‘n Nasie Onder Misleiding!

In ‘n brief aan die Christene in Thessalonika, praat Paulus van ‘n toekomstige gebeurtenis wat hy “die dag van die Here” noem. Hy skryf:

“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereninging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is.

“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf” (2 Thessalonicense 2:1-3).

Sommige teoloë glo die “dag van die Here” waarna Paulus hier verwys, is die laaste oordeel. Ek glo egter saam met die meeste kundiges, dat Paulus hier praat van Christus se tweede koms. En Paulus verklaar dat Jesus se wederkoms nie sal plaasvind totdat twee dinge gebeur nie:

1. ‘n Groot afval sal plaasvind. Baie wat God eens geken het, sal afvallig word van die waarheid van die evangelie wat hulle ken.

2. Die Antichris, of mens van sonde, sal “geopenbaar” word.

Dit moet duidelik wees vir alle liefhebbers van Jesus dat ‘n “afval” reeds plaasvind. Talle gelowiges vandag, sowel as Christene reg deur die laaste paar dekades, het koud geword in hulle liefde vir God. Met dit in gedagte, wil ek graag fokus op Paulus se tweede punt – dat die dag van die Here nie sal kom, totdat die “mens van sonde geopenbaar is” nie.

Wat presies bedoel Paulus met hierdie frase? Sê hy Jesus sal nie terugkom totdat die Antichris gekroon is as wêreldheerser en ons almal sy identiteit ken nie? Ek dink nie so nie. Paulus het geweet dat Christus op enige oomblik kon terugkeer. Jesus self sê Hy sal kom wanneer dit die minste verwag word, in ‘n oogwenk.

Ek glo ons vind ‘n sleutel vir Paulus se bedoeling in sy gebruik van die woord “geopenbaar.” Die Griekse betekenis is hier “oopmaak.” Ek glo Paulus sê in wese, “Jesus sal nie kom totdat die Antichris se volle plan en agenda geopenbaar is, en die kerk daarvan bewus gemaak is nie.”

Natuurlik is die Antichris se plan reeds geopenbaar in die Skrif. Paulus verklaar, “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk...” (2 Thessalonicense 2:7). Hy sê dat ‘n geheime vorm van sonde, wat nou al aan die werk is, die Antichris sal inlei. Klaarblyklik, sal ‘n gees van ongeregtigheid oor die verlore mensdom neerdaal en mense se harte so kragtig in besit neem, dat die mens van sonde baie vinnig aan bewind sal kom.

Daar is egter ‘n ander betekenis vir hierdie frase, “verborgenheid van ongeregtigheid.” Dit kom van ‘n Griekse stamwoord wat “stille inisiasie” beteken. Paulus praat van ‘n geheime inisiasie in die kultus van die Antichris in – ‘n subtiele, demoniese invloed wat hy in sy eie tyd sien plaasvind het.

Tans is hierdie selfde geheimsinnige gees op volle verleidende krag en berei massas mense voor om die mens van sonde te ontvang. Duisende word daagliks, stil en in die geheim gebreinspoel om in hierdie kraal geïnisieer te word. En hierdie sataniese werk gebeur so vinnig en effektief, dat die mens van sonde aan bewind kan kom in die nie te verre toekoms nie.

Ons het nie nodig om een of ander fisiese openbaring van die Antichris te sien voor Jesus sal terugkeer nie. Sy sataniese gees word reeds gemanifesteer in duisende gebreinspoelde gelowiges!

Paulus sê die verborgenheid is eenvoudig dit: Satan gaan massas in die dieptes van wetteloosheid in verlei! Die Griekse woord wat Paulus vir ongeregtigheid gebruik in hierdie gedeelte, beteken letterlik, wetteloosheid. Daarom is die verborgenheid een van wetteloosheid – wat beteken dat menigtes gaan optree sonder wet of verhindering.

Hierdie wetteloosheid is nie bloot ‘n rebellie teen die heerskappy van die mens nie. Dit gaan nie daaroor om teen burgerlike gesag te rebelleer of om rowery, verkragting of moord te pleeg nie. Hierdie dinge ontlok God se toorn. Maar die verborgenheid van wetteloosheid gaan baie dieper. Dit is ‘n blatante verwerping van die waarheid wat in Christus is – ‘n verwerping van God se helige woord en gebooie. Dit is rebellie teen die beperkinge van die heilige Skrif!

Hierdie gees se wetteloosheid vier hoogty in ons nasie vandag. Dit is die mag agter die wetgewing, wat God uit ons samelewing wil verban. Die is dieselfde gees wat satan gebruik het om Eva te verlei. Hy het vir haar gesê, “God is toegeeflik – Hy sal jou nie straf vir ongehoorsaamheid nie. Jy kan die vrug eet en aan jou begeertes toegee. Jy hoef nie daarvoor te betaal nie!”

Dit was ‘n dodelike leuen uit die hel. En vandag gebruik Satan dieselfde leuen op Christene om sy verborgenheid van wetteloosheid verder te voer. Dag na dag, oortuig hy massas gelowiges dat hulle aan hul sondes kan oorgee sonder om enige straf te ontvang. Dit is ‘n demoniese skelmstreek om Christus se evangelie van genade te vedraai en dit in wetteloosheid te verander!

Dit is tragies dat talle louwarm Christene toegee aan hierdie gees van wetteloosheid. Sommige is reeds ingelyf in die kultus van die Antichris. Hulle is gereed om die mens van sonde te aanvaar wanneer hy op die toneel kom en wonderwerke doen en probleme oplos.

Jy mag dink, “Ek sal nooit om die bos gelei word deur die Antichris nie.” Maar Paulus sê die Antichris sal aan bewind kom, omdat mense verblind en mislei sal wees deur hulle eie sonde: “...volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thessalonicense 2:9-10).

Satan sal massas mense mislei deur hulle te oortuig van ‘n subtiele, maar kragtige leuen. Wat sal hierdie leuen wees? Hy sal die wêreld oortuig soos vir Eva: “God straf nie sonde nie!”

Paulus sê hierdie misleiding sal kom “...en met allerhande verleiding...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thessalonicense 2:10). Hy voeg dan by, “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Thessalonicense 2:11).

Die apostel sê in wese, “Diegene wat weier om God se woord te gehoorsaam of te respekteer, sal onder kragtige misleiding val. Eers sal hulle hul sonde oorsien. Dan sal hulle dit regverdig. Maar gou sal hulle met mening ‘n boodskap van maklike genade soek. Hulle sal ‘n genade uitdink wat verder strek as wat God bedoel het. Sy genade lei nooit tot toelating van sonde nie. Dit lei altyd tot bekering!”

Amerika is vandag onder die misleidende mag van ‘n sataniese leuen. Voor ek egter enigiets meer sê, weet asseblief dat ek nie hier praat as ‘n Demokraat of Republikein nie. Wat ek te sê het, het niks met politiek te doen nie – maar dit het alles te doen met geestelike waarheid. Ons nasie se leiers het in werklikheid God se woord heeltemal opsy geskuif en bewys geen eerbied vir Bybelse waarheid nie. En nou het die Here toegelaat dat misleiding oor ons kom!

Die demoniese leuen waaronder Amerika toegegooi is vandag, is valse vrede. Dit is die idee dat ons kan doen wat ons ook al wil sonder vrees vir die gevolge. Ons het reeds ‘n grens oorgesteek in hierdie misleiding – en nou is oordeel onafwendbaar.

Paulus verduidelik hierdie goddelike oordeel in Romeine 1. Hy praat van diegene wat eens ‘n Bybelse waarheid bewaar het, maar later die waarheid in ongeregtigheid onderdruk het. Kortliks, hulle wou terselftertyd God se woord en hulle begeertes hê. Daarom het die Here hulle oorgegee aan skaamtelose gedagtes. Hulle wou ‘n leuen glo – daarom het Hy ‘n sterk misleiding oor hulle gestuur!

Dit is die toestand waarin ons nasie huidiglik is. Die President het vir die hele land vertel, “Ek het nie hierdie sonde gepleeg nie,” maar later was hy ontbloot vir dieselfde daad wat hy genoem het. Vandag is tagtig persent van Amerikaners blind vir beide sy sonde en sy leuen en sê dit maak nie saak nie. Soos geprofeteer is, het die waarheid op die strate verlore gegaan.

Amerikaners dobbel op die aandelebeurs soos dronk matrose – en hulle is voorspoedig. Daarmee saam, sê ‘n meningspeiling dat vyf-en-sestig persent van kollege studente kul en dink daar is niks mee verkeerd nie. Mense van alle ouderdomme is ongeërg oor God se wette en dink, “Wat ek doen, moet oukei wees, want ek kom daarmee weg.”

Presies hierdie gesindheid het in die kerk ingesluip. Menigtes van Christene vandag kyk na R-gegradeerde video’s of swerf op die internet rond en gee toe aan pornografie. Eens sou hulle gewetes hulle geteister het. Maar nou redeneer hulle, “Al ons leiers kom daamee weg. Almal doen dit. Waarom kan ek nie?” Hulle het onder demoniese misleiding geval!

Dit is waar – ons hoor heeltyd leuens, toesmeerdery en manipulasie vanaf ons nasie se hoofstad. Maar die sterk misleiding waaronder ons nasie is, is nie bloot die smerige gemors in Washingtong DC nie. Nee, Satan se misleidende krag gaan veel verder as daardie troueloosheid en verdorwenheid. Sy groot leuen is ‘n uitstroming van die hel teen God se mense!

Paulus waarsku, “Want daar sal ‘n tyd wees hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels [leuens]” (2 Timótheüs 4:3-4).

Wie is hierdie misleide massas waarvan Paulus praat! Hulle is misleide Christene! Hy het hierdie brief geskryf aan die kerk van Thessalonika – aan wedergebore gelowiges! Hy het mense wat onder Bybelse lering gesit het en God se waarheid geken het, aangespreek. Hulle het egter aan hulle begeertes vasgehou – en nou het hulle gesoek na dwalinge, wat hulle in hul sondes sou sus!

Die goddeloses het nog altyd “gebrek gehad” aan die waarheid – hulle verag dit, vertrap dit en bespot dit met minagting. Ek het onlangs ‘n voorbeeld hiervan gesien in die New York Post, waar een skrywer selfvoldaan verklaar het, “Wetenskap het nou geloof vervang.”

Maar Paulus se groter kommer was altyd vir diegene wat die weg van die waarheid geken het en hulle geloof in Christus bely het, maar wat met sonde geflankeer het. Paulus skryf van diegene wat poog om die waarheid in ongeregtigheid te onderdruk – ‘n daad wat God kwaad maak. “Hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen...Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte...” (Romeine 1:25-26).

Ander wat in slawerny gehou word deur hulle begeertes en plesiere, wend hulle na valse leraars om vrede te probeer vind. Op die ou end aanvaar hulle “...verderflike ketterye...en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Petrus 2:1-2).

Al Paulus se boodskappe oor afvalligheid en die Antichris was gemik op vleeslike Christene. Hulle was nie bedoel vir afgodsdienaars van Rome, die heidene van Griekeland of die heidense stamme in onbekende plekke nie. Paulus se boodskap was een van groot belang vir die kerk – en hy het dit geskryf om gelees te word in die kerke, direk vir gelowiges!

Jy sien, Paulus het God se mense oral geroep om die waarheid lief te hê – om dit te soek, om dit te bestudeer en te gehoorsaam. Hy het in wese geskryf, “Laat die waarheid julle gids wees! Moenie daarvan af wegdraai nie. Vra die Heilige Gees om vir jou oë te gee om dit te sien, ore om te hoor en ‘n hart om dit lief te hê. Anders sal jy jouself oopmaak vir misleiding – en jy sal op die ou end ‘n leuen glo. Satan sal in staat wees om jou in die kultus van die Antichris in te lyf!”

Ek het hierdie soort misleiding onlangs gesien toe ek na video-opname van ‘n voorspoedsevangelie konvensie gekyk het. Ek kon skaars glo wat ek sien. ‘n Evangelis het vir die gehoor gesê, “Julle gaan almal dronk word vanaand!” – ek neem aan, dronk in die Gees. Maar gou het talle in die gemeente rondgestrompel soos letterlike dronkaards!

Die evangelis self was regop gehou deur twee assistente, wat hom voor die gemeente geparadeer het. Soms het hierdie man gesis soos ‘n slang. Ander in die gehoor het op die vloer rondgekruip en gehuil soos wilde diere of dubbel gevou van “heilige” lag.

Op een stadium het ‘n musikant begin sing, “Run for the money!” Die lied se lirieke het in wese gesê, “As jy hard en vinnig genoeg hardloop, sal jy ryk, ryk, ryk word!” Skielik het mense wild begin rondhardloop in die gebou en gesing, “Run to get rich!”

Verstaan asseblief baie goed – hierdie mense was nie onkundiges nie. Hulle was almal goed geklee en het gelyk of hulle intelligent was. Terwyl ek na hulle gekyk het, het ek gewonder “Wie het hierdie mense betower? Hoe kon hulle so ‘n dwase, onskriftuurlike gevangelie aanvaar?”

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die meeste van hulle eens onder ‘n boodskappe van ootuiging van sonde gesit het. Maar klaarblyklik wou hulle nie meer daardie eenvoudige evangelie hoor nie – en nou het hulle ‘n leuen gekoop. Hulle het ‘n begeerte na geld gehad –  ‘n gees van gierigheid – en daarom het hulle op die ou end hierdie voorspoedsprediker uitgekies. Hy sou hulle leer om beide God en mammon te dien!

Ek is oortuig hierdie mense sou kon luister na ‘n kragtige preek, wat hulle hele valse stelsel van geloof, sou openbaar – en tog sou hulle nie ‘n woord daarvan hoor nie. Hulle is oorgegee aan ‘n sterk misleiding – en hulle glo die duiwel se leuen! Paulus noem sulke misleide Christene, “...mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof” (2 Timótheüs 3:8). Hulle ken die waarheid, maar hulle verag dit!

Ek glo die Antichris gaan opdaag as die grootste voorspoedsprediker van alle tye. Hy sal sekerlik ‘n godsdienstige persoonlikheid wees, iemand wat gesondheid en rykdom beloof. En diegene wat tans gebreinspoel word deur valse leraars, sal op die ou end sy sterkte ondersteuners wees. Hulle sal hom aanvaar as ‘n ware man van God.

As jy dit nie glo nie, dink bloot aan die Skrif. Die Bybel sê dat in die laaste dae voor Jesus se wederkoms, sal Satan so ‘n oorweldigende stroom van verleiding bring, dat hy selfs die uitverkorenes sal probeer mislei, as dit moontlik was. Dit maak nie saak hoe lank ‘n Christen met Jesus gewandel het nie; hy sal versoekings beleef wat hy nog nooit in sy lewe gehad het nie. Selfs die sterkste gelowige sal versoek word om God se getrouheid in twyfel te trek en sy heilige woord te wantrou.

Paulus skryf vir die Galásiërs, “Julle het goed geloop; wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” (Galásiërs 5:7). “...wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie?” (Galásiërs 3:1). Die apostel het vir sy gemeente gevra, “Wat het met julle gebeur? Julle het so goed aangegaan. Maar nou is julle gebreinspoel!”

Regdeur die Skrif, gee God vir ons ‘n duidelike beeld van hoe belangrik dit vir ons is om sy woord te gehoorsaam. Ons sien een so ‘n voorbeeld in die lewe van koning Saul. God het vir Saul ‘n duidelike, spesifieke bevel gegee deur die profeet Samuel. Hy het Saul opdrag gegee, “Gaan nou en verslaan Ámalek, en die julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en perd” (1 Samuel 15:3).

Het Saul hierdie bevel van die Here gehoorsaam? Die Skrif vertel vir ons, “En Saul het die Amalekiete verslaan...En Agag, die koning van Ámalek, het hy lewendig gevang...Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was – dit wou hulle nie met die banvloek tref nie...” (1 Samuel 15:7-9).

God het sy woord vir Saul in kristalhelder terme gegee. Nadat Saul egter in die oorlog ingegaan het, het hy die Here net gedeeltelik gehoorsaam. Eerder om almal en alles te vernietig, het hy koning Agag gespaar – en hy selfs sommige van die buit van die oorlog gehou.

Samuel was baie bedroef hieroor. Hy het vir Saul gesê, “En die HERE het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle venietig is. Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?” (1 Samuel 15:18-19).

Op hierdie punt, gee die Skrif vir ons ‘n swaar, skokkende woord: “En die woord van die HERE het tot Samuel gekom en gesê; Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy van my afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie...” (1 Samuel 15:10-11).

Beskryf dit jou lewe? Het God vir jou in baie duidelike terme gesê om met ‘n sekere sondige gewoonte in jou lewe af te reken – maar het jy daaraan bly vashou en geweier om dit af te kap?

Tans mag sy Gees met jou spreek met ‘n vriendelike, toenaderende stem en sê, “Jou begeerte staan tussen ons en onderbreek ons gemeenskap. Ek kan jou nie meer seën terwyl jy daarmee volhou nie. Vertrou my Gees om jou te help. Lê dit nou af, my kind.” Maar binnekort mag God dalk woedend met jou praat en sê, “As jy nie jou begeerte gaan neerlê nie, sal Ek dit ontbloot – en dit sal jou lewe vernietig!”

God het Saul oor sy ongehoorsaamheid verwerp. Samuel het vir Saul gesê, “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Samuel 15:23).

Dit is toe God se Gees Saul verlaat het. Die koning se halfhartige gehoorsaamheid het hom oopgemaak vir Satan se invloed. Gou het ‘n bose gees vir Saul geteister – en hy het op die ou end raad by ‘n heks gaan vra.

Miskien wonder jy as jy die verhaal van Saul se lewe lees, “Maar Saul het sy bes probeer. En Hy het nie so sleg gedoen nie. Waarom was God so streng met hom? Waarom het Hy nie vir Saul vergewe nie?”

God sê vir ons in hierdie gedeelte dat Hy bedoel wat Hy sê! Hy sê in wese, “Ek wys vir jou hoe Ek voel oor jou ongehoorsaamheid aan My. Ek wil jou hele hart hê, al jou liefde – nie net halfhartige gehoorsaamheid nie!”

As die Here se boodskap vir Saul vaag of onduidelik was, sou ons geregverdig gewees het om te sê dat Hy ‘n toegewing vir Saul kon gemaak het. Maar sy leiding aan Saul was so duidelik; dat daar geen twyfel was oor wat Hy beveel het nie. Net so het ons vandag geen twyfel oor wat God vir ons gesê het nie. Ons weet wat sy gebooie is, omdat Hy dit aan ons geopenbaar het deur sy woord en deur sy Gees binne-in ons harte.

Jy mag antwoord, “Maar wat God aan Saul gedoen het, het onder die Ou Verbond gebeur, onder die wet. Ons leef nou in die tyd van genade. Die Here sal sekerlik nie so streng met ons wees wanneer ons ongehoorsaam is soos Saul nie.”

Hier is God se woord oor hierdie saak onder die Nuwe Verbond, ‘n genadeverbond:

“(God) wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek – die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is – grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek.

“Maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood eerste en ook vir die Griek. Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie” (Romeine 2:6-11).

Laat my vir jou die verskil tussen Saul in die Ou Testament en alle gelowiges onder die Nuwe Verbond uitspel: wanneer ‘n persoon waarlik ‘n begeerte het om God se gebooie te gehoorsaam – wanneer daardie persoon God se woord liefhet en respekteer – voorsien die Heilige Gees vir hom al die krag en vermoë om daardie gebooie te vervul. Dit is die geseënde voorsiening van die Nuwe Verbond.

Saul het nie daardie soort heilige begeerte gehad nie. Maar enige gelowige wat waarlik die Here en sy woord liefhet, is in staat om alle begeertes dood te maak en sonde se heerskappy te verbreek deur die krag van die Heilige Gees binne-in hom.

Paulus gee hierdie sterk woord van waarskuwing vir die gelowige: “En jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug?” (Romeine 2:3). Hy sê in wese, “Getuig jy dat jy ‘n Christen is en vertel jy vir almal om God se gebooie te gehoorsaam – maar jy self is in owerspel?”

“Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4). Paulus voeg by, “God was nog die hele tyd genadig met jou en het jou met goedheid en liefde hanteer. Besef jy nie al sy goedertierenheid, barmhartigheid en genade is bedoel om jou tot bekering te lei nie?”

Ek wil vir jou bo alle ander dinge sê: die Antichris gaan op die toneel kom as die grootste voorspoedsprediker in die hele geskiedenis. En die duiwel is reeds besig om halfhartige gelowiges uit te kies om in hierdie kultus ingelyf te word. Binnekort sal daar nie meer beperkinge op ons samelewing wees nie en Christene sal meer kwesbaar wees vir demoniese verleidings as ooit tevore.

Dit is presies wat met baie Duitse Christene in Hitler se dae gebeur het. Toe Hitler met sy charismatiese persoonlikheid en beloftes van die goeie lewe aan bewind gekom het,  het selfs louwarm Lutherane en Pinkster mense hom aanvaar. En later, toe hy sy boosheid op die samelewing begin werk het, het hulle ander pad gekyk en die waarheid van God se woord verwerp.

Natuurlik het daar kragtige stemme vir die evangelie opgerys in daardie kerke. Maar ‘n skokkende aantal gelowiges het op die ou end vir Hitler gevolg en hom selfs geloof en geroep, “Heil Hitler!” Hulle het die leuen gekoop – en God het hulle onder sterk misleiding geplaas!

Ek vra vir jou: Sit jy onder sterk prediking wat jou sonde liefdevol openbaar? As dit so is, laat jy toe dat daardie woord jou oortuig? Of gaan jy reguit terug na jou begeertes toe terug sonder enige droefheid?”

As jy die waarskuwings van die Heilige Gees wat jou verhinder, verwerp – as jy God keer op keer ongehoorsaam is, sonder enige droefheid in jou hart – dan word jy gewerf vir die kultus van die Antichris. Die duiwel lyf jou stilweg in sy verborgenheid van ongeregtigheid in. En wanneer die beloofde, wonderwerkende Antichris kom, sal jy meegesleur word deur sy leuens en oorgegee word aan misleiding!

Luister na wat Paulus sê oor gelowiges wat standaarde verlaag en weier om God se heilige woord lief te hê en te gehoorsaam: “Sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:12). Wee aan diegene wat die waarheid ken oor hulle begeertes maar nie glo dat God hulle sal oordeel nie!

Hier is die onheilspellende gevolge van wanneer ons God se woord nie glo en doen nie:

  1. Die hart word verhard deur die verleiding van sonde.
  2. Satan werk op die verharde hart om homself te regverdig, sodat dit onthef word van alle vrees van straf.
  3. Wanneer God sien daar is geen kans dat hierdie hart waarheid sal aanvaar en gehoorsaam nie, gee hy daardie persoon oor aan sataniese misleiding.
  4. Die gelowige word verblind deur die leuen, wat sê daar is geen loon vir sonde en geen oordeelsdag nie en dat hy kan wegkom met sy sondige plesier.
  5. Die gelowige word ‘n slagoffer van leerstellinge van duiwels en dink kwaad is goed en goed is kwaad.
  6. Uiteindelik dryf hy so ver weg van Christus en die waarheid, dat hy blind word vir wie die Antichris is – en op die ou end aanbid en dien hy hom as ‘n god.
  7. Op die oordeelsdag, sal God vir so ‘n persoon sê, “Gaan weg van My af, jou werker van ongeregtigheid!”

Geliefde, dit hoef nie so te wees vir enigeen van ons nie. God het ‘n verbondsbelofte gemaak om alle misleiding van ons te verwyder en vir ons oorwinning oor sonde te gee, deur die krag van Christus se kruis. Al wat Hy vra is dat ons oorlog verklaar teen ons sonde en sê, “Ek sal nie vrede maak met hierdie gewoonte nie. Ek weier om daarin te bly. Verlos my, Vader, deur u Gees!” Wanneer Hy hierdie gebed hoor, sal Hy so ‘n Heilige Gees krag en heerlikheid uit die hemel stuur, dat die duiwel nie ‘n kans sal staan nie!

Bid nou dadelik dat God ‘n groot ontsag vir sy woord in jou sal plant. Vra Hom om jou te help om gedissiplineerd te wees om die Skrif te lees. En vra die Heilige Gees om jou te help om alles wat jy lees ter harte te neem – om te glo dat God bedoel wat Hy sê!