en kort voor lank was dit al waaraan ek kon dink. Elke keer as ek aan my mooi kar gedink het, het ek my gekwel oor daardie beskadigde windskerm wat net erger en erger geword het weens my nalatigheid.

Dit gebeur soms in ons lewe. Dinge wat veronderstel is om kosbare geskenke van God te wees, word verberg deur ‘n klein (of nie so klein) ergernis en ons begin murmureer, kla en vergelyk. Pleks dat ons in oorwinning en dankbaarheid lewe, word ons oorweldig deur die gebroke dele.

Paulus spreek dit hier aan, en gee ons opdrag om te oefen om ‘n oorwinningslewe van  vreugde en danksegging te leef, en te dink en te praat oor dinge wat rein en eerbaar en waardig is. Die heerlike resultaat is dat God van vrede met ons sal wees!